Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Soné bly sing ondanks pyn op ‘The Voice’

Agter daardie swaar voetstut wat Soné Joubert verlede Sondag gedra het toe sy die tweede plek in die eindronde van The Voice op M-Net behaal het, lê ’n verhaal van vasbyt waar menige ander jong vrou lankal sou opgegee het.

Soné Joubert se linkerbeen het verlam geraak terwyl sy besig was om regstreeks op The Voice se kompetisie te sing. Sy het nog steeds die tweede plek gewen. Foto: Elizabeth Sejake

Joubert se linkerbeen het vier weke gelede eenvoudig onder haar lam geraak terwyl sy besig was met ’n regstreekse vertoning in The VoiceSouth Africa.

Al wat sy op daardie oomblik kon doen, was om te fokus op haar ander voet, vertel Joubert (27), ’n assistent by ’n veearts in Gordonsbaai in die Kaap. Sy het letterlik met haar gewig op haar gesonde regtervoet haar liedjie klaar gesing. Sy kon voel hoe haar been opswel terwyl sy daar staan.

“Ek het die druk geïgnoreer en net aangehou sing soos wat ek van die begin af my liedjies geoefen het,” vertel sy. Dit was die begin van groot drama, wat haar die res van die kompetisie sou ry.

Iewers het ’n senuwee in haar rug vasgeknyp geraak. Haar ligamente en spiere is ook beskadig. Sy is steeds nie seker wat dit veroorsaak het nie.

Soné Joubert op die verhoog tydens The Voice. Foto: Cathy Pinnock

Vir drie weke kon sy skaars loop en van dans of spring soos die ander deelnemers gedoen het, was daar geen sprake nie. So pynlik was haar been dat sy gedurende al haar volgende optredes móés staan. Dit was te seer om selfs te sit en sing.

Sy moes elke dag fisioterapie kry en in dié stadium lyk dit asof dit nog ’n jaar sal duur voordat haar been heeltemal herstel het.

Maar as sy dit weer moes doen, sou sy nie twee keer gedink het nie. Haar oë blink steeds as sy praat oor die duet wat sy saam met Laurika Rauch gedoen het. Hulle het Laurika se treffer “Stuur groete aan Mannetjies Roux” gesing. “Dit was die grootste oomblik in my hele lewe. Ek luister Laurika se musiek al vandat ek baie klein was.”

Noudat die kompetisie agter die rug is, is sy uiteindelik vir die eerste keer terug by die huis nadat sy sedert Mei in Johannesburg was.

Haar meisie, Nadine Erasmus (26), het haar ten tyde van die laaste episode van The Voice in Johannesburg kom bystaan.

Riana Nel, haar mentor, sê Soné was seker die rustigste mens in die hele kompetisie. “Sy moes ses pynpille per dag sluk, maar die pyn het nooit haar glimlag van haar gesig weggevat nie.”

Riana het Soné in die uitklopronde uitgestem, maar toe stem die publiek haar terug.

“Jy sit met twaalf sterk sangers en jy moet van ses ontslae raak,” sê sy. “Jy maak regtig foute.”

Riana glo dis so bestem dat Soné met die kompetisie kon voortgaan.

Meer oor:  The Voice
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.