Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Steeds verlief op woorde

Sy wys maklik ’n rol van die hand, erken Lee-Ann van Rooi, want dis vir haar belangrik om stories van waarde te vertel. Deur Maretta Bellingan.

Die stralende Lee-Ann van Rooi.

Lee-Ann weet nie of sy kom of gaan nie. Dit verg fyn beplanning om ’n geselsie by haar bedrywige program in te pas en sy waarsku dat ons vinnig sal moet praat, want sy moet haar dogter by die skool gaan oplaai.

Die 46-jarige ma en aktrise lag wanneer ek haar herinner aan ’n vorige gesprek toe sy my vertel het van die dag toe sy as jong skoolkind verwilderd by haar ma se werk opgedaag het.

“Ja nè, those were the days, die kinders van vandag het ’n veel makliker lewe, maar hulle stoei weer met ander kwessies wat ons nie geken het nie.”

Lee-Ann was ’n jong tiener toe sy eendag in 1985 uitasem by haar ma instorm nadat die skool weens onluste gesluit het.

Ek was Rochelle, die sexy een met die stywe rokke en die hoë hakke. Daai rol het my beslis op die map gesit, maar dit het my ook amper genees van toneelspel.

“Ek was bitter ontsteld en het geen benul gehad wat aangaan nie. ’n Tannie het Vaseline aan ons gesigte gesmeer sodat die rook nie ons oë brand nie.”

Lee-Ann se ma het onmiddellik vir haar plek in ’n private skool in Constantia bespreek en haar vingers stomp gewerk sodat haar dogter in ’n veilige omgewing kon skoolgaan. Dis by hierdie einste skool waar die jong Lee-Ann spraaklesse geneem en op woorde verlief geraak het.

Vandag is Lee-Ann natuurlik ’n bekroonde en gevestigde aktrise en haar druk program getuig daarvan.

Besige bytjie

Sy was die laaste paar maande te sien in Ons is almal freaks hier, ’n stuk wat die storie van Saartjie Baartman vertel. In Kinnes, wat handel oor mense op die Kaapse Vlakte en hul stryd om oorlewing, vertolk sy die rol van die ma van ’n bendelid.

“Ek het so ’n paar jaar gelede besluit ek sal graag meer regie wil doen, want ek was effens verveeld en wou iets nuuts pak. Dis hoe Rokkie, ’n eenmanstuk met Charlton George in die hoofrol, op my pad gekom het.

“Ek het ook die regie van Liefde is rooi, wat op verskillende feeste aangebied is, behartig.”

Meer onlangs was sy te sien in Onder die Suiderkruis, ’n reeks op SABC2 waarin sy die rol van ’n onderwyseres vertolk.

“Vir ’n verandering is ek deel van ’n alledaagse gesin,” lag sy, “Dank Vader, ek speel gewoonlik hierdie hardgebakte karakters wat op ’n mission is of wat lieg en steel, soos Maggie in Sara se geheim.

“Die liewe Mary in Suiderkruis dra selfs ’n trui, sy’s ’n vaal karakter, amper ’n bietjie uit die oude doos.”

Ek is mal oor my beroep, maar soms wens ek ek kan iets anders doen, want dis ’n werk wat jou lewe kan oorneem. Dit is hoekom dit vir my so belangrik is dat ’n rol interessant moet wees en dat die stuk ’n goeie draaiboek moet hê.

Dis veel anders as die rol waarmee sy haar loopbaan in die gewilde Fishy Feshuns begin het.

“Ek was Rochelle, die sexy een met die stywe rokke en die hoë hakke. Daai rol het my beslis op die map gesit, maar dit het my ook amper genees van toneelspel,” erken sy.

“Die reaksie was oorweldigend. Ek’s nie iemand wat van baie aandag hou nie. Mense het my sommer getakel in die supermark, my hare getrek en my boud geknyp. Dit het my regtig uitgefreak en ek het sommer die pad gevat.

“Ek is ’n gebore reisiger en is mal daaroor om vreemde plekke en kulture te beleef. Ek het eers deur Maleisië en Singapoer getoer en toe amper vier jaar in ’n hotel op ’n eiland in Thailand en ’n jaar in Bangkok gewerk.

“My ouma het ernstig siek geword en ek het teruggekom, eintlik maar net om te kom kuier. Ek kon ook sien hoe dinge in die land verander het.

“ ’n Mens kan ongelukkig nie vir ewig swerf nie, hoe lekker dit ook al is. Toe hulle my in 2003 nader om in Fishy Feshuns 2 op te tree, het ek besluit dis dalk tyd om toneelspel weer ’n kans te gee.

“Dit was half die laaste keer dat ek komedie gedoen het en ek mis dit. Ek is mal oor komedie, maar dit moenie platvloers wees nie. Die dialoog moet slim wees en jy kry dit maar selde.”

Ek wonder self soms wat de josie doen ek, miskien moet ek ’n sekretaresse word. Maar dan gryp ’n storie of karakter my en ek is van voor af verlief op die woord.

Opvoedkunde eerste liefde

Sy’t nooit regtig gedroom van ’n loopbaan as aktrise nie en het gedink sy sal eendag iets met haar hande doen.

Ná skool het Lee-Ann ’n dramagraad en ’n onderwysdiploma aan die Universiteit van Kaapstad verwerf.

“Die opvoedkunde is beslis my eerste liefde en ek het ’n tyd lank skoolgehou voordat ek die toneelwêreld aangedurf het.

“Ek het regtig ’n groot passie vir die onderwys, maar was nuuskierig om nuwe dinge te beproef en hier is ek steeds, 25 jaar later.

“Ek is mal oor my beroep, maar soms wens ek ek kan iets anders doen, want dis ’n werk wat jou lewe kan oorneem. Dit is hoekom dit vir my so belangrik is dat ’n rol interessant moet wees en dat die stuk ’n goeie draaiboek moet hê.”

Dis juis hoekom sy die twee eenvroustukke Woman Alone, die storie van ’n verpleegster wat in Saoedi-Arabië gevange gehou word, en Henriëtta with Love, wat gaan oor ’n vrou wat haar gesin in ’n ongeluk verloor, gepak het.

“Dit is vir my as aktrise baie belangrik dat ek ’n storie vertel wat die moeite werd is.

“Ek sal maklik ’n rol van die hand wys wat nie aan my vereistes voldoen nie, dan eet ek maar Jungle Oats vir die res van die maand,” sê die aktrise wat vir albei haar kragtige vertonings in Bidsprinkaan en Rondomskrik bekroon is.

In Die Boekklub het sy die rol vertolk van Gerwin, ’n onderwyseres wat sukkel om die mans­geslag uit te pluis, maar in die werklike lewe is Lee-Ann al 11 jaar getroud met Jurie en hulle is die ouers van die tienjarige Eve Marie.

“Ek dink nie sy’s ’n akteur nie, sy’s ’n sagte, stil kind. Sy sê altyd vir my: ‘Mommy, you’re too loud.

“Ek wonder self soms wat de josie doen ek, miskien moet ek ’n sekretaresse word. Maar dan gryp ’n storie of karakter my en ek is van voor af verlief op die woord.”

Meer oor:  Lee-Ann Van Rooi  |  Vermaak  |  Sarah Se Geheim  |  Die Boekklub  |  Celebs  |  Profiel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.