Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Sussexe se toer in Suider-Afrika ‘2019 se duurste’
Prins Harry en sy vrou, Meghan, se swanesang-toer na Suider-Afrika was die duurste koninklike toer in 2019. Foto: Getty Images

Al het prins Harry en Meghan se swanesang-toer na Suider-Afrika Britse belastingbetalers £245 643 gekos, het hulle hard tydens die toer gewerk.

Die koste van dié toer – die duurste toer op die koninklike boeke in 2019 – was Vrydag groot nuus nadat die koningin se finansiële verslae Donderdag uitgereik is.

Harry en Meghan het tydens die toer meer as 20 openbare verpligtinge in tien dae nagekom. Hulle het die kollig op klein en groot liefdadigheidsorganisasies laat val – van die teenlandmynveldtog in Angola, die bekamping van geslagsgeweld, bewaring en kindervoeding tot die Distrik 6-museum in Kaapstad.

Belangstelling in die koste van die toer, wat op versoek van die Britse departement van buitelandse sake geskied het, is groot weens die Sussexe se besluit vroeër vanjaar om buite die koninklike familie hul heil te soek.

Sussexe betaal sommer die huur vooruit

As niewerkende koninklikes is hulle ná einde Maart vanjaar nie meer geregtig op ’n pond of pennie uit die koninklike toelae nie.

Harry en Meghan het hulle nou in Amerika gevestig en onlangs ’n kontrak van meer as £100 miljoen met die stromingsdiens Netflix gesluit.

Dit het hulle in staat gestel om die huur van Frogmore Cottage, hul Britse tuiste, vir ’n paar jaar vooruit te betaal en ook die £2,4 miljoen terug te betaal wat hulle aan Britse belastingbetalings verskuldig is vir die opknapping van die huis.

Prins Harry neem in September 2019 ’n foto van kremetartbome in die Liwonde- nasionale park in Malawi. Hy het op sy deel van die toer na Suider-Afrika die kollig laat val op omgewingsbewaring en die stryd teen landmyne. Foto: SussexRoyal, versprei deur Getty Images
Swanesang-toer

Die toer van byna ’n kwartmiljoen Britse pond na Suid-Afrika, Botswana, Angola en Malawi, was die Sussexe se eerste en laaste koninklike toer as gesin. Hulle het hul eersteling, Archie, saamgebring en die wêreld kon sien hoe die kleinding lyk toe hulle emeritusaartsbiskop Desmond Tutu besoek het.

Meghan se klerekas tydens die toer is deur prins Charles betaal, soos hy ook doen wanneer Catherine, hertogin van Cambridge, Brittanje op amptelike besoeke oorsee verteenwoordig.

Die koste sluit benewens die paartjie se reise tydens die toer ook dié in van hul span, asook die spanlede wat maande voor die toer al die lande sou besoek het om reëlings (ook vir veiligheid) te tref.

Die bitter pil
Die Range Rovers waarin prins Harry en Meghan in Suid-Afrika vervoer is, is spesiaal van Brittanje na Suid-Afrika gebring vir die koninklike toer omdat plaaslike voertuie nie voldoende veiligheid kon bied nie. Die voertuie is op Jaguar Land Rover se koste na Suid-Afrika gebring en het Britse belastingbetalers nie ’n sent gekos nie. Foto: WireImage

Harry en Meghan se aankondiging op die laaste dag van die toer dat sy Associated Newspapers dagvaar vir onder meer kopieregskending, het egter ’n wrang smaak in die mond gelaat.

Tydens die toer het hulle ook onderhoude aan Tom Bradby van ITV toegestaan waarin hulle hul ongelukkigheid met die fel media-aandag, die genadelose Britse poniepers en die koninklike familie te kenne gegee het.

Hoewel die dokumentêr eintlik oor hul besoek moes gaan, was die twee se emosiebelaaide erkenning van hul ongelukkigheid tussen die paleismure die voorloper vir hul aankondiging in Januarie dat hulle terugstaan as senior koninklikes.

Die paartjie het gehoop om finansieel onafhanklik van die koninklike toelae te wees en steeds hul werk as koninklikes voort te sit, maar koningin Elizabeth het haar voet neergesit. Hulle kon finansieel onafhanklik wees, maar nie meer hul pligte as senior lede van die koningshuis in ’n amptelike hoedanigheid voortsit nie.


Pandemie knou koningin se geldkoffers 

Koningin Elizabeth se geldsake is ook deur die koronaviruspandemie geknou. Foto: Getty Images

Die koronaviruspandemie het die koningin se geldkoffers met ’n tekort van £35 miljoen gelaat, het die Buckinghampaleis aangekondig met die bekendmaking van haar geldsake.

Weens die sluiting van die Windsorkasteel (soos ander toeristebestemmings) gaan die inkomste daaruit oor die volgende drie jaar £5 miljoen per jaar minder wees.

Die koningin gaan ook £20 miljoen minder kry vir die omvattende opknappingswerk wat oor ’n tydperk van tien jaar aan die Buckinghampaleis gedoen word.

Deur besparingsmaatreëls toe te pas is die begroting van die restourasiewerk nou van £369 miljoen tot £349 miljoen verminder.

Die Britse regering gee jaarliks aan die koningin ’n toelae wat gebruik word om die koninklike familie se reiskoste, die instandhouding van paleise en hul personeel se salarisse te dek.

Die toelae beloop gemiddeld 15% van die wins wat die kroon uit die inkomste van sy omvangryke eiendomsportefeuljes aan die staat betaal.

Die koninklike toelae vir 2019-’20 was £82,4 miljoen.

Die begroting vir die tien jaar lange restourasiewerk aan die Buckinghampaleis word met £20 miljoen verminder, is in die finansiële verslag oor die koningin se geldsake bekend gemaak. Foto: Getty Images

Meer oor:  Sussexe  |  Meghan  |  Prins Harry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.