Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Talent in ‘Voice’ is ongelooflik

Riana Nel is een van die nuwe afrigters in die derde reeks van M-Net se musiekprogram The Voice SA, wat verlede Sondag 17:30 begin het. Sy antwoord Terésa Coetzee se vrae oor dié nuwe rol in haar lewe.

Riana Nel in die rooi stoel as een van die nuwe afrigters van The Voice SA. Foto:

Hoe het jy as ’n afrigter op The Voice SA beland?

Ek is al jare ’n groot aanhanger van The Voice en het nog altyd in my hart gedink dat ek ’n goeie coach sal kan wees. Ek het vir ’n jaar 21 studente gehad voordat ek net te besig geraak het met my eie loopbaan. So, ek het gedroom om in daardie stoel te kan sit. Dis ’n groot eer as M-Net dink jy sal dit kan doen! Ek het nie eens twee keer gedink nadat ek gekontak is nie. Dit was dadelik ’n “ja”. Ná 19 jaar in die musiekbedryf voel ek daar is baie om te deel met ander!

Het jy die vorige twee The Voice SA-reekse gevolg? Wie was jou gunstelingafrigters?

Ek het beslis en Karen (Zoid) was my gunsteling! Sy is veelsydig in haar musiekkennis en sy weet waarvan sy praat. ’n Mens leer makliker van iemand vir wie jy respek het.

Het jy Zoid in hierdie nuwe reeks vervang? Hoe voel dit om in haar spore te volg? Wil jy graag soos sy wees of gaan jy juis probeer om jou eie stempel af te druk?

Ons het niemand spesifiek vervang nie. M-Net en die produksiespan wou net hierdie seisoen van The Voice SA ’n nuwe flavour en energie gee met ’n nuwe paneel.

Na watter soort talent is jy op soek vir hierdie reeks? Watter genre sal jy die graagste wil afrig?

Ek hoop vir oorspronklike talent wat kan skryf. ’n Stem wat uitstaan tussen die res. Ek geniet enige genre en voel gemaklik om ’n man of ’n vrou af te rig. Min mense weet dat ek vir ’n klomp verskillende kunstenaars skryf en dit het my geleer om te dink soos iemand anders. Ek probeer myself in die talent se skoene sit en dink wat hom of haar ’n beter kans sal gee in die bedryf.

Julle het reeds die oudisies opgeneem. Het die deelnemers jou beïndruk en wat was die standaard van die oudisies in die algemeen? Is daar ’n paar deelnemers waarvoor jy moes omgedraai het as jy nou daaraan terugdink?

Die talent in hierdie seisoen van The Voice SA is so ongelooflik goed, dit het elke verwagting heeltemal oortref. ’n Mens sit en wonder waar kruip hierdie mense weg, want hulle almal moet wêreldbekend wees. Ons kan net 12 mense kies om in ons span te wees en dis soms hartverskeurend as jy kies om nie om te draai vir iemand wat regtig goed was nie. Hul hoop lê regtig in jou hande. Dis ’n groot verantwoordelikheid. Ek het maar baie gebid ek maak die regte keuses.

Ek is hard besig om ’n nuwe album op te neem en ons het ook The Voice opgeneem tydens Afrikaans is Groot, so dit was wild!

Jy is deesdae ook voltyds ma van twee spruite. Geniet jy moederskap en watter deel is vir jou die lekkerste?

My oudste word nou drie jaar en die jongste is 16 maande. Dis die grootste geskenk in die lewe en elke sekonde is vir my lekker. Ek hoor baie mammas sê hulle is klaar met kinders kry, maar ek sal nog twee vat as dit God se wil is! Hulle is waarlik ’n mens se rykdom en grootste plesier!

Ek geniet die geselsies en die spring op die bed op ’n Saterdagoggend. As hulle sê hulle wil hê jy moet hulle optel en as hulle lag en speel in die bad. Ek kan aan- en aangaan . . .

Hoe kry jy alles ingepas in jou besige skedule?

Ons doen dit saam as ’n span. My man is baie betrokke en net soos ’n goeie pappa moet wees. Hy is eintlik die hero!

Lira is baie bemoedigend en ’n liefie. Sy is gemaklik en dankbaar en so verfrissend!

Moes jy jou eie sangloopbaan so ’n bietjie opsy skuif om The Voice SA te kon doen vanjaar?

Ek is hard besig om ’n nuwe album op te neem en ons het ook The Voice opgeneem tydens Afrikaans is Groot, so dit was wild! En my jongste het nog nie deurgeslaap nie. As ek sê dit was wild, bedoel ek dit! Maar sjoe, God se genade is so groot! Ek het gebid vir krag en Hy was getrou!

Wat doen jy deesdae om heeltemal te ontspan en jou battery te herlaai?

Ek het onlangs besef ek moet tyd maak om rustig te raak ook. ’n Mens kan nogal sneeubal en vinnig ook! Ek herlaai deur ’n koffie hier en daar te gryp met ’n hartsvriendin en wanneer ek klavier speel as daar ’n tydjie is. Om perspektief te kry, luister ek baie preke wanneer ek Johannesburg toe ry en dit doen wonders. Ek is bly om te sê dat my kleintjie wel nou deurslaap –halleluja – en dat ek meer slaap inkry.

Vertel ons so ’n bietjie meer van die ander drie afrigters van hierdie reeks. Wat dink jy is hul sterk punte?

Ek kan sê dat ek self so baie al geleer het by hulle en elke woord indrink. Lira is baie bemoedigend en ’n liefie. Sy is gemaklik en dankbaar en so verfrissend! Francois (van Coke) het ook ’n pel geword. Hy is eintlik iemand met ’n sagte hart. Wat hom laat uitstaan, is sy verhoudinge met sy bands en vriende saam met wie hy werk! Dit sê ook baie van hom as mens! Riky (Rick) is een van daardie ouens wat alles in goud laat verander. Alles wat hy doen, is ’n sukses en hy droom groot!

Is jy baie mededingend en hoe hanteer jy dit om te verloor?

Ek dink ek is baie passievol en as ek glo in iets, dan veg ek daarvoor! Ek dink nie mense het verwag ek gaan so hard baklei nie.

Meer oor:  Riana Nel  |  The Voice Sa  |  Vermaak  |  Tv-Reeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.