Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Theuns vaar goed ná oorplanting van beenmurg

Die Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Theuns Jordaan (50) sterk goed aan nadat hy vroeër vandeesmaand ’n beenmurgoorplanting ondergaan het as deel van sy kankerbehandeling.

Hy het Woensdag in ’n verklaring laat hoor dat hy steeds in die hospitaal is, maar nie in die waakeenheid, soos op sosiale media beweer is, nie.

Die Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Theuns Jordaan. Foto: Argief

“Ek is op die oomblik in die hospitaal op die skedule soos dit deur die mediese span beplan is. Alles gaan volgens plan sedert die beenmurgoorplanting wat op 5 Maart gedoen is.

“Dit is glad nie waar dat ek in intensiewe sorg is of ooit was nie. My dokter sê alles is normaal en te verwagte soos dit moet wees.”

Leukemie is middel September verlede jaar by Jordaan gediagnoseer en hy het dadelik met chemoterapie begin.

Daar is gevind dat hy AML, oftewel akute miëloïede leukemie, het. Dit is ’n soort kanker wat in die bloedvormende selle van die beenmurg begin.

Sy prognose is baie goed en die kanker was in Desember reeds in remissie.

Hy het tóé aan Netwerk24 gesê daar word gesoek na ’n geskikte beenmurgskenker, en dit het toe gelyk of een in Duitsland opgespoor is.

Dit is glad nie waar dat ek in intensiewe sorg is of ooit was nie. My dokter sê alles is normaal en te verwagte soos dit moet wees.

“Ná die beenmurgoorplanting is dit egter nog so drie maande voordat ’n mens na so normaal moontlik kan terugkeer,” het hy gesê.

Dit is nie bekend of die skenker wat vroeër vandeesmaand gebruik is, die een is wat in Duitsland gevind is nie.

Die afgelope paar dae was daar gerugte op sosiale media dat hy ’n terugslag met sy gesondheid gehad het en dat hy in die hoësorgeenheid in die hospitaal is.

Hy het dié gerugte Woensdag weerlê, maar mense bedank vir hul gebede en bemoedigende woorde.

Talle mense op sosiale media, en veral lede van die Facebook-blad “Theuns Jordaan Support Group/ Ondersteunings Groep”, het boodskappe van hoop en ondersteuning uitgespreek en hom probeer bemoedig met suksesstories van kankerlyers.

“Ek wil vir almal baie dankie sê vir hul boodskappe, gebede en wense van beterskap. Ek waardeer dit opreg,” het hy gesê.

Een van sy aanhangers sê op Facebook: “Ons almal bid steeds dat hy volkome herstel. Al is hy nie in die waakeenheid nie, bly hy SA se groot liefling en ons bid dat hy gesond word.”

Meer oor:  Theuns Jordaan  |  Beenmurgoorplanting  |  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.