Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Thomas Markle beplan dokkie oor hom en Meghan

Thomas Markle, vervreemde pa van Meghan, hertogin van Sussex, beplan volgens ’n eksklusiewe berig in die Britse poniekoerant The Sun ’n dokumentêre program oor sy en Meghan se lewe.

Markle, wat slegs enkele dae voor sy jongste dogter se troue met prins Harry besluit het om nie na Brittanje te vlieg vir die spogtroue in Windsor op 19 Mei 2018 nie, het sedertien reeds verskeie kere – meestal teen betaling – met die media gepraat.

’n Brief wat Meghan aan haar pa geskryf het nadat hy ’n reeks onderhoude toegestaan het, is tans midde-in ’n regsgeding tussen haar en Associated Newspapers, uitgewers van onder meer die Mail on Sunday en Daily Mail in Brittanje.

Meghan, hertogin van Sussex, en prins Harry verlede jaar kort voordat hulle die bom laat bars het dat hulle as senior werkende koninklikes gaan terugstaan in Brittanje. Foto: Getty Images

Meghan voer aan die mediagroep het onder meer haar privaatheid geskend deur dele van dié brief te publiseer.

Die 76-jarige Markle sê volgens die berig in The Sun hy hoop sy dokkie sal ’n meer volledige prentjie oor Meghan se lewe saam met hom gee as die een wat verlede jaar op Channel 5 in Brittanje uitgesaai is.

Die nuwe dokkie begin met sy lewe, vertel hy in The Sun, “my familie, my liefde vir die teater en televisie en hoe ek daar beland het”. (Markle was ’n beligtingsregisseur).“Dan my lewe met Meghan, haar grootwordjare, haar skooljare totdat sy universiteit toe is en toe haar loopbaan begin het.“Ons het ’n goeie lewe saam gehad (Meghan het van haar tienerjare by haar pa gewoon) tot deur haar eerste huwelik en haar verhuising na Kanada. Dan begin ’n nuwe storie. Dit is tipe van: ‘Wat het van my meisiekind geword?’ ’’.

Markle, wat nog twee ander kinders het, sê die Channel 5-dokkie het te veel materiaal bevat wat reeds in die publieke domein is.

Volgens hom sal die nuwe dokumentêr nuwe videomateriaal bevat, asook sy gunstelingfoto van sy “meisiekind” en sal hy en die rolprentmaker probeer uitvind “waar alles verkeerd geloop het”.

“Ek dink ons sal ’n goeie stukkie werk lewer”.

Markle, wat al telkemale daarvan beskuldig is dat hy sy verbintenis met Meghan vir geldelike gewin uitbuit, leef ’n eenvoudige bestaan in Rosarito, Mexiko.

Hy het al vantevore in onderhoude vertel dat sy dogter nadat sy na Kanada verhuis het vir die verfilming van die TV-reeks Suits van haar ou vriendekring en familie agtergelaat het.

Markle se samewerking met ’n steelfotograaf om kort voor die troue foto’s van hom te neem wat hom in ’n gunstige lig sou stel, was enkele dae voor die troue voorbladnuus nie net in Brittanje nie, maar wêreldwyd. Hy het uiteindelik besluit om nie na Brittanje te reis vir die troue nie en Meghan het alleen die St. George’s-kapel in Windsor ingestap.

Prins Charles het haar halfpad die kapel in na die altaar vergesel. Daar is benewens haar ma, Doria Ragland, geen ander familielede na die troue genooi nie.

Meghan en Harry het begin verlede jaar op dramatiese wyse aangekondig dat hulle as senior lede van die Britse koninklike familie wil terugstaan, maar steeds as verteenwoordigers van koningin Elizabeth wil optree.

Daar is ná samesprekings besluit dat hulle nie hul eie potjie kon krap én die koningshuis verteenwoordig nie.

Die tentatiewe “egskeidingsooreenkoms” van die koningshuis word in Maart vanjaar hersien. Daar is aanvanklik gehoop dié “agterdeur” sou die paartjie die geleentheid gun om ná ’n tydperk uit die kollig weer hul terugkeer as senior koninklikes te maak.

Die paartjie het egter danksy ’n multimiljoenrandkontrak met die stromingsdiens Netflix finansiële onafhanklikheid van die koningshuis verkry en het reeds vir enkele jare die huur vooruit betaal vir hul Britse woning, Frogmore Cottage.

Hulle sal na verwagting in Junie na Brittanje terugkeer vir die amptelike viering van die koningin se 95ste verjaardag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.