Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Top 5, top 3… en hier is Mej. SA!
Gekroon
Shudufhadzo Musida (23) van Limpopo is Saterdagaand as die nuwe Mej. SA gekroon. Foto: Jaco Marais

Die nuwe ambassadeur vir Suid-Afrika wat die land internasionaal gaan verteenwoordig by een van die grootste skoonheidskompetisies ter wêreld, is Shudufhadzo Musida (23) van Ha-Masia in Limpopo.

Sy was ook die gewildste onder die publiek toe die finaliste gekies is en het die meeste stemme gekry.

Sy het ’n graad in filosofie, politiek en ekonomie aan die Universiteit van Pretoria behaal en is tans besig met ’n BA Honneurs in internasionale betrekkinge aan die Universiteit van die Witwatersrand.

“Dit is belangrik vir onderwys om aandag te kry in ons gemeenskap,” het sy gesê. “Ons moet geestesgesondheid prioritiseer. As Mej. SA sal ek die deursettingsvermoë van vroue in SA verteenwoordig.”

Sy sê sy is vasberade om haar graad te kry. Sy is trots dat sy ’n Venda-vrou is.

Die aktrise Kim Engelbrecht sê sy is ongelooflik slim en sê sy het dit vreeslik geniet om haar te leer ken.

Op ’n vraag oor watter beweging sy sal ondersteun, het sy gesê geestesgesondheid sal haar fokus wees, om mense emosioneel te ondersteun.

Sy is Saterdagaand deur Sasha-Lee Olivier gekroon.

Musida stap weg met pryse ter waarde van R3 miljoen. R1 miljoen daarvan is in kontant. Benewens die sak vol geld, sal sy die gebruik van ’n volledig gemeubileerde woonstel aan die luukse Central Square in Sandton kry, asook die gebruik van ’n Mercedes-Benz C200 Cabriolet.

Die kontant is ’n geskenk van die Mej. SA-organisasie, terwyl die res van die pryse geborg word deur ’n ellelange lys handelsname en maatskappye. Die borge betaal onder meer vir ’n jaar se parfuum, haarstilering vir ’n jaar asook skoene, klere, skoonheidsprodukte en items vir haar woonstel vir haar jaar as Mej. SA.

Die topdrie, Mosehle, Joubert en Musida.Foto: Jaco Marais

Die naaswenner, dr. Thato Mosehle (25) van Noordwes, gaan met R250 000 huis toe, en die tweede prinses, Natasha Joubert (22) van Centurion, kry R100 000. Die res van die finaliste kry elkeen ’n stewige R25 000 as troosprys.

Die topdrie was: Musida, Joubert en Mosehle. Melissa Nayimuli (24) van Butterworth in die Oos-Kaap en Lebogang Mahlangu (24) is ingesluit in die topvyf.

Joubert was beslis ’n gunsteling onder gehoorlede en elke keer dat haar gesig op die skerms verskyn het of as haar naam uitgeroep is, het ’n gejuig opgeklink.

Van die finaliste in die Nguni-reeksontwerpe van die KwaZulu-Nataller Sandi Mazibuko. Van links is Karishma Ramdev, Jordan van der Vyver, Chantelle Pretorius, Busisiwe Mmotla en Aphelele Mbiyo.Foto: Jaco Marais
Leandie du Randt, Afrikaanse aktrise en beoordelaar.Foto: Jaco Marais
Die radio- en TV-aanbieder Anele Mdoda was ook ’n beoordelaar.Foto: Jaco Marais
Shudufhadzo Musida, Mej. SA 2020.
Die Mej. SA-verhoog.Foto: Jaco Marais
Zozibini Tunzi, Mej. Heelal 2019.Foto: Jaco Marais
Die swembroek-afdeling was ‘n “kompetisie in ‘n kompetisie” waar die swemdrag-borg, Motherkind, ’n prys toegeken het aan die “fiksheidsambassadeur” onder die finaliste. Die wenner hiervan was Jordan van der Vyver van die Wes-Kaap.Foto: Jaco Marais
Die top-5. Dr. Thato Mosehle (25) van Klerksdorp; Melissa Nayimuli (24) van Butterworth in die Oos-Kaap; Lebogang Mahlangu (24) van Soshanguve buite Pretoria; Natasha Joubert (22) van Centurion en Shudufhadzo Musida (23) van Ha-Masia in Limpopo.Foto: Jaco Marais

Vir die topdrie-wenners is dit nie die einde van die pad nie. Hulle sal nou begin voorberei om deel te neem aan die drie grootste internasionale skoonheidskompetisies: Mej. Heelal, Mej. Wêreld en Mej. Supranasionaal.

Die organiseerders sal besluit wie van die topdrie aan watter kompetisie sal deelneem en dit sal later aangekondig word.

Die beoordelaars was Mej. Heelal, Zozibini Tunzi, Peggy-Sue Khumalo, sakevrou en Mej. SA van 1996, Anele Mdoda, radio- en TV-aanbieder, die Afrikaanse aktrise en entrepreneur Leandie du Randt en die aktrise Kim Engelbrecht.

Joubert is ’n skakelbeampte by ’n prokureurspraktyk en stigter en eienaar van Natalia Jefferys (Edms.) Bpk. Sy het ’n B.Com-graad in bemarkingsbestuur van die Boston City Campus. Eerste naaswenner, Mosehle, is ’n dokter wat tans haar internskap voltooi met die doel om ’n narkotiseur te word.

Meer oor:  Shudufhadzo Musida  |  Mej. Sa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.