Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Trou boer Rèan en sy Rox-Zee in April?

Is April dalk die groot maand wanneer boer Rèan van Boer soek ’n vrou en sy Rox-Zee gaan afhaak?

Rox-Zee en boer Rèan tydens die Boer soek ’n vrou-vakansieweek by Afriski in Lesotho.

Dié Engelssprekende vrou wat Rèan se hart – volgens hom – binne die eerste vyf minute gesteel het, het Donderdag op Facebook gevra vir aanbevelings vir huisvesting in Mauritius gedurende April.

Beplan hulle dalk ’n wittebrood op dié romantiese eiland?

Hulle het tydens die verfilming van die reeks al saam vakansie gehou met die ander boere en hul metgeselle by Afriski-bergoord in Lesotho.

In dié episode het Rèan Clasen en Rox-Zee Veldhuizen, albei 27, geen geheim daarvan gemaak dat hulle so gou as moontlik wil verloof raak en trou nie. Hulle het toe al gesê hulle is in ’n amptelike verhouding.

“Ons sal seker verloof raak en dan oor so ses maande trou, want ek wil saam met hom wees,” het Rox-Zee gesê. Rèan het gesê hy wil graag met haar trou.

Ons sal seker verloof raak en dan oor so ses maande trou, want ek wil saam met hom wees.

Die 11de seisoen van Boer soek ’n vrou is van Maart tot Augustus 2018 verfilm.

Rèan bedryf ’n wingerd-en-pekanneutboerdery in Groblershoop in die Noord-Kaap en Rox-Zee is ’n skoonheidsterapeut van Durban.

Rèan het egter alleen opgedaag by die reünie, wat in Donderdagaand se episode uitgesaai is, omdat Rox-Zee in daardie stadium saam met haar ma in Engeland was.

Hy het gesê hulle verhouding is “steeds sterk aan die gang” en dat sy “morsige ringfoto’s” vir hom stuur vanuit Engeland.

Rox-Zee dui op haar Facebook-blad aan dat sy in ’n verhouding is, maar dit sê nie met wie nie.

In ’n video op kykNET se webwerf, wat tydens die reünie agter die skerms geneem is, sê Réan “as alles goed gaan” sal hy en Rox-Zee in Desember of vroeg in die nuwe jaar trou.

Rox-Zee het Donderdag op Facebook gevra vir aanbevelings vir verblyf in Mauritius gedurende April.

In die episode ’n paar weke gelede, waar Rèan vir Rox-Zee in Durban gaan kuier het, het haar ma, Rijkie, hom beskryf as ’n man wat “genuine en plat op die aarde” is.

“Wat in sy kop is, kom by sy mond uit en ons is sulke mense,” sê sy.

“Rèan is sterk sonder om arrogant te wees, maar hy is ook sag sonder om swak te wees. So vir my het daai kind ’n ongelooflike balans en ek dink sy ouers het hom ongelooflik grootgemaak.”

Rèan en sy familie se waardes is wat enige pa van ’n man vir sy dogter wil hê, het Rob, Rox-Zee se pa, gesê.

Rox-Zee het gebieg sy weet haar ouers hou van Rèan en dat hulle dink hy pas perfek by haar.

Rèan sê haar familie is “goud werd”.

Rèan en Rox-Zee het reeds vroeg in die reeks ’n gunsteling onder kykers geword toe Rèan tydens hul ontmoeting met die blitsafsprake vir haar gesê het: “Jy’s mooi, maar jy’s Engels. Dis moeilik.”

Die aanbieder, Leah, beskryf hulle as die golden couple van die 11de seisoen. Met sy skerp sê-goed het Rèan vir groot opwinding gesorg.

Sedertdien het kykers week na week vasgenael voor die kassie gesit om te kyk hoe die liefde ontvou. Deur die loop van die reeks het dié twee op ’n speelse manier na mekaar gehap. Rèan het vroeg ook reeds erken hy is verlief, maar het nie gesê op wie nie.

Dit het al meer duidelik geword toe hy eers vir Michelle en daarna vir Minette huis toe stuur. En al wie op die plaas oorbly, is Rox-Zee – en Rèan.

Of daar egter ’n verlowing of troue op die horison is, wil niemand verklap nie. Ons sal maar net moet wag en sien. . .

Kyk hier na Rox-Zee se Instagram

Meer oor:  Boer Soek 'N Vrou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.