Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Twee wêreldtitels vir SA skoonhede?

Gaan Suid-Afrika vanjaar die twee mooiste vroue op aarde hê?

Met Zozibini Tunzi (26) wat as Mej. Heelal gekroon is en Sasha-Lee Olivier wat nou na die Mej. Wêreld-kroon mik, meen talle Suid-Afrikaners op sosiale media die kanse is groot.

Sasha-Lee Olivier (26), naaswenner van die Mej. Suid-Afrika-kompetisie, ding Saterdag in Londen om die Mej. Wêreld-titel mee.Foto: Instagram/Sasha-Lee Olivier

Olivier (26), ’n sogenaamde plusgrootte-model van Alberton aan die Oos-Rand, ding Saterdag in Londen om dié titel mee.

Die Mej. Suid-Afrika Organisasie en talle Suid-Afrikaners meen sy kan wen.

“Terwyl ons een Suid-Afrikaanse oorwinning vier, berei ons ons op ’n ander een voor,” lui ’n twiet van die Mej. Suid-Afrika Organisasie.

Iemand anders twiet ook: “Dit is duidelik dat ons gaan wen. Sasha-Lee sal as Mej. Wêreld gekroon word.”

Ander het mekaar daaraan herinner om vir Olivier te stem.

Dit is nie onmoontlik vir Suid-Afrika om albei titels te wen nie, want daar was al lande wat dit in die verlede reggekry het. Die lande is Frankryk in 1953, Australië in 1972, Venezuela in 1981 en Indië in 1984 en 2000.

Gaan Suid-Afrika die twee mooiste vroue op aarde hê? Mej. Heelal, Zozibini Tunzi (links, 26), en Sasha-Lee Olivier (26), naaswenner van die Mej. Suid-Afrika-kompetisie, wat Saterdag aan die Mej. Wêreld-kompetisie deelneem. Foto: Instagram/Sasha-Lee Olivier

Die laaste keer dat Suid-Afrika dié titel gewen het, was in 2014 toe Rolene Strauss (27), voormalige Mej. Suid-Afrika, as Mej. Wêreld gekroon is.

Olivier het in November na die Verenigde Koninkryk vertrek en is sedertdien baie besig met voorbereidings vir die kompetisie.

Sy het Woensdag gehelp om op ’n veiling geld vir die Beauty With A Purpose-veldtog in te samel.

“Ek is trots om te sê dat my diamant-oorbelle van twee karaat van American Swiss vir £2 400 verkoop is,” lui haar plasing op Instagram.

Sasha-Lee Olivier (26) Woensdag in ’n Ryan Keys-skepping op die veiling van die Beauty With A Purpose-veldtog. Foto: Instagram/Sasha-Lee Olivier

Olivier, wat as jong kind seksueel misbruik is, het vroeër in ’n verklaring gesê as deel van haar Beauty With A Purpose-veldtog vir die Mej. Wêreld-kompetisie wil sy meisies en seuns in soortgelyke omstandighede ondersteun.

Met haar hutsmerk #ItsNotYourFault wil sy vertroosting aan die slagoffers bied.

“Mense het my nie geglo toe ek die mishandeling aanmeld nie en ek het jare lank geglo dit was my skuld. Dit is hoekom ek met my veldtog mense met soortgelyke ervarings wil ondersteun. Ek wil hê hulle moet weet dit was nie hul skuld nie,” het sy toe gesê.

Haar stilis, Werner Wessels, het ook reeds in Londen aangekom om haar te ondersteun.

Olivier het dié nuus op haar Instagram-blad gedeel. “Wanneer Pappa Beer en die fam (familie) in die dorp is.”

Hy het ook vir Tunzi in Atlanta ondersteun.

Die Mej. Wêreld-kompetisie word om 15:00 op SABC3 uitgesaai. – Saamgestel deur Roshé Taka

Meer oor:  Zozibini Tunzi  |  Sasha-Lee Olivier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.