Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Van aspoester tot ’n feeprinses

Vir party mense staan sy bekend as Heidi Hollywood, ander noem haar Heidi Stoompomp en daar is selfs dié wat haar as die goeie fee beskryf – die vrou wat so graag die aspoestertjies onder ons omtower in prinsesse.

Maar vir dié wat haar goed ken, is sy doodgewoon Heidi du Toit, die vrou van Welkom wat haar eie ryk in Krugersdorp kom bou het met Hollywood Costumes, die heel grootste kostuumwinkel in Gauteng waar jy enige uitrusting onder die son kan vind.

Heidi du Toit. Foto: Jaco Bothma

Jy kan maar weet jy gaan enige uitrusting waaraan jy kan dink, by Hollywood Cos­tumes vind.

En wanneer die onwaarskynlikheid gebeur dat jy dit nié daar vind nie, sal Du Toit en haar mense dit sommer vinnig vir jou maak.

Vir die meeste van ons is ’n uitnodiging na ’n temapartytjie ’n taamlike kopseer, want wie hou nou ’n superheld­kostuum of Allerheiligeaand-uitrusting in hul kas, net vir ingeval?

Maar Du Toit het al menige partytjieganger en selfs bekende sangers en akteurs in ons land aangetrek vir spesifieke okkasies.

“Ek het op Welkom groot­geword. My ma was ’n kleremaakster van beroep en van kleins af was ek maar altyd geïnteresseerd in kostuums.

“Ek het altyd na die agterkant van die patroonboeke geblaai en vir ure lank gefantaseer oor die kostuums in die boeke.

“Later het ek my poppe se klere gemaak en my maats by die skool het altyd hulle Barbiepoppe vir my gebring sodat ek vir hulle klere aantrek,” onthou sy.

Ná skool het sy mode­ontwerp in Bloemfontein gaan studeer en saans het sy die klere gemaak waarvan hulle bedags in die klasse geleer het.

“Naweke het ons die klere op vlooimarkte verkoop en dís hoe ek my studies betaal en oorleef het. Ek het al hoe beter begin raak.”

Du Toit het Hollywood Costumes in 1995 in Krugersdorp oopgemaak en begin kostuums en maskers maak. Sy het vinnig besef watter groot behoefte daar was vir spesifieke partytjieklere en kon nie voorbly nie. Sy het haar onderneming stelselmatig opgebou tot waar dit vandag ’n reusebedryf is waar hulle enigiets van trourokke tot balkostuums maak.

Later het sy ook ’n masker­fabriek oopgemaak waar hulle lateksmaskers vervaardig. Geen ander plek in die land doen dit op so ’n groot skaal soos hulle nie en deesdae voer sy ook maskers na Denemarke uit.

Hollywood Costumes in Krugersdorp huisves meer as 2 miljoen uitrustings en kostuums. Foto: Terésa Coetzee

Te kies en te keur

By Hollywood Costumes is meer as 2 miljoen kostuums om van te kies en net die kinderafdeling alleen bestaan uit derduisende uitrustings.

Gewoonlik kom klop skole by hulle aan vir revues en konserte, en hulle maak ook klere vir flieks en televisie­programme.

Hollywood Costumes het meer as 30 werknemers.

“Ons maak 80% van al die klere self en bekendes soos Nianell, Lizz Meiring, Rocco de Villiers, The Parlotones en Chris Chameleon kom kuier gereeld vir nuwe klere.

“Ons het ook onlangs die Stoompomp-reeks begin; dit is steampunk-klere wat ons verkoop,” sê Du Toit.

Sy is mal oor haar werk en vertel dat sy elke dag ’n sprokie uitleef. Daar is min dinge vir haar so lekker soos om iemand van kop tot tone in ’n cowboy-, Great Gatsby- of Allerheiligeaand-uitrusting “op te dress”.

“Aan die beginjare het ek dikwels in die biblioteek gaan sit en navorsing doen, maar deesdae is daar darem Google en ek gaan fliek gereeld om na uitrustings te kyk. As ’n kliënt soos Jack Sparrow wil lyk, moet ek darem weet hoe Jack lyk,” sê sy.

Sy self hou ook daarvan om haar soms behoorlik op te tof.

“Ek hou van mooi klere; om aan te trek vir ’n spesifieke geleentheid of partytjie is soos ’n fantasie wat jy uitleef,” vertel Du Toit.

Meer oor:  Celebs  |  Vermaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.