Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Van Coke vs. Hougaard: Boksgeveg hiér te sien

Dit is nog slegs sowat twee maande voordat die Afrikaanse rocker Francois van Coke en oud-Bok Derick Hougaard mekaar in die bokskryt takel, en nou is dit amptelik bekend gemaak waar hulle hul vuiste gaan swaai.

Van Coke (40), van Bellville, Kaapstad, sal ’n vliegtuig moet haal, want hulle pak mekaar in die Sun Arena by Time Square Casino in Pretoria.

Francois van Coke (regs), die Afrikaanse rocker en hoofsanger van die musiekgroep Fokofpolisiekar, saam met die musikant Frank Freeman ná ’n skermsessie in die kryt. Foto: Instagram/Francois van Coke

Ondersteuners sal hul gunsteling in uitgesoekte Nu Metro-fliekteaters kan ondersteun waar die boksgeveg uitgesaai sal word, of hulle sal dit tuis kan kyk as hulle kaartjies aanlyn teen R150 koop.

Die kragmeting het vroeër vandeesmaand ’n aanloop op Twitter gehad, waar die twee die draak begin steek het met mekaar se talente.

’n Video van die legendariese plettervat van Brian Lima van Samoa op Hougaard in ’n wedstryd in die Wêreldbekerrugbytoernooi in 2003 was die katalisator.

Albei het reeds begin oefen om fiks te word vir die geveg, maar Hougaard het op Facebook gesê sy oefenprogram het ’n terugslag gehad.

“Ná ’n siekte van ’n week het ek Maandag begin oefen. Ek het net twee weke verloor. As jy vir ’n jaar niks doen nie, is dit moontlik om binne tien weke fiks te word? Wat sê die slim mense?”

Hougaard kon Woensdag nie bereik word vir meer besonderhede oor sy siekte nie.

Die oud-Springbok Derick Hougaard.Foto: Facebook/Derick Hougaard

Sy ondersteuners en sy ma, Riana, het hom in die kommentare bemoedig en gesê dit is klaarpraat met Van Coke, wat in 2018 ’n soortgelyke boksgeveg tussen bekendes verloor het.

Francois van Coke ek fight eerder myself voor ek my vrou se skoonheids produkte misbruik. #jyhetalklaartweeblouoe ek sien jou in die ring bru ?? BoxOp

Posted by Derick Hougaard on Thursday, 18 March 2021

Van Coke het Dinsdag ’n foto op Instagram gedeel van hom en die musikant Frank Freeman in ’n bokskryt: “Dankie vir die boks-les, Frank. So ’n skermsessie (sparring session) help om die kop ’n bietjie aan die gang te kry en die neus so ’n bietjie oop te maak,” skryf hy daarby.

Die Nu Metro-fliekteaters waar mense die boksgeveg op 29 Mei om 17:00 kan kyk, sluit in dié in die Clearwater-winkelsentrum in Roodepoort, Johannesburg; Loch Logan Waterfront in Bloemfontein; Menlyn Park in Pretoria; Emperors Palace in Kempton Park, Johannesburg; Ballito Junction in Ballito en die Canal Walk-winkelsentrum in Kaapstad.

Kaartjies is op Nu Metro se webtuiste beskikbaar, asook op itickets.co.za.


Meer oor:  Francois Van Coke  |  Derick Hougaard  |  Boksgeveg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.