Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Van konings tot rockers huldig Montserrat Caballé

Koninklikes, politici, van die wêreld se bekendste operasangers en rockers was onder diegene wat hul meegevoel uitgespreek het by die dood van die Spaanse operasanger Montserrat Caballé. Sy is Saterdag in die ouderdom van 85 oorlede.

Toe sy Maandag in die Les Corts-begraafplaas in Barcelona begrawe is, was lede van die Spaanse koningshuis, politici en die Katalaanse tenoor José Carreras saam met haar familie by die begrafnis.

Monserrat CaballéFoto: Reuters

Ook die operasanger Placido Domingo het ’n roerende kort boodskap aan haar opgedra, berig Slipped Disc.

Dit lui: “My liewe Montserrat. Wat ’n wonderlike lewe en loopbaan het jy gehad. Dankie vir jou ongelooflike stem en die ontelbare oomblikke van vreugde wat jy vir die wêreld gegee het. Ek sal altyd ons optredes saam koester asook die talle opnames wat ons deur die jare gemaak het. Wat ’n voorreg was dit om saam met jou op die verhoog te kon wees. Jy sal gemis word. Rus in vrede. God het nog ’n engel na sy ryk geroep.”

Aan die ander kant van die spektrum het die groep Queen se kitaarspeler Brian Maygesê dat sy ’n inspirasie vir hulle almal, maar veral vir Freddie Mercury was.

“Jou pragtige stem sal altyd by ons bly,” sê hy.

Die koninklike operahuis in Londen twiet dat almal verbonde aan die operahuis baie hartseer oor die dood van Caballé is. Die sopraan het tussen 1972 en 1992 hier gesing en het “miljoene mense met haar stem geïnspireer”.

Die akteur Luke Evans het haar stem beskryf as die ongelooflikste wat hy ooit gehoor het, berig NME.

Volgens Reuters het Spanje se premier Pedro Sánchez gesê dis baie hartseer nuus.

“Sy was ’n groot ambassadeur vir ons land. Ons sal altyd haar stem en goedhartigheid onthou,”

José Guirao, Spaanse minister van kultuur, sê Caballé se afsterwe laat ’n groot leemte.

Die bestuur van die Gran Teatre del Liceu-operahuis in Barcelona sê sy was een van die belangrikste soprane in die geskiedenis. Sy het meer as 200 keer hier opgetree.

Christina Scheppelmann, die operahuis se artistieke direkteur, sê Caballé het bewys dat operasangers nie net op die operaverhoog hoef te wees nie, maar dat hulle ook buite die genre roem kan verwerf.

Caballé was veral bekend om haar vertolkings in Italiaanse operas en het dikwels saam met Luciano Pavarotti opgetree.

José Carreras het in ’n onderhoud met ’n Katalaanse radiodiens gesê dat hy geen gelyke vir Caballé op die verhoog gevind het nie.

Caballé het baie mense wat nooit na opera sou luister nie se aandag getrek toe sy in 1987 “Barcelona” saam met Freddie Mercury gesing het en dit op verskeie treffersparades vir ligte musiek beland het.

Sy was ’n paar jaar reeds siek en sy is in die middel van September vanjaar in die Sant Pau-hospital in Barcelona opgeneem.

Die Spaanse koningshuis het Caballé onder meer ’n “groot dame van opera, ’n kulturele legende en die beste van die beste” genoem.

Haar laaste optrede was in 2014 in die Katalaanse dorp Cambrils.

Sy was getroud met die Spaanse tenoor Bernabé Martí. Hul twee kinders is Bernabé Martí Jr. en Montserrat Martí, ook ’n suksesvolle sopraan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.