
Die veteraanakteur Sam Phillips (72) is Saterdag oorlede. Foto: Verskaf
Die veteraanakteur Sam Phillips is Saterdag in die ouderdom van 72 oorlede.
Die afsterwe van Phillips, wat ook as ’n regisseur, vervaardiger, skrywer en komponis gewerk het, is deur sy dogter, Mpumi Phillips, bevestig.
“Hy sal met deernis vir sy glimlag en werk in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf onthou word, maar veral ook vir sy vreeslose inspirasie en die voorbeeld wat hy gestel het,” het Mpumi aan die Daily Sun gesê.
Die ANC het ook Saterdag sy medelye met Phillips se geliefdes betuig. “Ons betuig ons innige meegevoel met sy familie, vriende en kollegas. Mag hulle vertroosting vind in die wete dat hul verlies die land se verlies is,” het die party in ’n verklaring gesê.
Die talentvolle Phillips was vir dekades lank op Suid-Afrikaanse televisieskerms in ’n aantal gewilde televisieproduksies soos Backstage en Soul City en die meer onlangse Isibaya en Kings of Jo’Burg. Hy het ook in internasionale toneelstukke opgetree en die lirieke vir die musiek vir die rolprent Bopha!, wat deur die Hollywood-akteur Morgan Freeman geregisseer is, geskryf.