Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Vriendinne praat oor Meghan se pa wat haar ‘teister’

Hoekom teister jy my só in die media, Pappa?

Dít was in ’n neutedop die strekking van ’n brief wat Meghan, hertogin van Sussex, verlede jaar kort ná haar troue aan haar pa geskryf het.

Só sê vyf vriendinne in haar binnekring in ’n opspraakwekkende onderhoud met die vermaaklikheidtydskrif People.

Die vriendinne, wat nie hul name genoem wil hê nie, verwoord in die onderhoud ook hul vrese oor watter effek die emosionele trauma met haar pa op Meghan en prins Harry se ongebore baba kan hê.

Volgens hulle het Meghan die brief kort ná haar troue op 19 Mei verlede jaar geskryf.

Volgens die artikel in People het Thomas Markle geen moeite gedoen om ná haar troue met sy dogter in aanraking te kom nie.

Meghan het hom glo in die brief gevra waarom hy haar só in die media “treiter’’ en hom versoek om sy onderhoude te staak sodat hulle hul verhouding kan herstel.

Markle het daarna glo teruggeskryf en gevra of hy en Meghan nie saam ’n onderhoud kan doen nie.

Meghan, hertogin van Sussex, is ’n warm en vriendelike mens wat nie voorgee nie, sê haar vriendinne in ’n onderhoud. Foto: Getty Images

Markle wou nie in motor klim

Markle het glo toe die motor opdaag om hom vir die vlug na Londen (vir die troue) lughawe toe te neem geweier om in te klim, berig Mailonline.

Hoewel hy in elke onderhoud nie geskroom het om sy dogter, Harry en selfs koningin Elizabeth te kritiseer oor die “muur van stilte” tussen hom en Meghan nie, ontken haar vriendinne dat hy sy dogter enigsins probeer kontak het.

Volgens hulle het Meghan ook nie juis ’n noemenswaardige verhouding met haar halfsuster en -broer, Samantha en Thomas jr., nie. Hulle was nie “deel van Meghan se lewe nie” bloot omdat hulle reeds tieners was toe sy gebore is. (Hulle is uit haar pa se eerste huwelik gebore.)

Samantha, een van Meghan se felste kritici, het Woensdagaand op Twitter getwiet dat sy bewyse het van haar pa se teksboodskappe aan Meghan en sy het die People-onderhoud as vals nuus afgemaak. Sy het ook na Meghan as ’n narcis verwys.

Thomas Markle het enkele dae voor sy dogter se troue aan prins Harry mediese redes aangevoer oor hoekom hy nie die troue gaan bywoon nie. Foto: Getty Images

Meghan se telefoonnommer

Meghan se vriende sê verder haar telefoonnommer het nie ná die troue verander nie.

Markle het verlede jaar eers beweer dat hy nie weet hoe om Meghan te kontak nie maar het later in ’n volgende onderhoud erken dat hy kan sien dat sy dogter sy WhatsApp-boodskappe lees (maar nie beantwoord nie).

Ondanks haar pa se samewerking met ’n steelfotograaf om ’n reeks foto’s van hom te neem (waarvoor hy ook geld ontvang het) om hom in ’n goeie lig te stel, het Meghan steeds by hom gepleit om haar die St. George-kapel in te bring.

Hy het die Woensdag voor haar troue die Saterdag mediese behandeling vir sy hartprobleme ontvang. Hy het later in ’n onderhoud sy spyt uitgespreek dat hy op die gelukkigste dag van sy dogter se lewe slegs ’n voetnota in die geskiedenis sal wees.

Meghan het op haar eie die kapel ingestap en is slegs die laaste treë na die altaar deur prins Charles vergesel.

Haar ma, Doria Ragland, was haar enigste familielid op die troue.

Geen vete met Kate

In die onderhoud sê een vriendin dat sy gereeld in Nottingham-kothuis, Meghan en Harry se tydelike woning binne die Kensingtonpaleis-kompleks, kuier. Meghan kook elke aand vir haar en die prins. Sy droog hul honde af nadat hulle in die modder gespeel het en is glad nie aanstellerig nie.

Die vriendinne sê ook die sogenaamde vete tussen Meghan en haar skoonsus, Catherine, hertogin van Cambridge, is bog.

Stroom negatiewe stories

Ná Meghan en Harry se suksesvolle toer na Australië, Nieu-Seeland, Fidji en Samoa is ’n reeks negatiewe stories oor Meghan uit die paleis laat lek.

’n Vete tussen die twee hertoginne is aangeblaas, só ook aantygings dat Meghan ’n handvol is om mee saam te werk. Daar was ook gerugte dat sy gefrustreerd geraak het omdat sy nie tot haar eie verdediging kan kom nie en moet inval by die paleis se beleid om nie kommentaar op skinderstories te lewer nie.

Met haar pa se onderhoude wat keer op keer ’n verleentheid is en haar halfsuster se Twitter-tirades is ’n onvleiende prentjie van die nuwe hertogin geskets.

Venynige en rassistiese kommentaar oor haar op die sosialemediarekeninge van Kensingtonpaleis het die paleis ook genoop om die glanstydskrif Hello te nader om ’n veldtog #HelloToKindness aan te kondig. Aanhangers van Meghan en Catherine sê mekaar ook die stryd op sosiale media aan.

Jessica Mulroney saam met haar tweelingseuns op pad na die St.George-kapel in Windsor. Haar seuns en dogter was deel van die gevolg. Foto: Getty images

Vriende tot die redding

Dit is nie die eerste keer dat vriende tot hul koninklike vriend of vriendin se verdediging in die media kom nie. Dit was redelik algemeen in Harry se ouers se huwelik dat van hul vriende stories aan die media laat lek het of selfs met die media gepraat het om Diana of Charles se kant van die storie te stel.

Van Meghan se hegste vriendinne is die tennisster Serena Williams en Jessica Mulroney, ’n Kanadese stilis wat gereeld by Meghan in Londen kuier.

Mulroney het selfs op eie koste as Meghan se nie-amptelike stilis saamgereis toe die paartjie hul eerste oorsese toer afgelê het. Al drie Mulroney se kinders was op Meghan se troue deel van haar gevolg.

Thomas Markle in sy eie woorde in onderhoude

“Dit is ongelukkig vir my dat ek nou slegs ’n voetnota in een van die grootste oomblikke in geskiedenis is en nie die pa wat sy dogter na die kansel vergesel het nie.” – Good Morning Britain.

“Ek weier om stil te bly. Wat my die kwaadste maak van Meghan is haar gevoel van meerderwaardigheid. Sy sou niks sonder my gewees het nie. Ek het haar die hertogin gemaak wat sy vandag is. Ek het Meghan gemaak wat sy is.” – Daily Mail.

“Hulle (die koninklike familie) laat Meghan toe om haar pa op só ’n manier te behandel wat prinses Diana sou verafsku het. Dit is nie die tipe optrede wat sy sou goedgekeur het nie. Prinses Diana kry krediet dat sy die koninklike familie verander het, maar sy was nie perfek nie. Sy is steeds een van hulle.” – Daily Mail.

“Daardie nommers is gestaak. Dit werk nie meer nie. Ek het geen manier om my dogter te kontak nie.” – Daily Mail.

“Miskien sal dit makliker vir Meghan wees as ek doodgaan. Almal sal met haar simpatiseer. Maar ek hoop dat ons versoen kan word. Ek sal dit haat om dood te gaan sonder om weer met Meghan te praat.” – Daily Mail.

“Ek gee nie om as Harry nooit weer met my praat nie. Ek sal dit oorleef.” – Daily Mail.

“As die koningin bereid was om ons arrogante en onsensitiewe president te ontmoet het sy geen verskoning om my nie te ontmoet nie. Ek is nie naastenby so sleg soos hy nie.” – Dié uitlating het hy gemaak in ’n onderhoud met Good Morning Britain toe dit bekend geword het dat pres. Donald Trump van Amerika koningin Elizabeth op ’n besoek aan Brittanje sal ontmoet.

Meer oor:  Koninklike Familie  |  Pa  |  Meghan Markle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.