Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Waarheid moet uit oor Diana-onderhoud, sê William

Dit is tyd dat die waarheid uitkom.

Met dié woorde het prins William die besluit verwelkom dat ’n senior afgetrede regter gaan kyk hoe die BBC 25 jaar gelede ’n eksklusiewe en omstrede onderhoud met sy ma, Diana, ontslape prinses van Wallis, bekom het.

Die onderhoud is volgens Diana se broer, graaf Charles Spencer, onder valse voorwendsels bewerkstellig.

Martin Bashir, die onderhoudvoerder, het volgens Spencer Diana met vervalste dokumente en allerlei versinsels omgepraat om die onderhoud aan die BBC se Panorama-program toe te staan.

William se verklaring, wat Woensdagaand deur die Kensingtonpaleis uitgereik is, wys hoe die onderhoud wat William ’n kwarteeu gelede as 13-jarige so diep seergemaak het, steeds by hom spook. Volgens ingeligte bronne het hy reeds die afgelope twee weke kontak met die BBC en wil hy sy ma se nalatenskap beskerm, berig Mailonline.

“Die onafhanklike ondersoek is ’n stap in die regte rigting. Dit sal help om die waarheid oop te vlek oor die dade wat tot die Panorama-onderhoud en daaropvolgende besluite gelei het,” lui die verklaring.

Diana, ontslape prinses van Wallis, tydens die onderhoud. Martin Bashir sit met sy rug na die kamera. Die onderhoud is in die geheim in haar sitkamer in die Kensingtonpaleis gevoer. Foto: Getty Images

William het in 2017 in die BBC-dokumentêr 7 Days gesê hy het begrip vir sy ma se besluit om aan die program deel te neem. “Ek kan verstaan . . . jy voel ongelooflik desperaat en dit is baie onregverdig dat dinge gesê word wat onwaar is. Die maklikste ding om te doen, is om self na die media te gaan. Maak daardie deur oop, maar wanneer jy dit een keer oopgemaak het, kan jy dit nooit weer toemaak nie.”

Indringende vrae word in die ITV-dokumentêr Diana – Revenge of a Princess gevra oor hoe Bashir die opspraakwekkende onderhoud bekom het. ’n Grafiese kunstenaar wat deur Bashir gevra is om bankstate te vervals, het sedertien gesê die skuld vir die vervalste dokumente is alles op hom gepak en dat die BBC die ongerymdhede om die onderhoud te verkry, verdoesel het.

Die BBC kon vir ’n aantal jare nie ’n handgeskrewe nota vind waarin Diana glo geskryf het sy het nie die bankstate voor die onderhoud gesien nie en dat dit geen rol gespeel het in haar besluit om die onderhoud toe te staan nie.

Graaf Charles Spencer sê hy het besluit om oor die vervalste dokumente te praat omdat hy eers onlangs daarvan bewus geword het dat die BBC geweet het die dokumente is vervals. Foto: Getty Images

Volgens Spencer het Bashir hom met die bankstate gekontak en gesê lede van Spencer se huishouding ontvang vergoeding vir inligting oor sy suster. Op grond van dié bewyse het Spencer ’n ontmoeting tussen Bashir en sy suster bewerkstellig.

Spencer, ’n oudjoernalis en geskiedenisskrywer, het volledige notas van sy gesprek met Bashir geneem.

Hy het vandeesmaand gesê die BBC het nog nie verskoning gevra vir die feit dat vervalste dokumente gebruik is nie en dat hy ’n verdere ondersoek sal verwelkom. Spencer dring benewens ’n verskoning aan dat ’n skenking aan een van Diana se liefdadigheidsorganisasies gemaak word. Volgens hom het die BBC geweet die bankstate is vervals, maar dié inligting verdoesel.

Die huidige hoof van die BBC, Tim Davie, het intussen gesê die uitsaaikorporasie is vasbeslote om agter die kap van die byl te kom.

Volgens Spencer het Bashir aan hom en Diana gesê daar is meeluisterapparaat in haar woning en dat twee senior personeellede deur die geheime diens betaal word om inligting oor haar te verskaf.

Diana tydens die onderhoud, wat wêreldwyd voorbladnuus was. Foto: Getty Images

In die opspraakwekkende onderhoud wat op 25 November 1995 wêreldwyd uitgesaai is en net in Brittanje deur 23 miljoen mense gekyk is, het Diana onder meer gesê “daar is drie mense in my huwelik”, dat prins Charles nie ’n geskikte koning sal wees nie en dat sy self ontrou was met die oudsoldaat James Hewitt.

Koningin Elizabeth het ’n maand ná die onderhoud opdrag gegee dat Charles en Diana hul egskeiding moet formaliseer. Uiteindelik het Diana nie net haar koninklike eretitel Haar Koninklike Hoogheid verloor nie, maar ook die lyfwagte wat sy as prinses van Wallis gehad het.

Twee jaar later is sy dood ure nadat sy ernstig beseer is in ’n motorongeluk toe die bestuurder van die motor waarin sy was, steelfotograwe probeer ontglip het in die Franse hoofstad, Parys. Sy was 36 jaar oud.

Martin Bashir is reeds geruime tyd met siekteverlof weens onder meer ’n hartoperasie en die koronavirus. Foto: Getty Images

Wat gaan die ondersoek behels?

Volgens die BBC gaan die ondersoek deur ’n senior afgetrede regter, lord Dyson, op vyf vrae fokus, onder meer oor watter stappe die BBC en Bashir gedoen het om die onderhoud te bekom, asook:

• Die vervalste bankstate waarin beweer is dat betalings gedoen is aan ’n voormalige werknemer van graaf Spencer;

• Die beweerde betalings aan lede van die koninklike huishouding; en

• Ander bewerings van graaf Spencer.

Aanvullende bronne: Diana Her True Story van Andrew Morton, Evening Standard en The Times of London.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.