Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
GRAFIKA: Die wie is wie wat Philip se begrafnis bywoon

Van ’n versoening tussen prins William en prins Harry gaan daar nie veel te sien wees wanneer hulle Saterdag hul laaste eer aan hul geliefde oupa Philip betoon nie.

Met hul neef Peter Philips wat tussen hulle stap, wil dit lyk of Harry se aandrang om in ’n uniform na die begrafnis te gaan, dalk net die rede kan wees hoekom die twee broers nie langs mekaar gaan stap nie.

Andersins was dit koningin Elizabeth se besluit om Philips tussen die twee broers te laat stap. Harry het in sy en sy vrou, Meghan, se opspraakwekkende onderhoud met Oprah Winfrey gesê die verhouding tussen hom en sy broer is een van “ruimte”.

Buckingham-paleis wou Donderdag nie kommentaar lewer op enige gerugte van onmin nie.

“Dit is ’n begrafnis – ons gaan nie betrek word by enige van hierdie persepsies van drama of enigiets soos dit nie,” het ’n woordvoerder aan The Telegraph gesê.

philip roete begrafnis grafika
Geen uniforms

Die paleis het ook bevestig dat die manlike familielede – anders as wat die gebruik is met koninklike begrafnisse – nie hul seremoniële uniforms sal dra nie. Dié pragmatiese besluit is glo deur koningin Elizabeth geneem toe paleisamptenare nie geweet het hoe om die uniform-tameletjie op te los nie.

Prins Andrew, om wie se kop die Jeffrey Epstein-seksskandaal nog hang, wou as ’n volle ere-admiraal die begrafnis bywoon, terwyl Harry glo die uniform waarin hy getroud is, wou dra.

Daar was kommer dat Harry in ’n gewone dagpak sou afsteek teen die ander lede in die prosessie wat almal eretitels in die gewapende magte het. Net Harry en Andrew het aktiewe diens gedoen.

Die prosessie agter Philip se kis bestaan uit vier rye familielede, gevolg deur Philip se personeel.

Prins Charles en prinses Anne sal in die eerste ry stap, gevolg deur die twee prinse en hul neef in die tweede ry, met Andrew en prins Edward agter hulle. In die laaste ry voor die personeellede stap prinses Anne se man, sir Timothy Lawrence, en graaf Snowdon, seun van die koningin se ontslape suster, prinses Margaret.

gaste philip
Perdekar-vriende

Onder die 30 genooides wat die begrafnis ingevolge koronavirusbeperkings mag bywoon, was daar net een verrassing, lady Penny Brabourne, ’n hegte vriendin van sowel die prins as koningin Elizabeth.

Brabourne en Philip het ’n passie vir perdekar-ry gedeel en sy het ook ná sy aftrede gereeld by hom in Wood Farm, sy gemaklike kothuis op die koninklike landgoed Sandringham, gaan kuier.

Sy en haar man, lord Norton Brabourne – wat haar in 2010 vir ’n ander vrou gelos en toe in 2014 na Brabourne teruggekeer het – is dikwels saam met die koningin en Philip by die Windsor-perdeskou gesien.

Die Brabournes woon op Broadlands, die Mountbatten-landgoed waar die koningin en Philip dele van hul wittebrood deurgebring het. Lord Louis Mountbatten, Philip se oom, was Norton se oupa.

Lady Penny Brabourne en prins Philip (in die groen trui) het ’n gedeelde passie gehad vir perdekar-ry. Dié foto is in 2006 in Windsor geneem. Foto: Getty Images
Philip se Duitse familie

Brabourne is saam met drie verteenwoordigers van Philip se Duitse kant van die familie, prins Philipp van Hohenlohe-Langenburg (’n grootneef), prins Bernhard van Baden (’n grootneef) en landgraaf Donatus van Hesse (neef), die enigste onbekendes op die gastelys.

Philip se Duitse familie – vier van sy susters is met Duitsers getroud – was nie welkom op sy troue met prinses Elizabeth nie.

Elizabeth se ma, die koninginmoeder, het altyd na Philip as die “Hun” verwys (’n onvleiende term waarna Britte tydens die Eerste Wêreldoorlog na Duitsers verwys het).

Hy en die koningin het dikwels by sy Duitse familie gaan kuier en hulle is ook dikwels saam in die koninklike losie by die Windsor-perdeskou gesien.

Philip word Saterdag om 16:00 Suid-Afrikaanse tyd uit die St. George-kapel in die Windsor-kasteel ter ruste gelê. Netwerk24 gaan regstreeks oor die begrafnis verslag doen.

Prins Donatus, landgraaf van Hesse, is een van prins Philip se Duitse familielede wat sy begrafnis gaan bywoon. Drie Duitse familielede gaan Philip se oorlede vier susters op sy begrafnis teenwoordig. Foto: Getty Images

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.