Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
William ‘mis vir Harry’

Prins William en sy broer, prins Harry, is nie as vriende uitmekaar ná die Sandringham-beraad verlede jaar nie. Die twee broers het gaan stap nadat hulle saam met hul ouma, koningin Elizabeth, en pa, prins Charles, oor Harry en sy vrou, Meghan, se besluit gepraat het om as senior koninklikes terug te staan.

Daar is steeds ’n kloof tussen hulle, skryf Roya Nikkhah, koninklike korrespondent van The Sunday Times in Londen, in ’n artikel waarin vriende van William die sluier lig oor die kloof tussen hom en Harry en die gevolge van Harry se besluit om die koninklike lewe vaarwel toe te roep.

Harry en Meghan se onderhoud met die kletskoningin Oprah Winfrey het William “laat steier”, sê vriende, wat nie hul name genoem wil hê nie, in die artikel getiteld “Up close and personal with Prince William: An intimate portrait of the future king”.

Die stuk, wat maande se onderhoude geverg het, het Nikkah op Twitter geskryf, is op die voorblad van The Sunday Times se tydskrif bemark as “The Other Brother: What Makes William tick – by his closest friends”.

Elke keer as daar ’n drama was, of ’n personeellid gedreig het om te bedank, was dit William wat persoonlik ingegryp en dinge probeer uitsorteer het.

In die artikel skryf Nikkah die rede waarom William tydens hul laaste verpligting saam as senior koninklikes kil teenoor Harry was, was omdat hy gemeen het Harry was oneerbiedig teenoor hul ouma koningin Elizabeth in hul verklaring oor die gebruik van die woord “royal” buite Brittanje (die Sussexe het gesê die monargie het geen jurisdiksie oor die gebruik van die woord nie, maar dat hulle nogtans nie van hul aanvanklike handelsnaam, Sussex Royal, of Royal, oorsee gebruik sal maak nie).

Die ysigheid tussen die Cambridges en die Sussexe was duidelik te sien toe hulle saam met die koningin en ander senior koninklikes in Maart 2020 die diens ter ere van Statebondsdag in die Westministerabdy bygewoon het.

Die ysige stilte: Prins William het voor die aanvang van die diens vir die Statebond in Maart verlede jaar omgedraai om met sy oom, prins Edward, te praat, maar nie ’n woord met sy broer, prins Harry gesels nie. Ook Catherine, hertogin van Cambridge, het met Edward se vrou, Sophie, gesels, maar nie vir Meghan gegroet nie. Foto: Getty Images

William was ook die een wat volgens bronne voor Harry en Meghan se troue in Mei 2018 gemoedere probeer kalmeer het. “Elke keer as daar ’n drama was, of ’n personeellid gedreig het om te bedank, was dit William wat persoonlik ingegryp en dinge probeer uitsorteer het.”

Die twee broers en hul vroue het toe nog ’n huishouding en personeel gedeel, maar namate hulle toenemend koppe gestamp het oor die inhoud en styl van hul werk, asook die familiehiërargie, waarvoor Harry nie te vinde was nie, was ’n skeiding onvermydelik, word in The Sunday Times berig.

Toe daar in Maart 2019 besluit is om hul huishoudings te verdeel, was ’n skeuring onvermydelik. Die Sussexe het ook nie soos beplan in die wooneenheid langs dié van William en Catherine in die Kensingtonpaleis ingetrek nie.

Die Sussexe se verhuising en gepaardgaande verbouings aan Frogmore Cottage in Groter Windsorpark het destyds die tonge laat klap. Harry en Meghan het nadat hulle ’n allemintige kontrak met die stromingsdiens Netflix gesluit het, die geld verskuldig vir die verbouings aan Frogmore Cottage terugbetaal.

Gemoedere loop steeds hoog twee weke ná die onderhoud waarin Meghan die monargie van institusionele rassisme beskuldig het en Harry onder meer gesê het William en hul pa, prins Charles, is gevangenes van die instelling, maar dat hy kon ontsnap.

Die voorblad van The Sunday Times se tydskrif met die eksklusiewe artikel oor prins William. Foto: Twitter/RoyaNikkah

Nikkah skryf dat William allermins ’n gevange is en sy rol as ’n toekomstige monarg aanvaar het.

William sal volgens sy vriende ’n moderne monarg wees en het ’n kleintjie dood daaraan om met “celebs” vergelyk te word. Hy wil ook nooit as irrelevant of vervelig bestempel word nie.

Met koninklike korrespondente soos Chris Ship van ITV News wat meen Harry sal moontlik weens die skeuring tussen hom en sy gesin nie in Junie na Brittanje reis vir familiefeesvierings vir sy oupa prins Philip se 100ste verjaarsdag nie, is dit ook onduidelik of Harry en William selfs op 1 Julie saam by die Kensingtonpaleis sal wees om ’n standbeeld ter ere van hul ma, Diana, prinses van Wallis, te onthul.

William mis vir Harry, sê ’n vriend. “Hulle het alles in hul lewe gedeel.”

William ervaar ook nou meer druk weens sy broer se keuses. “Dit is nie maklik nie.”

’n Ander vriend sê: “Alles is nog rou. Hy is baie ontsteld oor alles wat gebeur het, hoewel hy van voornemens is dat hy en Harry se verhouding met verloop van tyd sal herstel.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.