Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Zozi op tuisdorp se biblioteek-muur verewig
Zozibini Tunzi (naasregs), Mej. Heelal, staan Sondag voor die muurskilderwerk wat Sondag vir haar in Tsolo onthul is. Saam met haar staan die kunstenaars Aphethuxolo Sibariboyi (links), Azola Ntlantsana (naaslinks) en Lwando Hlazo (regs). Foto: Yolanda van der Stoep

Selfs nadat Zozibini Tunzi, Mej. Heelal, oor enkele dae weer haar klein tuisdorp in die Oos-Kaap vir die besige strate van New York verruil, sal ’n deel van haar altyd tuis bly.

Dit is danksy ’n massiewe muurskildery wat Sondag teen die muur van ’n biblioteek in Tsolo onthul is.

Die Home of the Queen-muurskilderwerk is spesiaal geskep deur drie jong Oos-Kaapse kunstenaars vir Tunzi se eerste tuisbesoek nadat sy die Mej. Heelal-kroon in Desember 2019 in Atlanta, Georgia, verower het.

Tunzi is Sondag onder groot toejuiging in haar geboortedorp terugverwelkom, waar sy opgewonde toegekyk het hoe die kunswerk van haar, in tradisionele kleredrag en deur jong mense omring, bekend gestel word.

“Hulle het my. Die skilderkuns is pragtig en ek is mal daaroor dat hulle my in ’n tradisionele kledingstuk, ’n helderkleurige Xhosa-kraleketting en ’n kralekopstuk vertoon.

“Almal wat hier woon, kan hulle daarmee vereenselwig en ek kan die beeld enige plek ter wêreld saam met my dra,” het Tunzi in reaksie gesê.

Zozibini Tunzi teken haar naam op die muurskilderwerk. Foto: Yolanda van der Stoep

Die muurskilderwerk se kunstenaars, Lwando Hlazo en sy suster, Azola Ntlantsana, asook Aphethuxolo Sibariboyi, was Sondag oorstelp om in die teenwoordigheid van hul “heldin” te wees.

Beplanning vir die kunswerk het reeds begin met die aankondiging dat Tunzi ’n draai in die Oos-Kaap sal maak nadat sy as Mej. Heelal gekroon is.

Hoewel Hlazo en Ntlantsana deesdae in Oos-Londen woon, is albei boorlinge van Tsolo en woon hul ma steeds hier. Volgens die drie kunstenaars is die kunswerk geskoei op Tunzi se eie woorde: “Dit gaan nie oor waar jy vandaan kom nie, maar waarheen jy op pad is, is wat belangrik is.”

Hlazo, wat muurskilderwerk as stokperdjie en professioneel skep, sê hy het daarvan gedroom om ’n muurskilderwerk vir Tunzi in Tsolo te ontwerp.

“Ons wil haar onsterflik maak en die motivering behou as ’n daaglikse herinnering aan die jeug en almal wat deur Tsolo beweeg.”

Op die muur is oop spasies gelaat om die plaaslike jeug te inspireer om iets besonders te vermag, sodat hulle ook hul name op die muur kan skryf.

Tunzi was Sondag die eerste een wat haar naam op die muur teken.

Meer oor:  Zozibini Tunzi  |  New York  |  Oos-Kaap  |  Mej. Heelal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.