Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
HULDEBLYK
Charles Fryer onthou vir sy talle bydraes
Skrywer en ook teatermens
Die oud-uitgewer Charles Fryer is onlangs oorlede. Danie Botha ­huldig hom.
Charles Fryer. Skets:Fred Mouton

Charles Fryer maak sy toetrede tot Tafelberg-Uitgewers in 1975. Dit is die begin van sy belangrike bydrae op velerlei maniere tot die Afrikaanse letter­kunde.

Hy was eers ’n Afrikaans-onderwyser by die Hoërskool D.F. Malan, waar hy onder meer baie vir die “skrywers van die toekoms” beteken het.

In daardie jare het ons van die Tafelberg-fiksieredaksie hom genader om keuring van veral poësie te doen. Hy was immers in die laat jare sestig D.J. Opperman se assistent in die departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit Stellenbosch. Later by Tafelberg sou hulle steeds saamwerk, met Opperman tóé as keurder.

Fryer het in Stellenbosch bekend gestaan as iemand wat insig in Breyten Breytenbach se werk het. Hy het self al as student gedig; van die werk is in die bundel Rooiwielwa van 1978 opgeneem.

Met die saamstel van skoolbloemlesings soos Kinders van die Aarde (1998) en ­Kinders van Afrika (2007) het sy onderwyservaring hom ook goed te pas gekom. In 2006 publiseer hy ’n bloem­lesing oor ’n tema waaroor hy graag gesels het: Van ­spoke gepraat.

Aanvanklik was hy boeke­redakteur, later afdelingshoof en uiteindelik uitgewer. Hy het tot met sy uittrede in 2002 weens gesondheidsredes van die verwikkeldste romans en poësie taalkundig en stilisties versorg.

In my leerskooljare hou wyle Berta Smit as redaksiehoof vir ons voor wat die wonderlikste is van uitgewer wees: Dat ’n skrywer na sy familie en vriende sal draai en sê: “Ontmoet my uit­gewer!” Maar dit beteken dat daar wedersydse vertroue tussen skrywer en uitgewer moet wees. Vir die uitgewer beteken dit dat jy die skrywer se vertroue waardig moet wees. Vandaar die ­agting vir die skrywer en die teks, die hoflikheid en ­diplomasie, jou volgehoue konsentrasie, die wik en weeg, die nugter krities wees.

Ek glo dat Fryer menige skrywer se vertroue wel deeglik gewen het.

Daar is ook die stres van keerdatums, moeilike ­ver­gaderings, die kritieke ­oomblik wanneer ’n skrywer die eerste keer sy boek se omslag­­ontwerp sien; botsings met jou kollegas, ensovoorts. En om 24 uur in diens van die firma te wees.

Waar is die Saterdagmiddae, die Sondagaande laat dat ek stapels manuskripte op kantoor gesit en keur het, en langsaan kon ek stemme hoor! Soms vrolikes. Dit is Nèlleke de Jager of Ettie ­Williams wat Fryer help met kontrolering aan ’n Elsa ­Joubert, F.A. Venter of ­Dalene Matthee . . . Hy was dikwels bekommerd dat hy sy gesin afskeep. Loreinne was al die jare die sorg­saamheid self; Charleinne, William en Andrea het ­gereeld in Tafelberg se ge­fotostateerde blad, Onder Tafelberg, by wyse van ’n storie of foto’s verskyn. (Tja, vir Fryer kon jy laat vermurwe met foto’s; hy kon lank daarna kyk.) Hy kon ook ’n vrygeestige vader des huis wees.

Eendag neem hy mos van hulle Sandy Bay toe. Veral William het mooi vir Pa ­geluister. Hy het gekyk, maar nie uitgewys nie.

Vir my het hy ook aan­gemoedig om meer “hekkies” oop te maak; darem nie ­oorversigtig te wees met jou redigering nie. Toe kry hy op ’n dag van my Die Soft Rock Klub op sy lessenaar. Berooid het hy gesub.

Fryer was ook ’n teatermens. In die beginjare van die H.B. Thom-teater het hy as student byvoorbeeld Banquo in Macbeth onder prof. Fred Engelen se regie vertolk. Teenoor Tine Balder was hy ’n vryer in Yerma, en Ben Dehaeck het hulle die ­gestileerde Molière-passies geleer (by Tafelberg het Fryer vir my as student by die Akademie vir Dramakuns uitgedaag tot “even Molièren” wanneer dinge darem te serieus raak). Fryer het ook Die Vampier geskryf en opgevoer met Annalize van der Ryst (7de Laan se Matrone) as adellike heerssugtige, en die latere letterkundige Etienne Britz as die bloed­lustige. Loreinne onthou dat hy nogal probleme gekry het met die vals bloed en sommer dwarsdeur ’n toe deur gestorm het.

In die beginjare van ons ­televisiediens het Fryer in middernagtelike ure vir Die Burger die dag se programme – met sy kenmerkende ­gestroopte skryfstyl en ­verrassende beeldspraak – bespreek. Hy was ook lank lid van die beoordelaarskomitee vir die Fleur du Cap-toneelpryse, met studenteteater as spesialiteitsterrein.

Fryer se onvergeetlikste skryfwerk, naas Rooiwielwa, was die passiespel, Só Moes die Liefde Ly, uit die jare ­neëntig.

Dit was moontlik die indrukwekkendste, ontroerendste en die skouspelagtigste toe dit in die Kango-grotte aangebied is

Charles Fryer (1946 - 2014)

Ek knip my naels so eksie-perfeksie

vir my indertydse uitgewer

vir die man met die groot-groot lag

vir hóm met die bont-bont das

in wie se netjiese hart

soveel onrustige digters kon pas.

Sonder horlosie op die arm

potlood in die hand

stip hy nougeset

in die kantlyn vrae aan

oor ’n rymdwang, slot

of onsoepele toespel.

Nou is die sirkel voltooi

en die o-klanke

van mý klein rooiwielwa

sou hom beslis nie ontgaan.

Heengaan, weggaan, trustaan?

Gaandeweg verlaat ons tog dié spel.

In die omtes van jou groot-groot hart,

vergeef tog dié ongebreidelde smart:

“van julle sal ek niks meer vra,

ek gaan saam met die rooiwielwa.”

Dit prik, dit vlym, dit skryn

hierdie afskeid aan die Hantam-man.

– Joan Hambidge

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.