Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Danie Bosman se musiek nuut afgestof
Een van die min foto’s van Danie Bosman wat beskikbaar is.

Danie Bosman se stem roep uit die graf om erkenning.

Hy is te gou dood en het nie die nodige eer vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek gekry nie.

Só meen Ingrid Howard, vervaardiger van Ou Musikant, die verhaal van Bosman soos gesien deur die oë van sy vrou, Dorothy, en wat op die Woordfees te sien sal wees. Bosman se liedereskat is indrukwekkend. Baie van hierdie liedjies word vandag nog uitgevoer, en niemand weet eers dat hulle uit sy pen kom nie.

So is daar “Boereseun”, “In die skadu van ou Tafelberg”, “Oom Bossie van die Bosveld”, “Kaapse Draai”, “Ou musikant”, “In my skemeruurtjie”, “Bergrivier” en “Daar onder in die Kaap”, om maar ’n paar van die meer as dertig oorspronklike liedjies wat geskryf het, te noem.

“Destyds was daar nie uitgewers vir musiek in Suid-Afrika nie,” vertel Howard. “Bosman was ’n staatsamptenaar wat later verder studeer het om ouditeur te word. Hy was ’n stil man wat nie eers geld gehad het om sy bladmusiek uit te gee nie.

“Dis so hartseer dat ander mense geld uit sy komposisies gemaak het, maar hy nie. Wie weet hoeveel hy nog sou kon bydra as hy nie so vroeg (op 39) oorlede is nie.”

Van dié begaafde komponis wat Nico Carstens beskryf as een van Suid-Afrika se grootstes, bestaan daar skaars ’n foto.

Die gegewe in Ou Musikant is Bosman se drome van komponis wees. Hy het musiek geskryf in die depressiejare. In daardie jare was daar nie baie oorspronklike Afrikaanse musiek nie. Toe hy wel sy eie musiek begin skryf, kon niemand bekostig om sy musiek te koop nie.

’n Interessante feit is dat hy as kind reeds eksperimenteer het met bottels wat tot op verskillende vlakke met water gevul is.

Dis ook aangrypend dat sy vrou, Dorothy, ’n antieke linnekas verruil het vir ’n klavier sodat haar man kon komponeer. Sy musiek is wel later deur die SAUK uitgesaai.

Volgens Howard was Bosman sy tyd jare vooruit. Sy musiek is gekomponeer met die uitsonderlike potensiaal om as jazz, blues of as ligte musiek vertolk te word. Om hierdie rede gaan dit juis in hierdie verskillende genres uitgevoer word.

“Die liedjies is nuut afgestof. Hano Smit het die verwerkings gedoen. Ons het dit nie gedoen om die musiek te verdring nie, maar bloot om te wys hoe tydloos sy musiek is.”

Op die verhoog sal Marlie Kock die rol van Dorothy vertolk en André Terblanché dié van Bosman. Die orkes is Hano Smit (kitaar), Shawn Johannes (bas), Tracy Apollis (klavier), Adam Coolsaet (tromme), Zeke la Grange (saksofoon) en Renata Riedemann (viool).

- Ou Musikant word op Vrydag 14 Maart om 15:00 in die Endlersaal as deel van die US Woordfees opgevoer. Bespreek by Computicket.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.