Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
nuwe digbundel
Danie Marais kom terug aarde toe
Danie Marais se derde digbundel, Solank Verlange die Sweep Swaai, is nou op die rakke. Bibi Slippers het by hom gaan aanklop om oor die digkuns (en sy dogter se versameling drake) te gesels.
Danie Marais

’N Gesprek met Danie Marais het altyd ’n klankbaan en op dié Vrydagmiddag in sy huis in Stellenbosch is dit Natalie Merchant se liedjie “Giving Up Everything”.

“Daar is ’n bevryding in moed opgee en oorbegin,” sê die donkerkop digter, wat in sy jongste boek onder meer die trauma van ’n egskeiding, die wel en weë van ’n enkelpa en die hoopvolle begin van ’n nuwe liefde opteken.

In vergelyking met sy vorige twee bundels, die bekroonde In die Buitenste Ruimte en sy opvolg, Al Is die Maan ’n Misverstand, verteenwoordig die derde bundel, Solank Verlange die Sweep Swaai, alreeds in die titel ’n afkom aarde toe.

“Ja, ek dink Major Tom het definitief met ’n harde slag aarde toe gekom,” sê hy, met verwysing na David Bowie se “Space Oddity”.

“Dit is maar wat dit is: Met ’n kind raak ’n mens se beweegruimte minder. Jy is verstrengel in ’n klein oorlewingstryd.

“Daar is nie tyd om in die buitenste ruimte rond te dryf nie. The heat is on. Daar is net druk. Ek voel in ’n groot mate het hierdie gedigte ook maar net in ’n absolute drukkoker ontstaan. Ek wou eintlik baie graag ’n roman skryf oor goed wat ek nie 100% eerstehands beleef het nie. Soort van ’n ervaring, wat jy graag sou wou gehad het, deur fiksie verken. Maar toe het my lewe net ontspoor. Ek moes dit maar los. Dis eintlik ’n geval van die volle sirkel voltooi, want net soos toe ek begin skryf het, het ek hierdie keer weer uit ’n sekere soort nood geskryf.

“Aanvanklik het ek dit as ’n soort nederlaag gesien, want ek het gedink ek gaan nou ’n roman skryf – I’m gonna take this to the next level – en hier skryf ek nou weer in selfverdediging gediggies. Maar wat vir my wonderlik is daarvan, is dat ek dink wanneer jy so by 40 kom, sukkel jy regtig om jou geloof te behou in ’n klomp romantiese ideale wat jou in jou twintigs en dertigs aan die gang gehou het.

“Toe gebeur ’n baie interessante ding: Die feit dat ek toe tog uit vertwyfeling weer begin skryf, en dit help terwyl niks anders help nie, het my geloof in die skryf van poësie bevestig. Ek weet nie wat die maatskaplike belang is nie, maar dis iets wat vir ’n mens op ’n persoon­like vlak lewensnoodsaaklik kan wees.”

Die boek is ingedeel in vier afdelings wat elk verteenwoordig word deur ’n verskillende adres waar Marais die afgelope vyf jaar gewoon het.

“Nadat ek Nathan Trantraal se bundel gelees het, waarin hy worstel met werkersklasgoed, het ek besef ek worstel ook maar met hierdie prekêre middelklasbestaan, die promosie-relegasie-wedstryd. Die adresse word ’n manier om te sê ‘hier is dit nou: Middelklas-man worstel onbeskaamd met middelklasprobleme.’ Maar ek het ook besef daar is ’n groot verskil tussen woon in Woodstock, woon in Kylemore net buite Stellenbosch, of woon in die onderdorp van Stellenbosch. Elkeen van daardie plekke beïnvloed die naggeluide wat jy hoor, jou vrese, jou drome. Op party plekke is dit makliker om ’n valse gevoel van veiligheid te hê. Dit laat ’n mens wonder: As my perspektief so geweldig verander kan word deur die klein skuifies wat ek gemaak het, hoe onmoontlik is dit om die perspektief van soveel Suid-Afrikaners te verstaan wat in plekke woon wat jy altyd net van buite sien, wat eintlik vir jou onvoorstelbaar is.”

Twee karakters wat gereelde verskynings in Solank Verlange die Sweep Swaai maak, is Marais se kat, Levinia, en sy dogtertjie, Lea, wat kom gesig wys tydens ons gesprek. Levinia kom om haar kop te laat krap en Lea wys haar gunsteling-drakie in haar indrukwekkende versameling speelgoeddrake.

“Ek was al baie na daaraan om die digkuns af te sweer, en ek wil graag glo dat ek sou kon. As jy ’n rekenmeester is, sal jy altyd ’n goeie balansstaat kan optrek, want dis deel van jou professionaliteit.

“Maar om kreatief iets van waarde te maak moet daar ’n persoonlike kompulsie en obsessie by jou talent en visie kom. In die groter kosmiese prentjie maak dit regtig nie saak of ek nog twee boeke skryf, of vier, of geen nie. Dit maak nie vir my sin om te skep as jy die mense rondom jou gaan verwaarloos in die naam van jou talent of kuns nie.”

Sy aanhangers is verlig dat hy tans nog ’n balans vind tussen die digkuns en sy dogter met haar drakies. Hy glimlag kopskuddend vir Lea. “Toe ek vir haar sê: ‘Kyk, Lea, Pappa het ’n nuwe boek,’ was haar reaksie: ‘Wow, lucky jy!’ ”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.