Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Dans
Ballerina Kitty Phetla verskuif grense
Kitty Phetla

Kitty Phetla is een van ’n handjievol swart ballerinas oor die wêreld heen. Sy moes nie net hard werk om ernstig opgeneem te word nie, sy moes ook tegnieke vind om kenners te oortuig dat sy sekere rolle kán dans al glo hulle sy is te lank.

Harde werk het dié danser van Alexandra, Johannesburg, verder gebring as wat sy ooit kon droom. Sy is ook ’n choreograaf, model, radioaanbieder en bowenal ’n gerespekteerde ballerina.

As Standard Bank se Jong Kunstenaar vir Dans het sy nóg ’n grens verskuif: Vir haar optrede op die Nasionale Kunstefees in Grahamstad het sy die eerste keer ’n vorige wenner genooi om saam met haar te dans.

Nduduzo Makhathini, wat in 2015 Standard Bank se keuse as Jong Danser was, en Phetla sal in ’n splinternuwe produksie hulde bring aan die “heilige stamboom van siele” wat ’n invloed op hul ruimte en werk het.

Going Back to the Truth of Space is ’n reis waarop godsdiens, rituele en die stryd om die herstel tussen danser (Phetla) en kunstenaar-sangoma (Makhathini) blootgelê word.

Phetla het die dans gechoreografeer, Makhathini het die musiek geskep wat hy ook self uitvoer en Lindsay McDonald is die vervaardiger.

Phetla vertel toe sy as jong kind met ballet kennis gemaak het, was dit ’n sterk Westers-georiënteerde kunsvorm. Dit het egter so ontwikkel dat dit bo kultuur-gebondenheid uitgestyg en deesdae ook vir die swart gemeenskap bekend en aanvaarbaar is. “Suid-Afrikaners hou daarvan om te beweeg; ons het ’n innerlike ritme en polsslag,” sê Phetla.

“As choreograaf het ek die wonderlike geleentheid om die etniese en klassieke, die ritme en siel te versmelt, wat ek absoluut betowerend vind.”

Een van die hoogtepunte in Phetla se loopbaan was in 2012 in Amsterdam toe sy die eerste swart ballerina geword het wat die bekende solo-sekwens “Die sterwende swaan” gedans het. Dit het haar strewe om te presteer nuwe vuur gegee.

Sy sê psigiese en kognitiewe voorbereiding voor ’n opvoering is net so onontbeerlik soos passie. “ ’n Danser ding voortdurend teen haarself mee en dit is dié stryd wat my help om elke dag teenslae te oorkom, myself aan my skoenveters op te trek en opnuut na volmaaktheid te streef.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.