
Die Amerikaanse danser Madison Brown. Foto: Verskaf
Was dit nie vir Covid-19 nie, sou die opneem van uitvoerings in die vermaakbedryf nie posgevat het nie en sou die galavertoning van die Suid-Afrikaanse Internasionale Balletkompetisie (SAIBK) in Julie verlede jaar nie weer uitgesaai kon word nie.
Dit is die “tegnologiese wonders” wat Dirk Badenhorst, die uitvoerende hoof van die SAIBK, die geleentheid gee om met ’n heruitsending geld vir Waiting in the Wings in te samel.
Dié organisasie sonder winsbejag sien om na kunstenaars wat in hierdie tyd geen inkomste kan verdien nie, ’n situasie waaraan talle tans uitgelewer is.
Badenhorst sê die vertoning huldig ook die fenomenale Suid-Afrikaanse balletdanser Kirvan Fortuin, wat verlede jaar op 28-jarige leeftyd vermoor is.
Die sterre in die kompetisie, wat aanlyn aangebied is en meer deelnemers gelok het as voorheen, tree in die skouspelagtige galavertoning op.

Die Suid-Afrikaanse balletster Leroy Mokgatle. Foto: Verskaf
Onder hulle is die Chinese dansers Xinyue Zhao (20), die wenner in die junior afdeling, en die senior wenner, Chongzheng Guan (21).
Ander medaljewenners wat hul talente ten toon stel, is Madison Brown (15) van die VSA en Yasiel Bello Hodelin (18) van Kuba.
Hulle word aangevul deur dansers wat reeds internasionaal optree, naamlik Margarita Fernandes van Portugal, Aaron Smyth van Australië, Juan Carlos Osma
en Dayana Hardy van Kuba en die Letlandse dansers
Annija Kopstale en Elza Leimane.
Twee Suid-Afrikaners in die vertoning is Leroy Mokgatle en Joshua Williams. Albei is tans in Switserland gevestig.
Jong dansers van balletskole in China tree ook op.
Die galavertoning sal van 14 tot 28 Februarie aanlyn te sien wees, maar kaartjies is reeds by tickets.tixsa.co.za/event/saibc-ballet-gala beskikbaar.