Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Dans
Danser sterf kort voor geboorte van 2de kind

Die danser-choreograaf Themba Mbuli (33) is Maandag – sowat ’n week voor die geboorte van sy tweede kind – in Kaapstad dood.

Volgens David April, voormalige hoof en artistieke direkteur van die Moving Into Dance Mophatong-dansgeselskap (MIDM), het ernstige hoofpyne Mbuli die afgelope sowat twee weke platgetrek.

Themba Mbuli Foto: Twitter

Mbuli, een van April se protégés, is Donderdag in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad opgeneem nadat hy duiselig was en boonop begin braak het.

“Hulle het bloedtoetse gedoen, X-strale geneem, en hom die volgende dag ontslaan. Ek dink nie hulle (medici) het hom hul volle aandag gegee nie,” beweer April.

“Ek het oor die naweek met sy lewensmaat, Lorin Sookool , gepraat. Sy het gesê hy raak nie beter nie. En toe is hy Maandag omstreeks 10:00 dood.”

Die oorsaak van sy dood is nie bekend nie. Begrafnisreëlings word nog getref, insluitende om sy lyk na Johannesburg te vervoer waar hy begrawe sal word.

Mbuli het ook ’n 13-jarige seun.

Themba “Dredz” Mbuli het in Zola, Soweto, grootgeword. Sy ma is in ’n motorongeluk dood toe hy net agt jaar oud was, en sy ouma het hom en sy sibbe weens ’n afwesige pa grootgemaak.

Mbuli skryf in ’n kort lewensgeskiedenis, wat April aan Netwerk24 verskaf het, dat hy as jong seun “net een droom” gehad het – om ’n mediese dokter te word. Hy het egter op skool sy hart op teater verloor en het in 2003 by die Zola Musical Drama-jeugteatergroep aangesluit, waar sy liefde vir drama, musiek, digkuns en tradisionele en moderne dans gekweek is.

In 2006, as deel van die gemeenskapskuns-groep Khulumani Support Group, het Mbuli voor ’n groep Sweedse beroepsmense opgetree. Hy het in die vertoning die oog van Kent Ekberg gevang, wat Mbuli se talent raakgesien het en hom aan April voorgestel het.

Ekberg en April het saam as mentors vir Mbuli opgetree en verseker dat hy sy formele dansopleiding by die MIDM in Newtown kan voortsit. Hy het in 2007 ’n sertifikaat in die uitvoerende kunste verwerf.

Dié opleiding het hom vlerke gegee om sy loopbaan met ’n knal te begin: Hy het in 2008 deel van die Inzalo-dans-en-teatergeselskap geword, in 2009 en 2010 heeltyds by die MIDM as danser-choreograaf gewerk, en in 2011 by die Franse teatergeselskap Theatre Taliipot in Reunion aangesluit.

Themba Mbuli in die dansstuk ‘Dark Cell’. Foto: Lerato Maduna

Hy het sy sololoopbaan in 2012 met sy eerste solostuk, Dark Cell, begin en, afgesien van kunstefeeste in Suid-Afrika, ook in Argentinië, Engeland, Nederland, Swede, Uganda, Wallis en Zimbabwe opgetree.

In 2016 is hy aangewys as Standard Bank se jong kunstenaar vir dans.

Mbuli sal onthou word vir sy hand in die Broken Borders-kunsteprojek, die gemeenskapsjeugklub New Beginning Theatre Production, en veral die Unmute-dansgeselskap, wat hy in 2014 saam met Nadine Mckenzie , Mpotseng Shuping en Andile Vellem gestig het. Dié geselskap, wat in die Kunstekaap gesetel is, beywer hom die afgelope sewe jaar vir die skep van inklusiewe projekte vir dansers met en sonder gestremdhede.

Mckenzie sê aan Netwerk24 dit is veral by Unmute en in stukke soos Sold, Ashed en Autho(r)ise waar sy werk boekdele spreek van die kunstenaar en man wat hy was.

“Sy bydrae tot die kunstebedryf was enorm en hy het deur sy werk veral ’n groot impak op die danslandskap gemaak. Sy werk het die waarheid ontbloot, dit was op persoonlike ervarings gegrond, en dit was grensverskuiwend.

“Dit was belangrik vir hom om altyd mense van verskillende kunste-agtergronde en mense met en sonder gestremdhede te betrek – ook om inklusiwiteit in die kunste te bevorder.”

Sy sê Mbuli sal altyd onthou word as iemand wat saggeaard, nederig en beleefd was.

“Hy het altyd mense met wie hy gewerk het, laat glimlag of laat lag. Ons sal hom onthou vir die passie wat hy vir sy werk gehad het, sy ywer en sy positiewe ingesteldheid, maar veral die sorg en liefde wat hy aan almal getoon het wat in kontak met hom gekom het.”

– Bykomende bronne: tmbulism.wixsite.com/website, unmute.co.za, anybodyzine.org.za, Facebook

Hulde vir Mbuli stroom op sosiale media in

“Die bestuur en personeel van die Baxter-teater is baie hartseer oor die afsterwe van Themba Mbuli, buitengewone kunstenaar, choreograaf en vriend. Ons innige meegevoel aan sy gesin, Nadine Mckenzie, en die hele Unmute-dansgeselskap, kollegas en vriende. Ons bid vir vertroosting, krag en lig. ’n Groot verlies vir die kunstegemeenskap. Themba het in 2016 laas in die Baxter in die Sweeds-Suid-Afrikaanse-projek Adagio for a Hacked Life opgetree, in dieselfde jaar wat hy die Standard Bank jong kunstenaar vir dans was. Mag sy pragtige siel saam met die engele in die hemel dans.”

– Fahiem Stellenboom, die Baxter-teater se bemarkingsbestuurder

“Ek kan net nie hierdie ongelooflike hartseer nuus oor Themba Dredz Mbuli se heengaan verwerk nie. Dit voel net nie reg nie. Jy het nog soveel gehad om te gee, te deel en te vertel. Jy was vir my so ’n inspirasie – jou ywer, harde werk en vriendelikheid was aansteeklik. Jy sal baie gemis word. Dankie dat jy jou liefde, skoonheid en hart met ons gedeel het. Jou nagedagtenis leef voort. Rus sag, liewe Themba.”

– Grant van Ster, medestigter van die Figure of 8-dansgroep

“Ek het ‘verlief’ geword op sy absolute toewyding aan sy ambag, sy sagte siel, wat in sy sagte stem dikwels verkeerd as skaam geïnterpreteer is. Sy soeke na kennis het van hom ’n diep denker, ’n visioenêre en ’n humanitêre persoon gemaak.

“Sy doelwit was inklusiwiteit sonder enige verskonings, geen vooroordeel nie. In sy lewe het hy sy droom van dans en reis en selfs ’n gesin nagestreef.

“Te midde van die Covid-19-pandemie in 2020 het Themba sy beste werk gedoen. Unmute het met gedokumenteerde vrae wat mense aan ander met gestremdhede vra, stereotipes rondom gestremdheid aangespreek. Hy het dit ’n lewenstaak gemaak om die denke van mense te verander deur sommige mites oor mense wat anders bekwaam is, te weerlê.

“Themba, jy sal regtig gemis word. Jy het in jou jong lewe ’n leeftyd geleef.”

– Uittreksels uit ’n langer huldeblyk deur dr. Marlene le Roux, hoof van die Kunstekaap

Meer oor:  Dans  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.