Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Dans
Dansers vanoor wêreld sak in Julie op Kaap toe
Elena Iseki van Japan studeer aan die Belynse Staatsballetskool. Sy was sestien toe sy aan die Suid-Afrikaanse Internasionale Balletkompetisie deelgeneem het en ’n goue medalje gewen het.

Sewe van die voorste balletlui in die wêreld kom in Julie na Kaapstad om te dien in die beoordelaarspaneel vir die 7de Suid-Afrikaanse Internasionale Balletkompetisie, die enigste balletkompetisie in Afrika. Die vooraanstaande kompetisie word van 13 tot 17 Julie in die Kunstekaap in Kaapstad aangebied.

Die beoordelaars is:

* Die Suid-Afrikaanse danser Thoriso Magongwa, wat verbonde is aan die nasionale teater in Brno in die Tsjeggiese Republiek, en wat al van sy tienerjare dans op wêreldverhoë. Hy is gebore in Soweto en het van vroeg af daar opgang gemaak by die Ballet Theatre Afrikan.

Margarita Fernandes van Portugal het ’n silwer medalje in die Suid-Afrikaanse Internasionale Balletkompetisie gewen. Sy was 12 toe hierdie foto geneem is.

* Uit Nederland kom Ted Brandsen van die Nasionale Ballet. Brandsen het wêreldwyd die toon aangegee as danser en choreograaf en ook agter die skerms. Hy was ook voorsitter van die jurie vir die hoogaangeskrewe Prix de Lausanne-balletprys in 2018.

* Annarella Sanchez van die Annarella Sanchez Instituut vir Ballet en dans in Portugal. Sy is bekend om haar opleiding van jong dansers wat in voeling met die kind is.

* Christian Spuck regisseur en choreograaf van die Zürich Ballet in Switserland bekend om sy innoverende en vernuwende aanslag tot klassieke ballet.

* Geung Soo Kim, president van die Balletvereniging van Suid-Korea,

* Madame Feng Ing is sedert 2009 direkteur en artistieke direkteur van die Nasionale Ballet in China

* Martha Iris Fernandez Aguero van die Nasionale Balletskool in Kuba.

Geld vir die balletkompetisie word deur die Nasionale Lotery beskikbaar gestel en dié ondersteuning geld ook vir ander inisiatiewe rakende die kompetisie.

Deelnemers word in drie kategorieë verdeel, naamlik leerlinge van 12 tot 15 jaar oud, juniors van 16 tot 20 en seniors van 21 tot 28. Die deelnemers moet klassieke en kontemporêre werke uitvoer. Kinders jonger as dié ouderdomme mag op aanbeveling van die bestuur deelneem. Brons, silwer en goue medaljes asook geldpryse is op die spel.

Die kompetisie is in 2008 begin deur Dirk Badenhorst en word elke tweede jaar aangebied. Volgens Badenhorst het “die aansien van die kompetisie so gegroei dat medaljewenners hier ook medaljes in ander kompetisies wen”.

Danksy die aansien van die kompetisie “kan dié kaliber beoordelaars genader word om op die jurie te dien”, sê hy.

Honderde talentvolle dansers het al aan die kompetisie deelgeneem, van Kuba, Frankryk, Amerika, Brittanje, Japan, Suid-Korea, Rusland, Letland, China, Argentinië en Portugal.

Die kompetisies dien wêreldwyd vir dansers wat die aandag van die hoofde van dansgeselskappe wil trek, asook afrigters op die beoordelaarspaneel.

Die aansoeke sluit op 12 Junie.

Verskeie meesterklasse word vir die duur van die kompetisieweek aangebied deur lede van die beoordelaarspaneel – drie klasse per dag word beplan. So word wêreldtendense in ballet hier bekendgestel.

Die uitdunrondes is Dinsdag 14 Julie tot 16 Julie om 18:00. Die semifinale is op Vrydag 17 Julie om 19:30, die finale ronde op Saterdag 18 Julie en die gala-aand op 19 Julie om 15:00. Hier tree die wenners van 2020 en spesiale gaste op.

Kaartjies kos R150 vir die eerste rondes. Kaartjies vir die finale ronde en die gala-aand kos tussen R65 en R260. Besprekings kan reeds by Computicket gemaak word.

Aansoekvorms is beskikbaar vir aflaai by

www.saibc.com.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.