Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Dans
‘Ek wil herinneringe skep’ - Andile Ndlovu
Andile Ndlovu en Precious Adams tydens die repetisies vir Sleeping Beauty in Kaapstad.

Op tien was Andile Ndlovu ’n ywerige bal- en Latyns-Amerikaanse danser. Toe is sy dansmaat skielik vort en skryf hy hom op 15 die eerste keer in vir balletklasse by Martin Schoenberg, direkteur van die Ballet Theatre Afrikan in Johannesburg.

In 2007 dans hy sy eerste hoofrol in Don Quixote. Nou, op 31, vier hy sy 11de seisoen aan die vooraanstaande Wash­ington Ballet.

Kapenaars kan dié gevierde wêrelddanser hierdie naweek as prins Florimund sien in Kaapstad Ballet se produksie van Sleeping Beauty – waarskynlik een van die “mooiste” en gewildste ballette in die wêreld. Benewens prins Florimund en prinses Aurora is talle feë­verhaalkarakters te sien, soos Rooikappie en die Ge­stewelde Kat.

Ndlovu knyp sy middagete kort vir ’n geselsie in die Kuns­tekaap. Vrolike gille van kinders by die Vlooi-produksie kan gehoor word.

Hy lag en praat opgewonde daaroor om weer by die huis te wees. Sy hele familie is môreaand in gelid met openingsaand in die Kunstekaap in Kaapstad.

“Al het ek Suid-Afrika 19 jaar gelede verlaat, is dit steeds my ware tuiste. Ek is só lief vir die plek; dit is ’n liefde wat nie gaan verander nie.”

By die vooraanstaande balletgeselskap in Washington het hy werklik geleer wat dit beteken om ’n beroepsdanser te wees.

Andile Ndlovu en Precious Adams in Kaapstad vandeesweek tydens die repetisies vir Sleeping Beauty wat in die Kunstekaap opgevoer word.Foto’s : Pat Bromilow Downing

“Ek het professioneel leer wees en om met elke dans na ’n hoër vlak te beweeg in my kuns. Dit beteken nie dit was maklik nie; daar was harde tye waar ’n mens ontmoedig voel. Maar jy moet net die krag in jouself en in jou kuns vind in die mededingende danswêreld.”

Ndlovu is pas benoem as beste manlike danser vir die gesogte Benois de la Danse-prys, wat as die Oscars van die danswêreld bekend staan. Hy moes terugstaan vir die wenner, die Russiese danser Vadim Muntagirov. Muntagirov, tans hoofdanser van die Royal Ballet, is ook op 28 en 31 Augustus in die rol van die prins in Kaapstad te sien.

Ndlovu se prinses Aurora is die veelbekroonde Precious Adams van die Engelse Nasionale Ballet.

Om ’n geloofwaardige liefdesverhouding op die verhoog te vergestalt begin lank voordat hulle saamdans, meen Ndlovu. “Dit lê reeds in die eerste gesprekke wat julle voer, die waardes wat julle deel en jul begrip vir mekaar. As jy jou hand na haar uitreik op die verhoog, beteken dit dus iets. Daar is ’n spesiale band.”

Dit is ook ekstra besonders om teenoor ’n swart ballerina in die hoofrol te dans, meen hy. “Wêreldwyd gebeur dit nie maklik nie – ’n mens sien dit nie. Ek dans hier teenoor iemand van my eie kultuur en Afro-Amerikaanse herkoms; dit is spesiaal. Albei van ons moes die stereotipe opvattings uitdaag in ons loopbane.”

Ndlovu vind steeds ná al die jare sy identiteit in dans.

“Ek identifiseer met die gehoor en hul verwagtinge. Ek weet egter dat dit nie vooruitgang is en dat Sleeping Beauty niks weerspieël van my herkoms as Afrikaan nie – dit moet verander. Ek probeer steeds so prinslik moontlik wees in my vertelling van ’n Europese storie,” benadruk hy.

“Ek identifiseer met die gehoor en hul verwagtinge. Ek weet egter dat dit nie vooruitgang is en dat Sleeping Beauty niks weerspieël van my herkoms as Afrikaan nie – dit moet verander. Ek probeer steeds so prinslik moontlik wees in my vertelling van ’n Europese storie,” benadruk hy.

Daar is wel heelparty prinsrolle wat hy wil vertolk – hy rits die name af: Swanemeer, Giselle en La Bayadère.

Die vertel van Afrika se stories is sy strewe vir effe later in sy loopbaan.

“Dit is moontlik – ons het ook stories van konings en prinse. Dít is hoe ek in die toekoms my talent as choreograaf en dansafrigter wil inspan.

“Daardie stories moet na die verhoog kom, al doen ons dit in kleiner teaters en begin ’n nuwe tipe inslag só vaslê.”

Hy is reeds bekroon vir sy werk as choreograaf en het meer onlangs die werk Guard­ian of the Pool vir Washington Ballet gechoreografeer en het ook plaaslik in Suid-Afrika werke geskep.

Daar dans steeds vlinders in sy maag die oomblik wanneer hy op die verhoog gaan.

“Ek werk nie net vir ’n betaalstrokie nie; ek geniet dit om te dans. Die gehoor sien dat ek honderd persent gee. Ek wil ’n mooi herinnering van elke rol hê. Indien ek dit regkry, gaan die gehoor dit ook onthou.”

  • Die Kaapstadse Filharmoniese Orkes tree môreaand om 19:30, op 23, 24 en 28 Augustus asook op 18 en 31 Augustus om 15:00 saam met Kaapstad Ballet in die Kunstekaap in Kaapstad op. Kaartjies kan by Computicket gekoop word. Skakel 0861 915 8000, besoek www.compu­ticket of besoek die naaste Checkers.
Meer oor:  Kunstekaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.