Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Dans
Internasionale ballet-kompetisie lok meeste inskrywings

Die grootste aantal inskrywings wat tot nóg toe vir die Suid-Afrikaanse Internasionale Balletkompetisie (SAIBC) ontvang is, laat Dirk Badenhorst, die stigter en ballet-entrepreneur, tereg sy bors ver uitstoot.

Van 13 tot 18 Julie sal 155 dansers van 28 lande om geldpryse, beurse en studiebeurse van balletskole en somerprogramme deelneem.

Die Suid-Afrikaanse Internasionale Balletkompetisie het die meeste inskrywing tot nog toe ontvang.

Dit is egter nie net dié groot aanlyn deelname waaroor Badenhorst homself op die skouer kan klop nie; ook oor sy idee vir die ontwikkeling van ’n nuwe app wat die wêreld se teateraanbiedings baie meer toeganklik sal maak.

ArtOfLife is ’n “teater-en-vermaak-app vir alle teaters enige plek ter wêreld”. Dit beteken alle aanbiedings van teaters kan op een plek “besoek” word, die kaartjies kan daar gekoop word en selfs paneelbesprekings “bygewoon” word. Die SAIBC open die baan op die app wat van 6 Julie gratis in die Google Play Store beskikbaar sal wees en op ’n selfoon, tablet, skoot- of gewone rekenaar afgelaai kan word.

Badenhorst sê dit is een van die goeie gevolge van die Covid-10-pandemie.

“Juis om die inperkingsprobleme te omseil het ek ’n tegnologiespan bymekaargekry wat die app ontwikkel het. Dit bied benewens ’n platform vir enige belangstellende teater se produksies ook aan balletdansers tot in die verste uithoeke van die wêreld die kans om aan die SAIBC deel te neem.

“Ons het inskrywings gekry van lande wat nie noodwendig onder normale omstandighede dansers na Suid-Afrika sou kon stuur nie, soos Peru, Kenia, Nigerië, Maleisië, Colombië, Venezuela en Bulgarye. Dit is bo en behalwe die verwagte deelname van die Europese lande, Brittanje, Amerika, Australië en Nieu-Seeland.”

Die Suid-Afrikaanse Internasionale Balletkompetisie word vanjaar van 13 tot 18 Julie aanlyn aangebied.

Badenhorst is ook opgewonde oor die gratis daaglikse paneelbesprekings tydens die balletkompetisie.

“Dit sal die eerste keer wees dat ’n internasionale balletkompetisie ’n platform bied vir besprekings deur voorste kundiges, artistieke direkteure, hoofde van ontwikkelingsprojekte in Afrika en lede van die beoordelaarspaneel. Gesprekke sal gevoer word oor aspekte soos die kriteria van balletskole, ballet as terapie vir posttraumatiese stresversteuring, genderkwessies, oefenvoorstelle in die inperkingstyd, en vele meer,” sê Badenhorst.

In die SAIBC-kompetisie neem dansers in drie ouderdomsgroepe deel; 12 tot 15, 16 tot 20 en 21 tot 28, elk met sy eie beoordelaarspaneel. Elke deelnemer moet ’n kontemporêre en ’n klassieke repertorium uitvoer. ’n Toegewing is egter vanjaar gemaak vir net ’n kontemporêre-inskrywing.

“Dit is om diegene te akkommodeer wie se voorbereiding deur die inperking belemmer is,” sê Badenhorst.

Die wenners sal onmiddellik ná die gala-eindronde op 18 Julie bekend gemaak word. Die beste klassieke mans- en vrouedanser in elk van die drie ouderdomsgroepe ontvang R10 000 elk, en die beste kontemporêre dansers R5 000 elk. Kykers sal elke dag vir hul gunstelingdansers kan stem vir ’n prys van sowat R2 000.

Badenhorst sê nog ’n nuutjie is die afskaffing van uitdunrondes. “Wenners sal deur ’n evaluasieproses aangewys word wat opgevolg word met terugvoering deur die beoordelaars.”

Danksy die virtuele aanbieding kon ook die voorste balletkenners as beoordelaars verkry word. Hulle is die voorsitter Ted Brandsen (direkteur: Nederlandse Nasionale Ballet), Runqiao Du (artistieke direkteur: Kirov-akademie in Washington), Roberta Martins (Zürich-dansakademie, Switserland), die Suid-Afrikaner Thoriso Magongwa (Nasionale Brno-teater, Tsjeggiese Republiek), Charlene Campbell Carey (president: Ballet Without Borders), Geung Soo Kim (president: Balletvereniging van Suid-Korea), Feng Ying (direkteur: China Nasionale Ballet), Martha Iris Fernandez Aguero (adjunkdirekteur: Nasionale Balletskool in Havana, Kuba), Annarella Sánchez (hoof: Ballet- en dansinstituut in Portugal) en Christoph Böhm (Berlynse Staatsballetskool).

* ’n Kaartjie vir kykers kos R900 vir die hele week – balletklasse, paneelbesprekings en alle uitvoerings ingesluit. ’n Dagkaartjie kos R200. Die paneelbesprekings word op Zoom aangebied en gestroom na die SAIBC se Facebook-blad sodat vrae en kommentaar regstreeks gelewer kan word. Die besprekings sal daarna weer uitgesaai word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.