Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Dans
Kirvan Fortuin in aanlyn konsert gehuldig

Sangers, dansers, digters en selfs ’n fopdosser gaan in ’n aanlyn konsert saamspan om hulde aan die ontslape Kaapse danser en choreograaf Kirvan Fortuin te bring.

Kirvan Fortuin Foto: Facebook

Die konsert, wat deur die Kirvan Fortuin-stigting gereël word, vind op 10 Augustus plaas – die dag dat Fortuin sy 29ste verjaardag sou vier.

Netwerk24 het in Junie berig dat Fortuin in Macassar met ’n mes doodgesteek is. Julian Jansen het in Rapport berig dat ’n 14-jarige meisie glo by Fortuin wou brood “leen”. Dit het glo tot ’n stryery gelei, waarna die tiener ’n mes gaan haal en sy Fortuin na bewering in die bors gesteek het. Hy is in sy pa, Steven, se arms dood voordat hulle ’n hospitaal kon haal.

Volgens Lindsay Louis, hoof van die stigting en voormalige diplomaat in Nederland, het die idee vir die huldeblykkonsert ontstaan nadat vriende van Fortuin hom onlangs gevra het hoe hulle sy verjaardag moet vier.

Louis sê hy het dit toe goedgedink om die konsert op die been te bring, nie net ter nagedagtenis aan dít wat Fortuin in sy kort lewe vermag het nie, maar om ook fondse vir die stigting in te samel sodat Fortuin se werk voortgesit kan word.

“Ons doel met die stigting is om dans, maar kuns en kultuur in die breë te gebruik om ’n verskil in die samelewing te maak,” sê Louis.

“Kirvan se groot fokus was dans, maar hy het ook gefokus op sport soos raakrugby – om dit in Macassar te ontwikkel én as wapen vir maatskaplike verandering te gebruik.”

Louis sê die stigting het drie korttermynoogmerke.

“Eerstens wil ons ’n kantoor in Macassar open. Ons dink dit is baie belangrik dat mense in Macassar eienaarskap van die stigting neem en sien dat ons nie luukse kantore elders het wat ontoeganklik vir die mense van Macassar is nie.

“Tweedens wil ons twee beurse stig: Die een beurs aan ’n veelsydige matrikulant van Macassar, en die tweede aan ’n Suid-Afrikaanse danser in enige dansgenre.

“Derdens beplan ons ’n jaarlikse Kirvan Fortuin-lesing oor verskillende maatskaplike kwessies.”

Louis sê die stigting het benewens talle ander projekte – insluitend ’n dans- en sangprojek, ’n Kirvan Fortuin-pretstap, ’n Mnr. en Mev. Macassar-erfenisprojek, asook ’n Mej. Gay Macassar-erfenisprojek, dansgalas, sporttoernooie, ’n Macassar-kunstefees en ’n menseregteprojek in skole – een groot doel voor oë.

Kirvan Fortuin (links) saam met Lindsay Louis, hoof van die Kirvan Fortuin-stigting, in 2015 by die Kwaku-somerfees in Amsterdam.

“Ons langtermyndoelwit is om ’n Kirvan Fortuin Sentrum vir die Kunste in Macassar op die been te bring; daarvoor gaan ons verskillende fondsinsamelings moet hou, maar ons hoop om ook finansiering by die regering en private skenkers te kry.”

Die wegspringplek vir al dié doelstellings is die huldeblykkonsert, wat op 10 Augustus om 20:00 op Satod, die South African Theatre on Demand-platform, gestroom sal word.

Benewens onder andere die digter Diana Ferrus, die dansers Celeste Botha, Marlin Zoutman, Luke de Kock, Lewellyn Afrika, die fopdosser Angel Lalamore en die musikante Kerwin, Enrique Booysen-Pharell en Calvyn Grandling, gaan musiek wat deur Coenie de Villiers verskaf is in die konsert opklink.

“Dit is ’n eklektiese byeenkoms van verskillende genres,” sê Louis. “Ons glo daar is iets vir almal. Al die kunstenaars het vir Kirvan hul beste voet voorgesit, en ons is so bly en trots op hulle.”

Hy sê die konsert is reeds in die Kunstekaap opgeneem en word tans geredigeer, voordat dit later aan Satod gegee sal word.

Kaartjies vir die konsert kos R55, maar dit sal eers vanaf 19:30 op 10 Augustus – ’n halfuur voordat die konsert begin – op www.satod.co.za beskikbaar wees. Belangstellendes kan wel intussen die webblad https://www.satod.co.za/kirvanfortuinconcert besoek en hul besonderhede daar invul sodat hulle ’n kennisgewing kan kry sodra die kaartjieverkope open.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.