Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Dans
‘Kirvan kon vlieg soos ’n arend’

Die Kaapse danser en choreograaf Kirvan Fortuin (28) se lewe is Saterdag onverwags kortgeknip. Christiaan Boonzaier berig oor sy lewe en werk.

Kirvan Fortuin. Foto: Instagram

“Dans is die enigste manier waar ek myself kan uitdruk. Deur dans kan ek by die waarheid uitkom. Dis my eerste taal. As ek wil iets sê, beter ek dit deur dans sê. Dis liefde. Dis haat. Dis alles.”

Só het die Kaapse danser en choreograaf Kirvan Fortuin (28) die betekenis en impak van dans op sy lewe in ’n 2018-insetsel op die kykNET-joernaalprogram Kwêla saamgevat.

Dié woorde is sedert Saterdag saam met hartseer medelye op sosiale media geplaas kort nadat dit bekend geword het dat Fortuin in sy tuisdorp, Macassar, met ’n mes doodgesteek is.

Malherbe Nienaber het vir Netwerk24 berig dat ’n 14-jarige meisie in verband met die voorval wat tot Fortuin se dood gelei het, in hegtenis geneem is. Die polisie het bevestig dat hy onderweg na die hospitaal dood is.

Hy is dood net drie dae nadat sy jongste ballet, Die ballet vir Adam, in die Kunstekaap sou debuteer. Dié wêreldpremière is onlangs weens die staat van inperking uitgestel.

’n Gebore danser

Kirvan Fabiané Fortuin is op 10 Augustus 1991 in Macassar gebore. Hy het vroeër aan Belinda Jackson op Netwerk24 vertel dat hy musiek en dans as laerskoolleerling in die Macassar Primary School deur ’n projek van die Field Band-stigting (FBF) ontdek het.

In sy ouerhuis in Macassar. Foto: Argief / Natalie Gabriels Photography

Later, as leerling van die Hoërskool Zandvliet, het hy saam met die FBF ’n toer na België en Noorweë onderneem, waar sy liefde vir ballet begin blom het. Hy het eers in gr. 11 sy eerste amptelike balletles aan die Stellenbosch-dansakademie ontvang.

Ná skool het hy ’n onderwysdiploma in dans aan die Universiteit van Kaapstad verwerf, voordat hy in 2012 tydens ’n optrede by die Internasionale Teaterskool-fees (ITS) in Amsterdam deur ’n werwingslid van die Codarts-universiteit van die Kunste in Rotterdam raakgesien en ’n beurs daar aangebied is.

Hy het tydens sy studie in Rotterdam op verhoë in Nederland, België, Switserland, Pole en Italië gedans. Benewens optredes by koningin Beatrix se galadinee en die burgemeester van Rotterdam se Kersdinee, is Fortuin ook twee keer deur die Pierino Ambrosoli-stigting in Zürich met ’n beurs vir uitnemendheid in moderne dans bekroon.

Buite die Moulin Rouge in Parys in 2014. Foto: Facebook / Stef de Klerk

Sy studie is gedeeltelik moontlik gemaak deur die legendariese Hongaars-Nederlandse choreograaf Krisztina de Châtel se Imperium-stigting. De Châtel het vanuit Amsterdam aan Netwerk24 gesê dit is “uiters hartseer dat so ’n energieke en talentvolle danser dood is”.

“As danser was Kirvan se liggaam so buigsaam. Hy kon pragtige bewegings met sy arms doen. Hy moes aanvanklik leer hoe om op ’n beheerde manier te werk, maar hy wóú leer en hy was altyd so ingestel op kritiek.

“Hy was ook ambisieus, wat so belangrik is vir enigiemand wat van dans ’n lewe wil maak.”

Nadat Fortuin sy BA-graad in dans in 2016 verwerf het, was hy ’n intern by De Châtel se dansgeselskap, De Châtel Sur Place, en het hy in twee van haar produksies, Waltz en Imperium, opgetree.

“Hy was altyd baie betrokke as danser, ook baie kreatief,” sê De Châtel.

“Later het ons Waltz ook in Kaapstad opgevoer, waar hy ook sy eie choreografie met Kaapse dansers vertoon het, en hy het ook sy eie werk in Nederland vertoon. Hy was werklik baie aktief.”

‘Die vlerkspan van ’n albatros’

Fortuin het hom ná sy studie in Nederland as een van Suid-Afrika se opwindendste jong dansers en choreograwe gevestig. As stigter van die Kirvan Fortuin-stigting én die Fortuin Dance Theatre-geselskap, het hy dansopleiding aan minderbevoorregte gemeenskappe verskaf terwyl hy werke vir die Kaapstadse Stadsballet, Dance Umbrella Johannesburg, die Vrystaat Kunstefees, die Kunstekaap, die Suidoosterfees, en die Nederlandse feeste Afrovibes en die Afrikaanse Kultuurfees geskep het.

Die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport het verlede jaar ’n ministeriële prys aan hom toegeken vir sy uitsonderlike bydrae tot die bewaring en bevordering van ’n inheemse kunsvorm.

Terwyl hy aan sy loopbaan gewerskaf het, het sy pad met van Suid-Afrika se grootste kunstenaars gekruis, met wie hy die afgelope paar jaar saamgewerk en bande gesmee het.

Kirvan Fortuin, ouma Katrina Esau en Coenie de Villiers tydens ’n besoek aan haar in Upington om voor te berei vir ‘Katrina: Die dansende taal’. Foto: Coenie de Villiers
Kirvan Fortuin saam met die Kruiper-gemeenskap anderkant Askham, waar hy meer geleer het oor hul tradisionele dans ter voorbereiding vir sy choreografie van ‘Katrina: Die dansende taal’. Foto: Coenie de Villiers

Die sanger Coenie de Villiers het ’n verklaring aan Netwerk24 verskaf waarin hy sê dit is “min kunstenaars beskore om soos ’n arend te kan vlieg”.

“Kirvan was só ’n kunstenaar. Om hom te sien dans was om iemand met die vlerkspan van ’n albatros oor die verhoog te sien tol – swaartekrag het geen houvas op hom gehad nie.”

De Villiers en Fortuin het vir ’n jaar lank saam aan die produksie Katrina: Die dansende taal gewerk, wat in September 2018 in die Kunstekaap gedebuteer het en in 2019 ook by die Toyota US Woordfees op die planke was.

“Die produksie vertel die verhaal van ouma Katrina Esau, die enigste oorblywende vlot-spreker van die oertaal N/UU,” sê De Villiers.

“Ons het die gemeenskap in die Kalahari besoek om navorsing oor die musiek en dans van die Boesmans te doen. Dit was vir Kirvan ’n saak van eer en ’n taak van passie om seker te maak dat dit korrek én goed was – hy het homself vereenselwig met hierdie gemeenskap.”

De Villiers sê hy sal altyd Fortuin se humor op die langpad deur die Kalahari onthou, ook die liefde en deernis waarmee hy Esau behandel het.

“Ouma Katrina en haar gesin is stomgeslaan deur Kirvan se heengaan, en ek deel hul hartseer. Dit was ’n voorreg om met so ’n jong talent te kon saamwerk. Sy passie vir dans en choreografie het soos ’n vlam gebrand. Ons hoop dat die hitte daarvan ná sy heengaan steeds harte sal verwarm.

“Vlieg hoog, Kirvan – swaartekrag het finaal sy houvas op jou verloor.”

Dit is min kunstenaars beskore om soos ’n arend te kan vlieg. Kirvan was só ’n kunstenaar. Om hom te sien dans was om iemand met die vlerkspan van ’n albatros oor die verhoog te sien tol . . .
Coenie de Villiers

Ook die teaterskepper Hennie van Greunen het Fortuin se dood betreur – net twee weke nadat hulle oor ’n nuwe projek gesels het.

“Kirvan het vir die eerste keer in 2018 saam met ons aan ’n jeugprojek gewerk,” sê Van Greunen.

“Met ons ontmoeting was alles indrukwekkend: Sy studie, sy tyd as danser in Nederland, die werk van die Kirvan Fortuin-stigting.

“Ek dink dat mense wat moeilik grootword, óf verbrysel óf bevlerk aan die ander kant uitkom. Kirvan het in die laasgenoemde kategorie geval. Sy empatie vir mense om hom was ongelooflik om te sien. Hy sou baie keer in sy repetisiekamer ’n leerling kry wat sukkel, wat te senuagtig is, wat geen formele opleiding het nie – dan sou Kirvan ’n paar tegnieke demonstreer, die leerling vir 30 minute uitstuur, en hulle dan weer evalueer. In elke geval was die verskil transformerend.”

Van Greunen sê daar was op die dansvloer “geen twyfel” wie in beheer was nie.

“Sy dissipline was onwrikbaar, sy talent verstommend en sy geduld met die mense wat nie danser-siele gehad het nie, eindeloos. Sy passie vir sy tribe en vir jong mense was inspirerend, so die ironie van sy moord is vir my onverstaanbaar.

“Kirvan was in volle vlug, in wording. Becoming. En wat hy op pad was om te word, sou ons verstom, sou ons leer, sou ons ryker mense maak. Daar sal ander dansers en choreograwe wees, maar vir my sal daar altyd ’n Kirvan-vormige leemte in ons bedryf wees.”

Kampvegter vir gay-regte

Benewens sy werk as danser en choreograaf sal Fortuin ook onthou word as uitgesproke aktivis vir LGBTQI-regte en stigter van die groep House of le Cap, wat die sogenaamde ballroom-kultuur in Kaapstad bevorder het. Ballroom-kultuur sluit geleenthede en veilige hawens in waar lede van die LGBTQI-gemeenskap deur musiek, dans en modelwerk hul lewe kan vier en mekaar kan ondersteun. Fortuin het House of le Cap drie jaar gelede begin en sedertdien deur talle geleenthede geld ingesamel om MIV/vigs-bewusmaking te doen, voedselkoopbewyse aan organisasies sonder winsbejag te gee, en te verseker dat lede van die transgender-gemeenskap tydens die staat van inperking behandeling en medikasie ontvang.

Op 1 Junie, die begin van internasionale Pride-maand, het Fortuin op Facebook geskryf hy is in die verlede “veroordeel, gekritiseer, bespot, gesaboteer, geboelie en het selfs doodsdreigemente gekry vir wie ek is en die werk wat ek doen”.

“Ek wil net vandag weer sê ek sal altyd en vir ewig baklei vir die sigbaarheid en stem van gemarginaliseerdes in die hoofstroom, hetsy in die korporatiewe, burgerlike, kommersiële of kunswêreld.”

Fortuin met die ministeriële prys wat die Wes-Kaapse regering se departement kultuursake en sport verlede jaar aan hom toegeken het. Foto: Facebook

Die akteur Earl Gregory het net twee dae voor Fortuin se dood ’n WhatsApp-stemboodskap van hom ontvang waarin hy (Fortuin) beaam hoe belangrik dit is om sy platform te gebruik om die soeklig op gemarginaliseerde groepe te plaas.

“Ek is hartgebroke en diep ontroer,” sê Gregory aan Netwerk24 kort nadat hy weer na die stemboodskap geluister het.

“Hy (Fortuin) het so ’n opmerkbare sin vir gemeenskap gehad. Hy het geweet hoe belangrik dit is om saam te staan in die stryd van otherness. House of le Cap en die ballroom-geleenthede het só baie vir hom beteken, en hy wou dit uitbou sodat dit deel van die hoofstroom van Suid-Afrika word. Hy wou dit as ’n veilige hawe gebruik vir gemarginaliseerde mense om hulle te herinner dat hulle enigiets ter wêreld kan bereik.

“Dít – en sy lewe – was eintlik ’n magical ondervinding om te aanskou. Dit was net die begin van ’n lewe waarin hy fantastiese mylpale sou bereik. Dit is nou ons verantwoordelikheid om die verdraagsame wêreld na te jaag waarvan hy sy hele lewe lank gedroom het.”

Meer oor:  Kunstekaap  |  Suidoosterfees  |  Vrystaat Kunstefees  |  Lgbtqi  |  Macassar  |  Pride  |  Dans  |  Kirvan Fortuin  |  Coenie De Villiers  |  Ballet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.