Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Dans
Kyk: Mackintosch gaan ‘Swanemeer’ se manne laat dans

Vir iemand wat al male sonder tal vir voor die onbekende gestaan het, wag daar ’n eerste vir Keith Mackintosh.

Hy is genooi om in Desember in Londen saam met die dansers van Matthew Bourne se New Adventures-geselskap te gaan werk.

Keith Mackintosh

Hy gaan saam met ander balletmeesters klasse van die geselskap behartig vir die Sadler’s Wells-seisoen van die ikoniese produksie van Swanemeer.

Bourne se herinterpretasie van Swanemeer in 1995 het tradisie omvergegooi en het die balletwêreld verstom. Die groot verskil wat hy gebring het was om die tradisionele vroulike balletkorps met ’n ensemble mans te vervang.

Die produksie het reeds 30 internasionale teaterpryse, insluitend drie Tony-pryse gewen. Dit is ook die ballet met die langste speelvak op die West End en Broadway en toer sedert die middel 1990’s wêreldwyd.

“Eintlik behoort dit nie snaaks te wees dat mans die rolle dans nie,” sê Mackintosch. “Swane is pragtig, maar nogal sterk en kwaai.

“Daar bestaan die misverstand dat al die rolle deur mans gedans word. Dit is nie so nie. Die res van die karakters wat tradisioneel deur vroue gedans word, bly so.”

Hy het die produksie nog net op DVD gesien en hy is baie opgewonde dat hy dit nou op die verhoog gaan sien. Hy sien ook baie uit om die Suid-Afrikaanse danser Milwhynne Williams wat deel was van Kaapstad Ballet en nou deel van Bourne se Swanemeer is, te sien dans.

Die manlike swane in Matthew Bourne se Swanemeer.

Hoewel hy al soveel kere klasse waargeneem het, is Mackintosh nogal op sy senuwees.

“Dis so ’n groot eer, maar dis ook senutergend, veral met hierdie dansers. Jy staan voor ’n groep dansers wat jy nie ken nie. Jy weet hulle is professionele mense en skielik moet jy beheer oor die klas neem en hulle deur hul opwarmingsoefeninge en passies neem.”

Hy en sy kollegas moet die dansers gereed kry vir die seisoen wat volgende week begin.

Hy vertrek Sondag (2 Desember) en gaan eers vir drie dae na die Tivoli-balletteater in Kopenhagen. Daarna sal hy na Londen gaan waar hy oor twee naweke klasse sal behartig.

“Die produksie word agt keer per week opgevoer. Die dansers werk baie hard. Jy moet druk op hulle plaas, maar ook sorg dat hulle nie beserings opdoen nie.”

Mackintosh was self ook op sy dag prins Siegfried in Swanemeer en vir jare lank daarna het hy nog vele prinse vertolk. Daarna was hy balletmeester vir Kruik en toe die direkteur van beplanning en uitreiking. Hy het na 50 jaar in die balletwêreld verlede jaar afgetree.

In sy dansloopbaan het hy dikwels oorsee gedans, meesterklasse bygewoon en by beroemde dansgeselskappe studeer. Hy het onder meer studeer onder George Balanchine in Genève en Marika Besobrasova in Monte Carlo.

“Dis juis my baie oorsese ondervinding wat my selfs nou nog nadat ek afgetree het steeds die geleenthede bied wat ek kry.”

Hy gaan ten minste twee keer per jaar oorsee om van Rusland tot Sicilië, Duitsland tot Swede en wie weet waar nog oral te werk.

Hy mis nie die dae as danser nie.

“Ek was gelukkig genoeg om al die rolle te kon dans wat ek graag wou. Ek is dol op reis en my verlengde loopbaan pas my uitstekend. Jy kan maar sê ek is doodgelukkig in my onafgetrede staat.”

Meer oor:  Dans  |  Ballet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.