Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Dans
November se bekroonde dansstuk in Kaapstad

Die Suid-Afrikaanse danser en choreograaf Mthuthuzeli November bring sy dansstuk Ingoma, waarmee hy die Laurence Olivier-prys in Londen gewen het, binnekort na Kaapstad. Hy het met Laetitia Pople gesels.

“Dankie, Suid-Afrika, Enkosi kakhulu.”

Dit is die woorde wat die danser en choreograaf Mthuthuzeli November saggies geprewel het toe sy naam as wenner van een van die gesogste teaterpryse uitgeroep is in die London Palladium in die West End-teaterdistrik in dié wêreldstad.

Hy het die Laurence Olivier-prys in die kategorie nuwe dans ontvang vir Ingoma, ’n werk wat gegrond is op die Suid-Afrikaanse mynwerkerstaking in 1946 aan die Witwatersrand. Meer as 60 000 werkers het gestaak vir hoër lone, nege werkers is dood en meer as ’n duisend gewond in skermutselinge met die polisie.

November se wenwerk is later vandeesmaand deel van die Kaapstadse Stadsballet se dubbelluik saam met die pastorale fantasieballet Les Sylphides. Die glansaand huldig ook die 50ste herdenking van die opening van die Kunstekaap, destyds die Nico Malan-teater.

Ingoma smee ballet, Afrikadans en sang saam. Die Britse koerant The Guardian het dit so besing: “’n Kragtige stuk... November verbind ballet, on pointe gemaklik met ’n aardse Afrika-idioom.”

Die resensent het dit vier sterre gegee.

Mthuthuzeli November skepper van ‘Ingoma’, wat die Laurence Olivier-prys gewen het vir beste eietydse dansproduksie. Dit word binnekort in Kaapstad opgevoer. Foto: Helena Fagan
Die komponis Peter Johnson, die choreograaf Mthuthuzeli November en die sangeres en dramaturg Asisipho Malunga het saam aan ‘Ingoma’ gewerk. Foto: Helena Fagan
Mikayla Isaacs in ‘Ingoma’. Foto: Oscar O’Ryan

’n Kunswerk van die Suid-Afrikaanse kunstenaar Gerard Sekoto het Ingoma geïnspireer, vertel November. Dit is ’n uitbeelding van nege mynwerkers wat ritmies in gelid staan met hul pikke bo hul kop gelig om ’n stuk grond te takel, terwyl ’n wit baas met sy hande in die sakke toekyk.

“Ek het in 2017 ’n kort lesing bygewoon oor die geskiedenis van Suid-Afrikaanse kuns. Toe Sekoto se werk vertoon is, het ek ’n sterk, emosionele reaksie daarop gehad. Ek het net geweet ek moet iets daaruit skep.

“Ek dink gereeld dat ons nie ons eie kunstenaars genoeg vier nie totdat hulle die land verlaat. En dit is jammer. Daar is so baie kunstenaars wat ander generasies kan inspireer as hulle die geleentheid kry.”

Sekoto het Suid-Afrika in 1947 verlaat en in Frankryk in ballingskap gewoon, waar hy in 1993 oorlede is.

“Toe ek die ‘Song of the Pick’ sien, was ek geïnteresseerd in die manier waarop Sekoto dit geverf het. Dit blyk dat dit die oog wil plesier. Ek het gewonder hoekom die mans op so ’n gemoedelike manier uitgebeeld word. Ek wou uitvind wat die ware kleure van die tyd was.

“In my navorsing oor die kunswerk het ek uitgevind van die mynwerkerstaking in 1946, ook die tyd waarin die werk geskep is. My belangstelling was geprikkel.

“As ek ook kyk na wat gebeur het by Marikana in 2012, besef ek dat niks vir die mynwerkers verander het nie.

“Ek het emosioneel betrokke geraak by die gegewe. Ek het gewonder hoe dit sou wees as ek een van daardie mans was. As die seun van ’n enkelma het ek gewonder wat dit vir haar sou beteken het as ek deel was van die staking en nie teruggekom het nie. Die werk het toe meer ontwikkel as ’n werk oor die geliefdes, dood, liefde en vasberadenheid.”

Op 16 Augustus 2012 is 34 stakende mynwerkers deur die polisie by Marikana in Noordwes doodgeskiet. Sowat 78 is beseer en 250 mynwerkers is in hegtenis geneem.

“My werk wys dat daar nog so baie werk is om te doen. Soms voel dit of die stelsels daar is om ons te faal. Ek hoop dat (die werk) ons nader aan mekaar sal laat kom, dat ons maniere sal vind om saam te werk en mekaar se verskillende struggles sal erken.

“Dit is nie ’n politieke werk nie, maar ’n reaksie op ou en onlangse gebeure, ’n poging om meer meelewing te ontlok.”

My werk wys dat daar nog so baie werk is om te doen. Soms voel dit of die stelsels daar is om ons te faal. Ek hoop dat (die werk) ons nader aan mekaar sal laat kom, dat ons maniere sal vind om saam te werk en mekaar se verskillende 'struggles' sal erken.
Mthuthuzeli November

Dit is die derde keer dat hy saam met die komponis Peter Johnson werk.

“Ek wou aanvanklik die werk Song of The Pick noem. Musikaal was dit ons wegspringplek, ’n opname van ’n pik wat herhalend teen die grond kap. Ek het begin neurie daaroor as ’n soort uitroep of ’n rouklag. Toe voeg ek en die sangeres Asisipho Malunga ’n gebed by. Dit was die gebed wat ek my pa hoor bid het toe ek ’n kind was.”

"Ingoma" beteken Psalm.

“Dit is wonderlik dat ons drie weer saam is, as danser gebruik ek my lyf om te kommunikeer, Asisipho het ’n groot rol hierin (Ingoma) gespeel omdat sy my beweging in woorde kon vertaal.”

Tot dusver is die reaksie van gehore op Ingoma dikwels emosioneel, veral in gebiede waar mense aanklank vind by die stryd van mynwerkers.

“As ’n jong swart man dink ek dit is belangrik om sover ek kan ’n deel van my Suid-Afrikaanse geskiedenis met die wêreld te deel.”

November het op 15 begin dans danksy die Dance for All-uitreikprogram van Philip Boyd en van daar af groot opgang gemaak.

Hy het sy dansopleiding aan die Cape Academy of Performing Arts (Capa) voltooi en het ’n goue medalje gewen in die eietydse danskategorie van die Suid-Afrikaanse Internasionale Balletkompetisie in 2012 as ’n junior en in 2014 as ’n senior. Hy het hom in 2015 by Ballet Black in Londen aangesluit, waar hy ook as choreograaf begin werk het.

Hy het Ingoma geskep, wat benewens die Olivier-prys verlede jaar ’n Black British Theatre-prys as beste dansproduksie gewen het.

Hy hoop om gehore met sy danswerke uit te daag en belangrike stories onder hul aandag te bring. “Ek dink dit is noodsaaklik om mekaar op te voed oor ons kulture en stories. Ek is dankbaar dat ek as ’n kreatiewe persoon dit deur middel van dans kan doen.” Hy werk aan ’n nuwe werk vir die Barbican-teater in Londen.

  • Ingoma en Les Sylphides word op 19, 22, 27 en 28 Mei, asook op 3, 4 en 5 Junie om 19:30 aangebied. Daar is middagvertonings op 22 en 29 Mei om 15:00. Bespreek jou kaartjies by Kunstekaap se Bel ’n sitplek by 021 421 7695 of by Computicket. Streng Covid-19-maatreëls geld. Die dra van maskers en sosiale afstand is ’n vereiste.
  • Die publiek kan die Kaapstadse Stadsballet ondersteun deur ’n skenking te maak vir hul Thundafund-veldtog e-pos thundafund@capetowncityballet.org.za of besoek https://thundafund.com/project/6716626611211597.
Meer oor:  Ballet  |  Marikana  |  Kunstekaap  |  Dans  |  West End
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.