Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Dans
Ontploffing van dans in Kaapstad

Geskiedkundige gunsteling-danswerke is deel van Kaapstad Opera se komende herfsprogram in die Kunstekaap se Operahuis.

Boonop bring ’n hele paar internasionale danssterre van onder meer die Royal Ballet en die Washington Ballet besoek aan Kaapstad vir ’n ewe opwindende winterseisoen.

Dansers in Kaapstadse Stadsballet se vorige produksie van die klassieke ballet Die slapende skone. Foto: Pat Bromilow-Downing

Eerste aan die beurt op 22 Junie is Amaranth, wat uit drie uiteenlopende werke bestaan, insluitende die Amerikaanse choreograaf George Balanchine se Serenade, die Suid-Afrikaanse danser en choreograaf Frank Staff se Transfigured Night wat uit 1957 dateer en geloof is vir die “dramatiese intensiteit” daarvan en die Amerikaanse choreograaf Christopher L. Huggins se atleties-energieke Enemy Behind the Gates.

Dié ballet, wat uit 2001 dateer, is ’n ondersoek na die werksaamhede van terroriste wat luidens ’n onderhoud met Huggins “rustig leef en geduldig wag in die skaduwees voordat hulle toeslaan”.

Balanchine se Serenade, wat uitgevoer word op die Tsjaikofski se Serenade vir strykers in C, op. 48, word as ’n mylpaal in die geskiedenis van dans beskou. Dit is meer as 80 jaar gelede vir die eerste keer opgevoer en as jy dit al beleef het, vergeet jy dit nie maklik nie.

Balanchine belig dansers se verhoogtegniek en inkorporeer klein dingetjies wat kan skeefloop op die verhoog en in ’n danser se lewe. Rebecca Hirsch bring dit saam met Kaapstad Ballet na die planke.

Veronica Paeper is die choreograaf vir Transfigured Night – wat die verhaal vertel van ’n broer en suster wat deur ’n ouer suster gedomineer word. Die suster blyk die toutjies te trek, ook as die jonger suster ’n kêrel kry. Die musiek is van die komponis Schoenberg. Dié drie werke is al verskeie kere in Suid-Afrika opgevoer. Die speelvak duur tot 7 Julie. Besprekings het reeds geopen.

Van 17 tot 31 Augustus is die klassieke ballet Die slapende skone aan die beurt, wat handel oor prinses Aurora se ontwaking nadat sy 100 jaar geslaap het. Feetjies en ander sprokieskarakters maak ook hul buiging en sorg so dat oud en jonk die ballet kan geniet.

Die gaskunstenaars wat hierin dans is Vadim Muntagirov en Sarah Lamb (Royal Ballet), Precious Adams (English National Ballet), Andile Ndlovu (Washington Ballet) en Siphe November (National Ballet of Canada). Laasgenoemde twee dansers se meteoriese opgang in die Suid-Afrikaanse danswêreld is wyd bekend. Dit word na die verhoog gebring deur Denise Schultze Godfrey.

Op 17 en 18 Augustus dans Ndlovu, Adams en November en op 28 en 31 Augustus Muntagirov en Lamb.

Die Kaapstad Filharmoniese Orkes tree op in sekere van die opvoerings.

*Bespreek by Computicket by 0861 915 8000. Daar is afslag vir pensioentrekkers, leerlinge en studente en vir groepbesprekings van tien of meer.

Meer oor:  Kunstekaap  |  Dans  |  Ballet  |  Kaapstad Opera
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.