Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Dans
Oti dans haar pad oop na die buiteland
Oti Mabuse, wenner van verlede jaar se ‘Strictly Come Dancing’, wat nou as ’n mentor vir ‘The Greatest Dancer’ op die BBC optree.

As jy haar sien dans, kan jy nie glo sy wou dans vir ’n heeltydse loopbaan as siviele ingenieur verruil nie. Tog vertel die oud-Pretorianer Oti Mabuse dat dans haar gelukkig teruggeroep het.

Dié grasieuse kampioendanser het verlede jaar Strictly Come Dancing op die BBC besonders sierlik saam met haar dansmaat, Kelvin Fletcher, gewen.

Ons gesels vir ’n paar minute op ’n reënerige Saterdagmiddag by die ateljee van die The Greatest Dancer in Londen, voor die opname van ’n episode in die tweede seisoen.Dansers van alle ouderdomme, in enige dansstyl onder die son, ding mee om nagenoeg R1 miljoen en kry ook die geleentheid om op te tree in vanjaar se BBC-dansprogram Strictly Come Dancing.

In die eerste The Greatest Dancer-kompetisie het van ’n 81-jarige ballerina, ’n vrou in ’n rolstoel en ’n dowe man tot ’n gatskop-rapgroep van ’n laerskool hul talent kom wys.

In die eerste The Greatest Dancer-kompetisie het van ’n 81-jarige ballerina, ’n vrou in ’n rolstoel en ’n dowe man tot ’n gatskop-rapgroep van ’n laerskool hul talent kom wys.

Dié gewilde danstelevisiereeks se tweede reeks begin op Sondag 1 Maart op BBC Brit om 19:00 (DStv-kanaal 120). Daarop dans Mabuse uiteraard, maar sy werk ook fluks en streng as danskaptein, wat deelnemers aanspoor en afrig vir hul dansnommers. Die eerste reeks is verlede Maart deur die 14-jarige Ellie Ferguson gewen, ’n danser wat onder haar vlerk was. Die multi-platinumbekroonde sanger Cheryl en die Broadway- en Glee-ster Matthew Morrison is weer haar mede-danskapteine. Vir die tweede reeks is daar ’n nuwe gesig en energie, dié van Todrick Hall, die Amerikaanse popster en danser-choreograaf, wat by hulle aangesluit het om sy insette te gee.

Mabuse is ontspanne in ’n grys trui en denim – en praat gemaklik oor die pad wat sy vir haarself oopgedans het van Pretoria na Duitsland en toe Londen. In die program is sy in glansklere en hoë hakke, hier is sy gemaklik. Haar man, Marius Iepure, ’n Roemeense beroepsdanser, sit knus naby haar tydens die onderhoud. Sy het Suid-Afrika verlaat vir hom, vertel sy met daai kenmerkende glimlag.

Die 29-jarige Oti beskryf The Greatest Dancer as die grootste leerervaring van haar lewe. Sy gooi haar hande in die lug. “Ek het geleer hoe om met groepe mense te werk, en hoe belangrik positiwiteit is, hoe ’n produksie inmekaar steek, hoe kameras werk – kortom, ek het geleer om verskeie take te verrig op dieselfde tyd.” Haar lag borrel oor.

In die program beleef ’n mens eerstehands hoe sagkens, dog ferm sy met dansers van alle ouderdomme kan wérk. Altyd professioneel en eerlik. Sy kyk met ’n kennersoog en weet hoe om met kunstenaars se temperamente om te gaan.

“My raad aan jong dansers is om te werk aan hul kuns. Bemeester dit, niemand kan jou werketiek of jou talent van jou wegneem nie.”

As jong danser van Pretoria, sy is in Mabopane gebore, het sy nooit kon droom sy sou die wêreld deur dans verken nie. Sy het op vier begin baldans en het die plaaslike Latyns-Amerikaanse baldanskompetisie agt keer gewen. “Ek het die wêreld gesien en ongelooflike mense ontmoet. Al die geleenthede het deur dans na my toe gekom, en ek is ongelooflik dankbaar.”

As ek dans, vertel ek ’n storie sonder woorde, ek wil ander mense met my stories bereik en hulle raak. Ek wil hulle tuis laat voel en ’n positiewe boodskap bring.”

Haar ma het die klein Oti en haar twee ouer susters aangespoor om te dans. “My ma het geglo in die dissipline van dans, dat dit goed is om jou energie in dans te kanaliseer. My ma lê sterk klem op doelwitte, dat jy ’n plan moet hê en struktuur in die lewe. ’n Regte Suid-Afrikaanse ma!”

Reeds as jong kind het dans haar tydsbestuur geleer. “Dans verg baie tyd, jy het dus nie tyd vir ander goed nie en moet jou lewe fyn beplan. My ma het my aangemoedig om te weet wat ek wil hê en te verseker dat ek dit kry. So het ek ’n Suid-Afrikaanse danskampioen geword.”

Die jong Oti wou na Pro Arte Alphen Park, wat ’n sterk klem op die kunste plaas, gaan, maar haar ma het haar na die Pretoria High School for Girls gestuur. “Hier het ek verlief geraak op wiskunde en wetenskap. Ek het ook al die sportsoorte geniet. Toe ek by die universiteit aansoek doen, het ek eers ingeskryf as kartograaf en later vir ingenieurswese. Ek het klaargemaak, al wou my hart musiekteater by die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie doen.”

Oti Mabuse met die Suid-Afrikaanse vlag in ’n episode van die tweede reeks van ‘The Greatest Dancer’ op die BBC. Die Broadway-ster Matthew Morrison staan links, gedrapeer in die Amerikaanse vlag.Foto: BBC

Die gedagte dat sy van 09:00 tot 17:00 ’n ingenieur sou wees, het haar egter afgeskrik. “Ek het geweet ek sou nie meer kon dans nie, dat ek dans sou moes opoffer. Ek kon dit net nie doen nie.”

Sy het haar ma gaan sien. “Ek het vir haar gesê ek wil elke dag dans, sy het eers gedink ek bedoel as ’n stokperdjie. Toe sê ek ek wil die hoogste sport in dans bereik. Ek is ’n SA kampioen, nou wil ek ’n Europese kampioen word en ek gaan die land verlaat.” Dit was meer as agt jaar gelede.

Haar volgende doelwit, vertel die gedrewe kunstenaar opgewonde, is om ’n dansstigting in Brittanje te begin. “Ek en my susters wil jong opkomende talent in Suid-Afrika bystaan om hier in Brittanje geleenthede te kry en te floreer. My wortels in my vaderland is sterk gevestig ek wil nou ander dansers daar help.”

Dans bly haar inspireer, sy dans steeds elke dag. “As ek dans, vertel ek ’n storie sonder woorde, ek wil ander mense met my stories bereik en hulle raak. Ek wil hulle tuis laat voel en ’n positiewe boodskap bring.”

* Laetitia Pople is as gas van BBC Studios na Londen genooi.

Meer oor:  The Greatest Dancer  |  Bbc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.