Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Dans
Russiese Kosakke toer in SA
Kosak-dansers stel hul vitaliteit, krag, soepelheid en verbluffende vernuf ten toon.

Danse deur egte Russiese Kosakke is ’n skouspel van gimnastiese soepelheid, militaristiese presisie, die klap van swepe, swaardgevegte en kleurryke kostuums.

Toeskouers in ses Suid-Afrikaanse stede asook Gaborone in Botswana sal in Augustus deur so ’n volksgroep vermaak word.

Die vaardigheid van die Kosak-dansers is verbluffend. Dat mans so hoog kan skop en so plat spreibeen kan sak, slaan reeds die asem weg. Dan voer hulle ook spronge, hurke en salto’s uit, hulle tol in die rondte, klap met swepe en pluk swaarde uit vir gevegte waarin die lemme blits en klink. As die swaarde en swepe gebêre word, klap hulle ritmies hande.

Die skouspel word verder opgekikker deur helder volkse of militêr-geïnspireerde kostuums, dikwels in Russiese rooi, wit en blou, met daarby tipiese pelshoede, pofhemde, wye broeke en stewels waarmee ritmes gestamp word.

Volgens die impresario Edouard Miasnikov stel die danse oorlogstonele, straatgevegte en vierings ná ’n oorwinning voor.

Die tipiese Kosak-danse van Oekraïne word net deur mans uitgevoer, maar die kontemporêre Kosakke sluit ook vroue in, wat óf met die mans dans óf formasies met die mansdansers vorm.

Die Stanitsa-groep wat hier kom optree, is in 1990 gestig en neem gereeld aan volksfeeste deel, nie net in Rusland en Oekraïne nie, maar ook in Belarus, Pole, die Tsjeggiese Republiek, Bulgarye, ander Europese lande en China. Die doel is die bewaring, ontwikkeling en bekendstelling van eeue oue tradisionele Russiese sang, dans en musiek.

’n Sigeuner-dansnommer, asook ’n komiese en romantiese item is deel van die opvoering.

Stanitsa is volgens ’n persverklaring ’n uitgediende woord vir ’n Kosak-eenheid in ’n militêre konteks. Deesdae verwys Stanitsa na die tradisionele kultuur in die suide van Rusland, bekend vir hul gasvryheid, streng tradisies en ortodokse Christengeloof en -gebruike.

Toerprogram

*Johannesburg: The Mandela in die Joburgteater, 17 Augustus om 14:00 en 18:00, 18 Augustus om 14:00. Bespreek by die Joburgteater.*Potchefstroom: Sanlam-ouditorium, 21 Augustus om 19:00. Bespreek by Computicket.

*Gaborone: 22 Augustus om 20:00. Die lokaal sal nog bekend gemaak word.

*Pretoria: Sun Arena in die Time Square Casino, 25 Augustus om 15:00. Bespreek by Computicket.

*Port Elizabeth: Operahuis, 27 Augustus om 17:00 en 20:00. Bespreek by Computicket.

*Bloemfontein: Sand du Plessis-teater, 29 Augustus om 19:00. Bespreek by Pacofs, 051 447 7772.

*Durban: Playhouse Opera, 31 Augustus om 14:00 en 18:00. Bespreek by WebTickets.

Die kaartjies kos van R250 tot R300.

Meer oor:  Dans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.