Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Dans
SA ballet-kompetisie maak sprong aanlyn

Die 7de Suid-Afrikaanse Internasionale Balletkompetisie (SAIBC) gaan vermoedelik die eerste balletkompetisie ter wêreld word wat geheel en al aanlyn aangebied gaan word.

Elena Iseki (16) van Japan het by die SAIBC in 2018 ’n goue medalje in die junior afdeling vir vroue gewen. Foto: Argief

Die bestuur van die SAIBC, wat sedert 2008 elke twee jaar in die Kunstekaap plaasvind, sê hulle moes vinnig spring om te verseker dat die 2020-kragmeting steeds tussen 13 en 18 Julie aanlyn kan voortgaan.

“Dit is ’n baie moeilike tyd vir ons almal – ook in die danswêreld,” sê Dirk Badenhorst, uitvoerende hoof van die SAIBC en direkteur van Mzansi Ballet, aan Netwerk24.

“Die SAIBC is ’n belangrike geleentheid vir Suid-Afrikaanse dansers om een keer elke twee jaar hul staal voor topdirekteure van die wêreld se beste balletskole en -geselskappe te toon.

“Baie van dié dansers het lank voor die staat van inperking vir die SAIBC voorberei, en ek het net gedink dit is belangrik om almal – studente, professionele dansers, onderwysers en direkteure – gefokus en geïnspireer te hou en met die kompetisie voort te gaan.”

Badenhorst erken dit was ’n “uitdaging” om die kompetisie aanlyn te verbeeld, maar sê hy en sy span is eintlik “baie opgewonde” oor dié skuif.

“Ons kan nou ’n groter gehoor bereik, in vergelyking met die kompetisie in die Kunstekaap. Ek weet ons verken nou ’n nuwe terrein, maar die moontlikhede is fantasties en ons sien werklik uit na die skuif na ’n virtuele ruimte.”

Hoewel die kompetisie in die verlede sowat 50 tot 80 inskrywings gelok het, is daar ook ’n kans dat die aanlyn weergawe dié getalle kan opstoot.

Volgens ’n mediaverklaring sal die kompetisie steeds in drie kategorieë aangebied word: leerlinge (12 tot 15 jaar oud), juniors (16 tot 20) en seniors (21 tot 28). Mans en vroue gaan apart meeding.

Belangstellendes moet tussen 15 en 17 Junie op www.saibc.com registreer. Dié wat aanvanklik gekeur word, sal gevra word om video-opnames van een solo uit die klassieke repertoire en een kontemporêre solo in te stuur. Dié solo’s moet ’n week voor die amptelike kompetisie ingedien word. Dansers wat nie tydens die staat van inperking toegang tot ’n formele ateljee het nie, sal net in die kontemporêre afdeling kan inskryf.

Die video-opnames sal saam met paneelbesprekings en meestersklasse gestroom word – en die inskrywings sal deur ’n paneel beoordeel word, wat ook terugvoering aan elke danser sal gee.

“Ons gaan beslis dansers se uiteenlopende omstandighede (waarin hulle dans) in ag neem tydens die beoordelingsproses,” sê Badenhorst.

“Dít is eintlik wat my aangespoor het om dansers toe te laat om slegs in die kontemporêre afdeling in te skryf, omdat ek bewus is dat party dansers nie nou toegang tot ’n formele ateljee het nie. In dié geval is dit baie makliker om ’n kontemporêre solo voor te berei.”

Die paneel bestaan vanjaar uit:

  • Ted Brandsen, direkteur van die Nederlandse Nasionale Ballet;
  • Runqiao Du, artistieke direkteur van die Kirov-balletakademie in Washington DC;
  • Roberta Martins van die Zurich-dansakademie;
  • die Suid-Afrikaner Thoriso Magongwa, wat tans aan die Nasionale Teater van Brno in Tsjeggië verbonde is;
  • Christian Spuck, artistieke direkteur van die Zürich-balletgeselskap;
  • prof. Geung Soe Kim, president van die Suid-Koreaanse Ballet-vereniging;
  • Madame Feng Ying, direkteur van die Chinese Nasionale Ballet;
  • Martha Iris Fernandez Aguero, adjunkdirekteur van die Nasionale Balletskool in Kuba;
  • Annarella Sánchez, hoof van die Annarella-instituut van Ballet & Dans in Portugal; en
  • Christoph Böhm van die Berlynse Balletskool.

Dansers sal om goue, silwer- en bronsmedaljes in elke kategorie meeding, asook kontantpryse en beurse vir somerskole. ’n Grand Prix sal ook aan die beste algehele danser toegeken word.

Die SAIBC word deur die Nasionale Loterykommissie ondersteun.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.