Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Dans
SA’ner wen Laurence Olivier-prys met dansstuk
Mthuthuzeli November (links) met die goue medalje wat hy op 20 in die Suid-Afrikaanse Internasionale Balletkompetisie in 2014 gewen het. By hom is Dirk Badenhorst en voor is Leroy Mokgatle, nog ’n Suid-Afrikaanse danser wat naam maak in die buiteland. Foto: Allison Foat

Sy dansstuk oor die mynwerkerstaking van 1946 in Suid-Afrika waaraan 60 000 mynwerkers deelgeneem het, het aan die Suid-Afrikaanse danser en choreograaf Mthuthuzeli November Sondagaand ’n Laurence Olivier-prys besorg. Die 26-jarige kunstenaar ontvang dit vir Ingoma, vir die Britse Ballet Black-dansgeselskap.

Die Olivier-pryse, genoem na die befaamde Britse akteur, is een van die uitvoerende kunste se grootste internasionale vererings.

Die Ingoma-dans word op Ballet Black se webblad beskryf as ’n samesmelting van ballet, Afrikadans en sang. Dit fokus op die weemoed van die vroue en kinders van die nege mynwerkers wat dood is en die meer as 1 200 werkers wat in die staking beseer is.

Hy maak gebruik van waterstewels, pikke, asook koplampe, in die stuk. Die Britse koerant The Guardian het die produksie vier uit vyf sterre gegee.

Ballet Black is in 2001 deur Cassa Pancho gestig om geleenthede aan swart balletdansers, asook dansers van Asiatiese herkoms, in hoofstroom-ballet te bied. Die geselskap poog om diversiteit in klassieke ballet in Brittanje te bring hetsy op die verhoog, agter die skerms, in gehore en onder dansstudente.

November se meteoriese opgang van die Zolani-township in Montagu tot die verhoë van groot internasionale danssale in Europa het enkele jare gelede verstom.

November het in 2014 op 20-jarige ouderdom die tweede keer goud gewen in die Suid-Afrikaanse Internasionale ­Balletkompetisie in die afdeling vir senior kontemporêre dans. In 2015 het hy hom by die Central School of Ballet aangesluit, en later by Ballet Black waar hy ook met choreografie begin het.

Mthuthuzeli November (voor) en sy neef Aviwe op 19-jarige ouderdom.

November het op 15, wat as laat vir ’n balletdanser beskou word, begin dans danksy die uitreikprogram Dance for All. Sy afrigter was Fiona Sargeant.

Hy was sy skool se sokkerkaptein en het eintlik in kwaito belang gestel. Sy vordering is destyds as ’n wonderwerk beskryf omdat hy so min ure per week kon dans.

Sy talent en werketiek het egter gou gewys dat hy reg is vir ’n internasionale loopbaan, volgens Debbie Turner, hoof van Kaapstad Ballet, in ’n vorige onderhoud met Netwerk24.

Hy het ook opleiding by die Cape Academy of the Per­forming Arts (Capa) onder leiding van Turner in Tokai ontvang.

Sy jonger broer Siphe het met ’n beurs in Kanada gaan dans en sy neef Aviwe is ook ’n danser van formaat wat onder meer vir die Washington Ballet dans.

Die Laurence Olivier-pryse is in die London Palladium oorhandig. Die produksie & Juliet, die musiekspel Dear Evan Hansen en komiese toneelstuk Emilia het met drie elk die meeste pryse van die aand gewen. Die gasheer was Jason Manford

Meer oor:  Dans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.