Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Dans
Superheldin wat ballet wil red

Ballet in Suid-Afrika het ’n toekoms, maar harde werk lê voor om dit te verseker, sê Debbie Turner, uitvoerende hoof van die Kaapstad Ballet. Christiaan Boonzaier het met haar gesels.

Debbie Turner, uitvoerende hoof van Kaapstad Ballet. Foto: Oscar O’Ryan

In die hart van die Kunstekaap, in ’n vertrek wat eens met die Kaapstad Ballet se bestuur sou wemel, sit Debbie Turner en ’n ad hoc-kollega alleen.

Sy het haar laaste stempel op die balletgeselskap se program, in drie tale, vir hul aanbieding van Die slapende skone in Kaapstad afgedruk. Haar oë moet nog oor die openingsaand se finale gastelys gly, en ’n paar bokse wyn neffens haar gaan nie self tot by hul bestemming loop nie. Sy het heelwat dagtake wat ’n mens nie aldag op ’n uitvoerende hoof se doenlys sien nie.

“Dit is alombekend dat finansiering vir die kunste besnoei is, maar ook die aantal mense wat die geselskap agter die skerms bestuur, is van meer as 30 tot net vyf verminder,” sê Turner. Sy het die leisels van die Kaapstad Ballet byna 11 maande gelede by prof. Elizabeth Triegaardt oorgeneem, wat 52 jaar aan die balletgeselskap verbonde was.

“Vyf,” sê sy weer en beklemtoon dié handjievol met uitgestrekte vingers.

“Ál vyf van ons is genoop om nie net in die sakekant nie maar ook in die dansomgewing in te spring – gereeld. Ek sal soms ’n repetisie lei, selfs ’n knoop van ’n kostuum vaswerk, want dit is wat nodig is.

“Alles wat ek al in my lewe geleer het, elke krieseltjie kennis, is die afgelope 11 maande in dié pos ingespan.”

Sedert haar eerste dag, moes Turner moeilike besluite neem: Die kunste bloei – dis g’n oordrywing nie, sê sy. Benewens geld wat opdroog, skiet kaartjiepryse die hoogte in en gehore krimp. Dit is ook nie maklik om die boeke te laat klop wanneer van jou uitgawes in dollar is maar jy net rand verdien nie. Sy voer nie ’n eierdans uit oor dié harde werklikheid nie.

Maar ons moet anders begin dink oor die omgewing waarin die kunste hom in Suid-Afrika bevind. Ons moet kalibreer en die energie rondom dans in die buiteland ook hier in Suid-Afrika inspuit.
Debbie Turner, hoof van die Kaapstad Ballet

“Ek dink eerlikwaar ons was al op die rand van doodbloei,” sê sy.

“Waar ons veral nou nog bloed stort, is ons dansers wat deur buitelandse geselskappe opgeraap word en op ’n eenrigting-vervoerband landuit gaan.

“Dis te verstane: Ons bevolking is ongelooflik talentvol – ek het nog nooit so baie talent per vierkante kilometer teëgekom soos in Suid-Afrika nie.

“Maar ons moet anders begin dink oor die omgewing waarin die kunste hom in Suid-Afrika bevind. Ons moet kalibreer en die energie rondom dans in die buiteland ook hier in Suid-Afrika inspuit.

“En as ons die kunste in Suid-Afrika nuwe lewe wil gee, moet ons nie net mik na oorlewing nie. Ek wil nuwe lewe in ballet blaas sodat dit oor meer as net oorlewing gaan, maar ek sou hoop dít is reeds ’n uitgemaakte saak.”

Andile Ndlovu en Precious Adams vertolk die hoofrolle in ‘Die slapende skone’. Foto: Pat Bromilow-Downing

Dans in ’n dubbelgarage

Op 55 sê Turner sy is “so sterk soos ’n os” en meer as ooit tevore gereed vir dié reuse-uitdaging. Haar arsenaal sluit drie dekades se danservaring in, onder meer in klassieke ballet maar veral Spaanse en Latyns-Amerikaanse dans.

“Ek is die laatlammetjie. My suster Linda, wat 12 jaar ouer as ek is, het ballet gedoen en was later ook ’n balletonderwyseres,” sê sy.

“My pa het in die laat 1960’s ons huis (in Durban) se dubbelgarage in ’n dansstudio vir haar omskep – met ’n studio in ons agtertuin, het ek vanselfsprekend in haar voetspore gevolg.”

Naas ’n B-graad in dans van die Universiteit van Kaapstad, het sy sedert 1985 sakekennis oor dans opgedoen as die stigtersdirekteur van die Cape Academy of Performing Arts (Capa), ook toe sy in 1995 artistieke direkteur van die Cape Dance Company geword het.

Selfs haar rol as beoordelaar op die M-Net-werklikheidsreeks Dancing with the Stars SA het haar heelwat lesse geleer wat sy nou aan die stuur van glo die oudste balletgeselskap in die Suidelike Halfrond toepas.

“Ek het die werk by Dancing with the Stars SA letterlik drie dae ná my ma se dood gekry,” sê sy.

Vir die eerste keer onderbreek sy die vlot gesprek met ’n oomblik se stilte.

“Die program was ’n groot keerpunt vir my – eintlik ’n skop onder die bas,” sê sy bewoë. “Ek het so baie waardevolle dinge geleer: tyd is geld; jy moet spring as ’n geleentheid hom voordoen; hoe belangrik dit is om jouself te wees; en die krag van dans.”

Bestanddele waarmee sy die Kaapstad Ballet ’n nuwe geur wil gee.

‘Die slapende skone’ word tot 31 Augustus in die Kunstekaap opgevoer. Foto: Oscar O’Ryan

Koersvas superheldin

Oor haar planne vir die balletgeselskap en die toekoms van ballet in Suid-Afrika, twyfel sy nie. Sy is onwrikbaar en koersvas. Senuwees van staal, ondanks ’n skeut angs wat soms kop uitsteek. ’n Superheldin wat eintlik wondere moet verrig – net nie 07:00 nie; sy’s g’n vroegoggendmens nie.

“Daar is druk, maar ek doen eintlik my beste werk tydens ’n krisis. Dit is iets wat jy moet bestuur, waardeur jy moet navigeer. Kalm,” sê sy streng.

“Ek hou nie daarvan as probleme en kwessies weggesteek word nie. Maak dit bekend sodat ’n plan vir ’n oplossing beraam kan word.”

Haar stemtoon klink vir die eerste keer byna . . . militaristies?

Sy lag.

“My broer (Clive) was in die Suid-Afrikaanse Lugmag en is nou ’n handelsvlieënier. Daar is baie aspekte wat ek van die weermag bewonder: dissipline en respek, om ’n saak te bevorder. Net so beskou ek myself as iemand wat in ’n span ’n kunsvorm bevorder.”

Inkomste is die eerste groot hindernis; dansers – “hooggeskoolde artistieke atlete”, in haar woorde – is die tweede.

“Finansiering is net sowat 25% van ons begroting – die res moet ons uit ’n inkomste bymekaarmaak. ’n Dansgeselskap genereer net ’n inkomste wanneer dit op die verhoog is, so ons moet soveel as moontlik op die verhoog wees, sonder om hulle (die dansende atlete) tot hul uiterstes te dwing.”

Hoewel sy ontken dat sy die sweep klap, sê sy wel sy het hoë verwagtinge.

“Ek verwag egter nie dat enigiemand harder as ek moet werk nie. Ek hou daarvan om dinge op ’n spesifieke manier te doen. Ek hou nie van foute nie. Ek is geneig om behep met foute te wees en dit is iets waaraan ek moet werk, maar ek hou daarvan as alles perfek is.”

Wat is perfeksie?

“Onvoorwaardelike uitmuntendheid – of om dit te laat lyk asof 30 mense agter die skerms toutjies getrek het wanneer net vyf in die werklikheid het.”

Baie mense dink ek is meer veeleisend as wat ek werklik is, maar dans is eintlik onvergewensgesind. Dit is soos tennis: Die bal is óf in óf uit. Net so is dans óf goed óf sleg. So ons moet die werk doen om te verseker dit blý goed.
Debbie Turner, hoof van die Kaapstad Ballet

Sy raak weer bewoë.

“Baie mense dink ek is meer veeleisend as wat ek werklik is, maar dans is eintlik onvergewensgesind. Dit is soos tennis: Die bal is óf in óf uit. Net so is dans óf goed óf sleg. So ons moet die werk doen om te verseker dit blý goed.”

Dit het reeds vrugte gewerp, sê sy: meer finansiële stabiliteit, gehore wat ná jare terugkeer, ’n repertoire wat tradisionele én kontemporêre werk insluit – ook meer hoop, wat onderskat word.

“Ek sou nie hier gewees as ek nie hoopvol was nie. Ek het die grootste vertroue in Suid-Afrika en die kunste hier. Ja, ons dansers gaan landuit, veral omdat ons geografies ver van die middelpunt van die danswêreld is, maar soos ons dansers uitvoer, moet ons hulle ook invoer om deel van die internasionale danswêreld te word, die gehalte van dans te lig, en gehore vasgenael te hou.

“Net dán sal ons groei. Net dán sal ons verseker dat ballet, wat lank voor my geboorte hier was, ook hier sal wees lank nadat ek weg is.”

  • Die slapende skone word tot 31 Augustus in die Kunstekaap opgevoer. Kaartjiepryse wissel van R180 tot R695. Bespreek by Computicket.
Meer oor:  Kaapstad Ballet  |  Dans  |  Die Slapende Skone  |  Ballet  |  Debbie Turner
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.