Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Deon Meyer is Borg ’n Woord se beskermheer
Die skrywer Deon Meyer Foto: MLUNGISI LOUW

KAAPSTAD. – Die internasionaal gewilde speurspanningskrywer Deon Meyer is as die beskermheer van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se veldtog Borg ’n Woord aangewys.

Vrydag 16 Oktober is Internasionale Woordeboekdag en dit is ook die dag waarop die WAT jaarliks die projek ­begin.

Meyer het “spanning” reeds geborg, en sal in die loop van die jaar nóg ’n woord, namens sy bekende karakter Bennie Griessel, kies. “Soos ek Bennie ken, sal dit nie ’n woord wees wat mens noodwendig voor die kinders wil gebruik nie,” het Meyer geskerts.

Hy is ook ’n baie groot ­ondersteuner en bewonderaar van die WAT se werksaamhede en sê dit “is regtig ’n voorreg om die beskermheer van die Borg ’n Woord-veldtog te wees”.

“Hulle [die WAT] hou ­hulle immers besig met die skerpmaak van die gereedskap wat ek daagliks gebruik. Die Borg ’n Woord-veldtog is boonop ’n vindingryke en kreatiewe manier om navorsing oor Afrikaans te finansier, en dit gee ge­wone mense die geleentheid om hul passie vir Afrikaans op ’n positiewe en bekostigbare manier uit te druk.

“Afrikaans is van kardi­nale belang in my skrywerskap. Ek sou nie my stories kon vertel en my karakters laat praat en leef in ’n ander taal nie.”

Sy werk word internasionaal wyd vertaal en hy is tans op ’n boeketoer in Duitsland, Pole en Tsjeggië.

“Ons probeer selfs met ­elkeen van die vertalings ’n Afrikaanse tekstuur behou, omdat dit so onlosmaaklik deel van die land, sy mense en die Kaap is.”

Sy grootste wens vir Afrikaans in die volgende vyf jaar is “dat almal wat die taal liefhet en dit kan bekostig, sal bydra tot die WAT se Borg ’n Woord-veldtog, sodat ons kinders nog groter pret daarmee kan hê”.

Deelnemers aan die veldtog kan enige Afrikaanse woord borg vir R100 en elke deelnemer ontvang ook ’n sertifikaat van die WAT met sy of haar naam op en die woord of woorde wat hy of sy geborg het. Borgskappe van R5 000 per woord is ­eksklusief en niemand ­anders mag daardie woorde borg nie. Teen R100 kan meer as een persoon dieselfde woord borg. Elkeen kry ’n sertifikaat met sy naam.

Die WAT word in 2016 90 jaar oud en vier dit onder meer met ’n Borg ’n Woord-bonusjaar. Twee deelnemers kan elkeen ’n Sanlamprys van R25 000 wen. Elkeen wat ’n woord borg, kry ses maande lank gratis toegang tot die aanlyn-WAT en indien jy ’n woord eksklusief borg vir R5 000, kry jy vir vyf jaar gratis toegang.

Besoek ​www.wat.co.za, skakel 021 887 3113 of stuur e-pos na ​wat@sun.ac.za.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.