Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
jonker en brink
‘Die jong André P. Brink leef weer vir my’
‘Kortstondige ewigheid van jong liefde’ weerspieël in briewe
Op ’n laatsomermiddag het Ingrid Jonker die lewe van André P. Brink binnegestap. Hul liefde is nou geboek-staaf in die publikasie van hul briewewisseling. Elmari Rautenbach berig.
Vlam in die sneeu.

Sy was sy “Kokon”; hy was haar “Liefsteling”.

Vir twee jaar het die jong skrywer André P. Brink en die digter Ingrid Jonker vir mekaar geskryf, passievol, soms daagliks, soms in lang groetetelegramme omsoom met proteas. Hy was in Grahamstad, verbonde aan die Rhodes-universiteit; sy in Kaapstad.

Dit was juis dié hartstog, maar ook hul jeug wat ’n mens vandag so ontroer, sê Karina Szczurek in haar stil huis in Rosebank. Sy praat van haar man, André P. Brink, se briewe 50 jaar gelede aan Jonker.

Die nuus dat dié briefwisseling in November deur Umuzi gepubliseer word, het navrae van tot Nederland en Engeland laat instroom.

Die korrespondensie het van April 1963 tot April 1965 geduur. Maar skaars drie maande ná die laaste briewe neem ­Jonker haar eie ­lewe wanneer sy die aand van 19 Julie by Drieankerbaai die see inloop.

Dié liefdesbriewe en heelparty telegramme verskyn boonop met eksklusiewe foto’s wat Brink van Jonker geneem het. Een daarvan is op die voorblad van Vlam in die sneeu en Flame in the Snow. Vir die Engelse weergawe het Leon de Kock Brink se briewe vertaal en die digter Karin Schimke – ’n Ingrid Jonker-pryswenner vir haar bundel Bare & ­Breaking – Jonker s’n, wat ook gedigte bevat.

Brink het dikwels die wens uitgespreek om die briewe te publiseer, maar nooit gevoel die tyd is reg nie. Hy is trouens in ’n stadium deur Jonker se suster, Anna, daarvan be­skuldig dat hy die briewe uit die Grahamstadse literêre ­museum gesteel het. In Helena Nogueira se dokumentêre rolprent Ingrid Jonker – Her Lives and ­Times: The Director’s Cut (2001) vertel die skilder Mar­jorie Wallace hoedat die polisie na die briewe soek terwyl dit in ’n boks bo-op ’n kas in haar en Jan Rabie se huis staan.

“Uiteindelik was dit vir jare gebêre as twee stapels in twee geelbruin koeverte agter in ­André se studeerkamer,” sê Szczurek. Dit was sy wat ­uiteindelik verantwoordelikheid vir die projek geneem het, die briewe chronologies ge­orden, geskandeer, laat oortik en as boekprojek bestuur het.

André P. Brink. Foto: VERSKAF
Ingrid Jonker Foto: VERSKAF

“Vir lank ná sy dood kon ek nie skryf nie. Ek kon nie beplan nie. Om aan hierdie ­projek te werk, was ’n enorme troos,” sê sy.

Jy glo haar, want waar Szczurek altyd ’n lang, mooi vrou was, is sy nou opvallend broos en bleek.

Sy praat oor die boek, toe­gewikkel in ’n dik, grys trui en met ’n paar skaapvel-pantoffels aan haar voete, in die sitkamer met die mooi Victoriaanse ­kaggel waar sy en haar man só dikwels vriende onthaal het.

Die Maggie Laubsers is nog daar, die etse, tapyte en talle ver­samelgoed wat die egpaar oorsee versamel het. Maar Brink is op 6 Februarie vanjaar langs sy vrou dood aan boord van ’n KLM-vliegtuig. Hy was 79 en hulle was op pad terug van België, waar hy ’n eredoktorsgraad ontvang het.

“Dit was so ’n jaar gelede dat André met Steven Johnson, een van sy eerste lesers oor baie ­jare en ’n vertroueling, in erns gepraat het oor die publikasie van die briewe. Hy het besef dit was ’n halfeeu later, en dit was ’n kosbare stuk literêre geskiedenis wat tot dusver ontbreek het. Hy was besig met ’n nuwe roman, Goudstof, en die plan was dat die boek eers sou ­uitkom, en dan die briewe. Dit het toe nie so gebeur nie . . .”

Wat haar opgeval het van die briewe was hoe mooi dit is, sê Szczurek. “Die meeste was op brief­papier, dikwels in verskillende kleure. Ingrid het ’n pragtige handskrif gehad. Sy was glo baie sleg met spel, maar dít sal ek nou nie weet nie. André het weer dikwels in potlood geskryf. Baie van die briewe was op ’n tikmasjien getik – André se eerste brief is getik.”

Brink beskryf sy eerste ­ontmoeting met Jonker in sy outobiografie, Vurk in die pad, as ’n “blou en goue laatsomersmiddag, Donderdag 18 April 1963, toe Ingrid my geordende bestaan binnestap en dit onderstebo keer . . .” Later skryf hy: “Haar kaal voete was klein en smal en pragtig. Ek sou daarna nooit weer ’n vrou ontmoet sonder om na haar voete te kyk nie.”

Grepe uit Brink en Jonker se briewewisseling toe hulle onderskeidelik 29 en 28 jaar oud was.
Grepe uit Brink en Jonker se briewewisseling toe hulle onderskeidelik 29 en 28 jaar oud was.

Hy het nie destyds besef sy en die skrywer Jack Cope was in ’n verhouding nie. Self was hy toe nog met sy eerste vrou, Estelle Naudé, getroud, wat tot baie sielewroeging en latere verbrokkeling van die huwelik gelei het.

De Kock skryf uit Baltimore, Amerika, waar hy deesdae woon, hoe die briewe ’n unieke perspektief gee van hoe dit ­gevoel het om “in die opwelling van die Sestiger-tydperk ’n ­leidende jong skrywer” te wees.

“Brink skryf asof hy ’n groot gehoor agter die skerms in ­gedagte het, en die literêr-historiese gegewens is deurweef met persoonlike detail, met ‘Bartho’-dit en ‘Jan [Rabie]’-dat, hoe ‘Uys [Krige]’ kwaad is vir hulle, hoe jaloers Brink is op ‘Jack [Cope]’, en in watter mate Brink ’n renons het in ‘Bill [W.A. de Klerk]’ se beweerde skynheiligheid, ens.”

Maar dan is daar weer ­ontwapenende persoonlike ­detail wat haar geraak het, sê Szczurek. “Reg aan die begin van die verhouding, in Junie 1963, skryf André vir Ingrid: ‘Kan ek iets doen wat die ­moeite werd is?’ ”

Die uitgewer Fourie Botha het die twee vertalers gekies.

“Maar die oomblik toe hy die name noem, het ek geweet dis die regte keuse.”

Vir De Kock was dit ’n ­moeilike projek. “Om Brink se ‘stem’ vas te vang is iets waarmee ek geworstel het, maar dit is tog waarom ek literêre ­ver­taling geniet: dié tipe worsteling. Die man is oorlede, maar hier is sy stem, weer aan die ­lewe, en ek mág dit nie verdraai of vervals of daarmee fouteer nie.”

“Ek kon die briewe nie ten volle verstaan nie, maar toe ek die vertaling lees, het die woorde vir my oopgegaan,” sê Szczurek. Dit was of André weer by my was, sy jong self. Of alles in plek geval het.”

“Wat my bybly, is die kortstondige ewigheid en die ­verbygaande maar brandende hartstog van ‘jong liefde’,” sê De Kock.

In Nogueira se rolprent word vertel Brink was drie uur lank blind toe hy die Sondag die nuus van Jonker se dood ­gehoor het.

“Brink se liefde vir sy ­‘Kokon’, een van sy baie by­name vir Ingrid, is diep en opreg – selfs desperaat. Hy is ’n romantikus. Hy kan nie anders nie. Of só gee hý te kenne.

“Die groter bewustheid ­waaroor die leser beskik oor wat nog gaan gebeur met ­Jonker en Brink maak hiervan ook ’n sonderlinge geval van dramatiese ironie.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.