Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
ANDRIES BEZUIDENHOUT
Die private en openbare naas mekaar
Aan hand van toestelle dink digter oor mens en wêreld na
Andries Bezuidenhout se tweede digbundel, Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle, het pas by Protea Boekhuis verskyn. J.B. Roux het met hierdie arbeidsosioloog van Pretoria gesels.
Andries Bezuidenhout

Retoer, jou debuut, het sewe jaar gelede verskyn. Hoekom neem dit so lank om ’n bundel “uit te broei”?

Gedigte bevlieg ’n mens. Dan volg ’n stadige proses van wik en weeg, asook die asblik vir baie pogings. Ná die aanvanklike inspirasie is die plesier meer in die oorskryf as in die finale produk. Publikasie kom eers as die redigeerwerk ’n irritasie word.

Ouer Afrikaanse digters soos Olga Kirsch weerklink in jou bundel, soos in die gedig “Digitaliseer”. Dan is daar ook Sheila Cussons . . .

Soos Cussons, is daar ook ’n gesprek met religie en ontnugtering aan die gang, hoewel ’n mens hierdie stelling seker op die meeste Afrikaanse ­digters sou kon toepas!

Ek dink daar is darem ’n gesprek met jonger ­generasies ook. Ek lees graag Ronelda Kamfer, Danie Marais en Loftus Marais se gedigte, ook Gert Vlok Nel – digters by wie die wisselwerking tussen intieme en openbare ruimtes sterk figureer.

Die titelgedig herinner weer aan N.P. van Wyk Louw se “Die ­Beiteltjie”. Hoekom het jy die bundel se titel juis aan hierdie gedig ontleen?

Die titelgedig werk met Walter Benjamin se engel van die geskiedenis wat deur die ­winde van vooruitgang só vinnig die toekoms ingewaai word, dat die engel nie alles wat verkeerd gaan, reg kan maak nie.

Die gedig verbeel die moontlikheid om tyd te laat stilstaan en dan om te draai, om sodoende aan die beginpunt van die geskiedenis vrae te stel oor wat nog gaan ­gebeur. As Adolf Hitler as baba sy eie toekoms kon sien, sou hy met sy lewe voortgaan? En ek?

In my gedigte worstel ek met my plek in hierdie aaklige, aaklige land (om Gert Vlok Nel aan te haal) en die geskiedenis. “Die ­beiteltjie” gaan oor die krag van taal, asook die moontlike ­breër gevolge van ’n klein eksperiment. Die krag, of dalk onmag, van taal is iets waaroor ek baie wonder.

Die uitgewer sê in hierdie bundel “(…) word twee werklikhede wat op die oog af nie raakpunte het nie, naas mekaar geplaas.” Kan jy hierop uitbrei?

Die sosioloog C. Wright Mills praat van die spanning tussen ons elkeen se private dramas ­(bio­grafie) en openbare kwessies ­(historiografie).

Volgens Mills verg dit verbeelding om uit te werk hoe ons pri­vate dramas ook openbare kwessies kan wees.

Ek gebruik huishoudelike toestelle om hieroor na te dink. Ons sit in pajamas en sonder grimering by die kombuistafel, maar die toestelle rondom ons is met drade, pype en kabels aan die wêreld daar buite gekoppel.

Is ons nie ook net biologiese ­toestelle nie?

Daar is heelwat nostalgie in Veel­vuldige gebruike vir huishoudelike toestelle. Is nostalgie nie veronderstel om die domein van veel ouer digters te wees nie?

Nostalgie kan baie konserwatief wees, maar ook ’n radikale manier om die verlede te onthou, selfs verkeerd te onthou en sodoende die toekoms op utopiese wyse te verbeel.

Breyten Breytenbach het onlangs ’n pragtige artikel oor die belangrikheid van die utopiese verbeelding geskryf. Ek wil die Suid-Afrikaanse filosoof Rick ­Turner hierby voeg, wat ook oor utopiese denke geskryf het. Hy is deur ’n sluipmoordenaar dood­geskiet en Charl-Pierre Naudé het ’n roerende gedig hieroor geskryf.

Wat is, na jou mening, die verskil tussen ’n gedig en ’n góéie gedig?

Daar is sekere digters by wie ek meer aanklank vind as ander. Sommige digters se werk kan ek op intellektuele of tegniese vlak waardeer, maar die gedigte laat my koud.

Ek wil hê ’n gedig moet my onkant betrap, onverwags karnuffel of sommer net roer. Tog is dit soms lekker om die gedig as raaisel te benader en te moet ontsyfer.

​KOELKAS

volgens die tweede wet van termodinamika

is verkoeling die meganika

van hitte verwyder, eerder as koue byvoeg:

ook bekend as kriogenie.

koue, my lief, is dus niks anders

as die afwesigheid van hitte nie

en ek wat op die klipvloer bewe

vandat jy nie meer hier is nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.