Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Drie romans op kortlys vir Hofmeyr-prys
Eben Venter
Etienne van Heerden
Kerneels Breytenbach

KAAPSTAD. – Drie Tafelberg-boeke kom vanjaar vir die WA Hofmeyr-prys vir fiksie teen mekaar te staan.

Op die kortlys ding Kerneels Breytenbach en Deon Opperman se Donkerland mee met Etienne van Heerden se Klimtol en Eben Venter se Wolf, wolf. Al die wenners van die Media24-boekpryse word op 6 Junie bekend gemaak.

Die Engelse vertaling van Venter se boek is deur Michiel Heyns en dit is ook op die kortlys vir die Sunday Times-fiksieprys.

Donkerland, Breytenbach en Opperman se teks gegrond op Opperman se televisiereeks, het op die ATKVeertjies vier televisiepryse ontvang, waaronder die prys vir die beste draaiboek vir ’n dramareeks of enkeldrama deur Saartjie Botha en Opperman.

Donkerland is die eerste aflewering in ­Opperman se Afrikaner-trilogie.

Oor Klimtol sê die Stellenbosse ­literator Louise Viljoen op LitNet dit is ’n “volkome oortuigende en meevoerende roman waarin die skrywerslens oopgestel word vir ’n wye spektrum van menslike ervaring, maar daar ook erkenning gegee word aan die behoefte om terug te keer na ’n ruimte van oorsprong, of dit nou dié van die gesin of die eerste bron van inspirasie is”.

“Die merkwaardige van hierdie roman is dat dit selfs die mees siniese leser (soos byvoorbeeld ek) oortuig dat ’n roman met ’n klimtol as onderwerp die waardige draer kan wees van ’n besinning oor die aard van kreatiwiteit, vryheid, verantwoordelikheid en skuld.”

Desmond Painter, ook van die Universiteit Stellenbosch, skryf in sy bespreking van Klimtol op LitNet: “Die roman kom in opstand teen die historiese ‘erfskuld’ van die kapitalisme, dit wat ons almal dwing om ons tyd, en toenemend die wese van wie ons is, onsself, ten brode te verkoop.

“In hierdie opsig is Klimtol die klinkendste, mees hartstogtelike protes teen die slopende kenmerk van werk wat ek nog in Afrikaans gelees het.”

Willie Burger, professor in die departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria, skryf in sy resensie op Boeke24: “Klimtol trek die leser speel-speel in ’n ander wêreld in wat jou dwing tot nadenke oor ons bestaan, oor die belang van spel, oor skuld, oor plig, oor eerlikheid, oor oorlewing in hierdie land.”

In sy bespreking van Wolf, wolf op LitNet skryf Izak de Vries dit lees maklik en is ’n spannende roman. “Dit is ook ’n komplekse teks, ryk aan snydende kommentaar op die hedendaagse samelewing. Die roman ondersoek ’n middelklas- wit gesin se lewe, maar dit vra heelwat vrae oor ’n aantal kwessies wat ons samelewing tans bedreig. Pornografie, en die misbruik daarvan, word uiteindelik ’n metafoor vir die grootse denkfoute wat die wit middelklas-Afrikaner tans bedreig.”

Thys Human skryf oor Wolf, wolf op ­Boeke24: “Ongeag die soms omstrede temas wat Eben Venter in sy romans aansny, slaag hy telkens daarin om ’n boeiende storie te vertel.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.