Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
1ste Parys-kunstefees gehou
Gert Vlok Nel

Die nuwe Parys-kunstefees begin vandeesmaand met die doel om dié Vrystaatse dorp as kunsbestemming te vestig en aan plaaslike kunstenaars groter blootstelling te gee.

Deon TerBlanche, organiseerder van die fees en ’n plaaslike kunstenaar en fotograaf, het die behoefte raakgesien om plaaslike kuns onder die groter publiek se aandag te bring.

Die Parys-kunstefees, met die tema The River Runs Colour, word van 29 Maart tot 15 April aangebied met die aanbod meestal gratis en die aktiwiteite wat hoofsaaklik oor naweke eerder as op weeksdae plaasvind.

Bacchus Nel Foto: Deaan Vivier

“Die realiteit van ons ekonomie was sodanig dat ek letterlik net R50 in die bank gehad het,” sê TerBlanche. “Maar kunstenaars maak ook goeie dromers en ek het gereken as ek so vol geesdrif is, moet ander kunstenaars tog ook so voel en ek sou hulle bloot oortuig om ons almal gratis te help. Van musikante tot skilders en fotograwe, want dis ’n eerste fees. Ek sou ingestem het as iemand dit vir my gevra het. Dit is hoe alles begin het – met R50, baie geloof en nog meer geesdrif.”

Die tema is te danke aan die dorp se ligging langs die Vaalrivier en daarmee saam kenmerk verf en kleur die fees. Die fees het nie vanjaar ’n kurator nie.

Hoewel plaaslike kuns ’n groot deel van vanjaar se aanbod uitmaak, is kunstenaars, skrywers en musikante van elders ook te sien.

Dana Snyman Foto: Denvor de Wee

Dit sluit in die drie bekende reisskrywers Dana Snyman, C. Johan Bakkes en Johan Badenhorst (ook die vervaardiger van reisprogramme vir televisie) wat saam met die musikant Gert Vlok Nel, ook bekend as digter, sal optree.

Die sangers Jak de Priester, oorspronklik van Parys, en Bacchus Nel sal ook optree.

Die fees sluit verder fotografie- en beeldhouwerkswinkels in.

Die meeste van die TerBlanche-egpaar se vriende is ook visuele kunstenaars.

TerBlanche en sy vrou, Karin, ook ’n kunstenaar, het die Parys Kunstekorps op die been gebring sodat kunstenaars saam groter uitstallings deur verskillende kunstenaars met verskillende benaderings en ’n groter verskeidenheid van kuns kan aanbied.

C. Johan Bakkes

“Ons was net ná Nuwejaar by ’n vriendin se verjaardagpartytjie en ons praat toe oor hoe Parys hom tot die kunste verleen, maar dat hier eintlik niks kunssinnigs gebeur nie en dat ons afgesonder voel van die res van die wêreld.”

Johan Badenhorst

TerBlanche kom toe met die voorstel van ’n maandelikse kunsfliekaand, maar die gedagte van iets groters het toe by hom posgevat.

Vanjaar vind die meeste geleenthede vir die kunstefees in lokale plaas wat normaalweg kuns ten toon stel en dus word nie veel toestemming van die dorp se owerhede benodig nie.

Die inwoners is baie opgewonde oor die komende fees en dat dit die ekonomie van Parys ’n hupstoot kan gee.

“Ons was verstom toe die owerhede ons genader het en gesê het dat hulle te hore gekom het van die fees en gevra het hoe hulle ons kan bystaan.

Jak de Priester

“Ons is bewus van minstens 1 500 mense wat na Parys net vir die kunstefees sal kom. Gastehuise is feitlik vol en al die restaurante en geskenkwinkels sal baat vind by die bykomende besoekers.

“Ons sien die dorp het skielik ’n byna elektriese gevoel van opwinding. Ons hoor oral hoe mense oor die fees praat, sien dit in die koerante en op sosiale media. Ons fone lui amper die heeltyd en ons kom agter die dorpenaars is honger vir kuns en kultuur.”

TerBlanche glo Parys het die voordeel dat baie besoekers van Johannesburg of Pretoria vir ’n dag die dorp kan kom besoek.

“In vandag se taai ekonomiese tye is ons fees dus bereikbaar vir die wyer publiek.”

Die fees wil uiteindelik ’n ewe groot platform aan die kunsliefhebber sowel as kunstenaar bied.

“Die een kan eenvoudig nie sonder die ander bestaan nie.”

* Vir sommige van die werkswinkels, die sangers se optredes en die skrywersgeleenthede, moet toegangsgeld betaal word.

* Besoek parysartsfestival.co.za vir die volledige feesprogram en om te bespreek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.