Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aardklop
Aardklop: ‘Afrikaans lééf en borrel in weerwil van regering’
Prof. Wannie Carstens (tweede van links), medeskrywer van die boek Die Storie van Afrikaans, Donderdag by die ATKV-Boeke-Oase in Potchefstroom. By hom is van links Adri Breed, wat die gesprek gelei het, dr. Danny Titus, direkteur van korporatiewe aangeleenthede by die ATKV, en prof. Hans du Plessis, skrywer en akademikus.. Foto: Susan Cilliers

Afrikaans het reeds sowat 50 jaar voordat Jan van Riebeeck voet aan wal in die Kaap gesit het, aan die suidpunt van Afrika begin ontwikkel soos wat Europese skepe hier gestrand het.

Dis ’n boeiende verhaal waarin mense van verskillende vastelande met mekaar in aanraking gekom en die reis na die noordelike dele van die land aangepak het in ’n nuwe Afrika-taal: Afrikaans.

Die oorspronklike Nederlands, bietjie Frans en Duits is omvorm tot iets anders deur invloede van onder meer slawe uit die ooste en inheemse volke soos die Koi en Griekwas.

Prof. Wannie Carstens, mede-outeur van die boek Die Storie van Afrikaans, het Donderdag by die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom gesê dié lywige boek wat in twee dele verskyn het, is juis ’n poging om die veelsydige, inklusiewe oorsprong van Afrikaans te beskryf. Die eerste deel van die boek deur Carstens en prof. Edith Raith het in 2017 verskyn en die tweede deel is vroeër vanjaar uitgereik. Hulle het ses jaar aan die boek gewerk.

Carstens het by die ATKV-Boeke-Oase gesê tydens hul navorsing vir die boek, het hulle onder die indruk gekom van hoeveel dinge oor die totstandkoming van Afrikaans verswyg is. “Ons het alles ter sake betrek, dis waarom die boek so lywig geword het dat dit in twee dele gepubliseer moes word. Ons lig ook nog talle leemtes en geleenthede vir navorsings uit om die storie van Afrikaanse verder oop te krap. Ons is nou baie eerliker oor die taal (as in die vorige bedeling).”

Hoewel daar woede is teenoor Afrikaans as die taal van die “onderdrukker”, is Afrikaans ook ’n taal van bevryding, sê dr. Danny Titus, direkteur van korporatiewe aangeleenthede by die ATKV.

“Ons het in Afrikaans teen apartheid geveg. Die NG Kerk het in ’n stadium gedebatteer of die Koi-mense siele het. Vandag word die Koi-taal erken as deel van die storie van Afrikaans. Dis ’n reusesprong. ’n Golf het oor verskillende aspekte van Afrikaans losgebars. Ons sien dit op radio en televisie. Dit kom na vore in (onder meer) rap-Afrikaans en komediante se taalgebruik. Die taal lééf, dit borrel en word gepraat.”

Titus meen egter dié grondvlak-werklikhede staan in kontras met die regering se houding teenoor Afrikaans. Hy meen dit kan onder meer gepak word deur na buite “uit te praat” oor Afrikaans en die versteekte waarhede oor die taal na die hoofstroom te neem.

“Daar moet ook gevra word watter bekentenisse ons op die tafel kan lê om te wys waar Afrikaans gefaal het en hoe ons versoening kan bring.”

Foto:

Prof. Hans du Plessis, skrywer en akademikus, sê die eerste opgetekende woord in Afrikaanse is “brokwa” (brood vir die mense). “Dis reeds 50 jaar vóór Jan van Riebeeck se koms gebruik. Baie van hierdie inligting was lankal bekend, maar dit is eers onlangs erken.”

Du Plessis sê dié erkenning dui daarop dat Afrikaans ook deur die proses van demokratisering gaan.

“Ons kyk nou nuut na die taal, terwyl die Europese oorsprong tevore oorbeklemtoon is. Wanneer ons die groter verskeidenheid van Afrikaans aanvaar, word dit ’n Afrikataal wat eenheid binne verskeidenheid versinnebeeld. Dis baie meer as wat Engels kan doen.

“Die volledige storie van Afrikaans moet deel word van die meestersnarratief van die land. Indien die owerhede Afrikaans nie ondersteun nie, kan baie van die taal se funksies verlore gaan.“

Een van die maniere om Afrikaans landwyd relevant te maak, is om gehalte Afrikaanse produkte op radio, televisie en feeste te skep, sê Du Plessis.

“Daar is reeds nie-moedertaalsprekers wat gelok word deur sulke Afrikaanse produkte. Ons moet die storie van Afrikaans egter groter maak sonder om ongeskik of opdringerig te wees.”

Carstens sê een van die maniere om Afrikaans se storie selfs internasionaal te vertel, is om boeke daaroor in onder meer Engels te laat vertaal. Die plan is daarom ook om Die Storie van Afrikaans in Engels te vertaal.

Meer oor:  Atkv  |  Die Storie Van Afrikaans  |  Aardklop  |  Wannie Carstens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.