Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aardklop
Aardklop begin met kuns, calamari en wyn

Dis weer tyd vir feesvier in Potchefstroom.

’n Rekordgetal besoekers en ’n ekonomiese inspuiting van R50 miljoen vir die stad word verwag tydens die Aardklop Nasionale Kunstefees wat van Dinsdag tot Sondag duur.

Dié jaarlikse hoogtepunt op die feeskalender het Maandagaand weer op ’n vrolike noot in die Beeld-ouditorium op die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus afgeskop.

Prof. Fika Janse van Rensburg, voorsitter van die Aardklop-direksie, en Alexa Strachan, feesbestuurder, Maandagaand by die afskopfunksie in Potchefstroom. Foto: Susan Cilliers

Gaste het hier kuns bekyk oor ’n glasie wyn, calamari en pizza. Vanjaar was daar geen formele kunssafari en toesprake op die afskopfunksie nie, maar gaste kon steeds na die kunsuitstallings in die ouditorium en alumni-saal langsaan kyk.

“Ons wou iets anders probeer en net ordentlik partytjie hou voordat die fees begin,” het Delmari van Zyl, Aardklop-woordvoerder, Dinsdagoggend gesê. “Die terugvoering was baie positief.”

Pieter Malan van Rustenburg en dr. Merna Meyer van Potchefstroom was onder die gaste wat die Aardklop-afskopfunksie Maandagaand bygewoon het.Foto: Susan Cilliers

Volgens Van Zyl is daar teen Dinsdagoggend meer kaartjies vir produksies by vanjaar se fees verkoop vergeleke met verlede jaar.

Mense het ook vroeg Dinsdag al in lang rye gestaan om by die feesterrein op die Bult in te kom. “Die aanbod vanjaar op die feesterrein is ongelooflik,” sê Van Zyl. “Daar is meer as 500 kunsvlyt- en kosstalletjies en vermaak vir kinders.”

Gaste by die afskopfunksie kyk na van die kunswerke wat vanjaar op Aardklop te sien is.Foto: Susan Cilliers

KlopKidz! het elke oggend ’n propvol program vir kinders op die feesterrein, met kunstenaars soos Lizz Meiring, Jak de Priester, Anna Davel en Margit Meyer-Rödenbeck. Dit kos R10 vir kinders van jonger as 12. Ouers kan die kinders ook daar los en gaan fees terwyl daar na die kinders omgesien word.

Gaste bespreek die kuns wat uitgestal is op Aardklop se afskopfunksie Maandagaand.Foto: Picture Café

Prof. Fika Janse van Rensburg, voorsitter van die Aardklop-direksie, sê die “nuwe Aardklop” wat vier jaar gelede onder nuwe bestuur begin het, is nou goed op dreef na “volwassenheid”. Hy meen die sukses van Aardklop is te danke aan ’n klomp mense se bydrae; besoekers, borge, stalletjiehouers, mense in die stad wat verblyf verskaf en die goeie leiding van Alexa Strachan, die feesbestuurder, en haar span.

Gaste by Aardklop se afskopfunksie Maandag bekyk een van die interessante werke wat vanjaar uitgestal word.Foto: Picture Café

Intussen is verskeie vertonings al uitverkoop: Boks, Laurika Rauch, Die Aardklop langtafel, Kulinêre kunsies: Mesvaardigheid en Marokkaanse geregte en Kulinêre Kunsies: Pasta-passie en Italiaanse disse.

Gaste by Aardklop se afskopfunksie Maandagaand in die Beeld-ouditorium. Foto: Picture Café

Die volgende vertonings is amper uitverkoop en mense sal dus moet gou spring om kaartjies daarvoor te kry: halfSES vir SESuur, Kamphoer, TBF Kuiertafel, Sê Groete vir Ma en Donkie.

Op die afskopfunksie Maandagaand is die geleentheid met onder meer wyn gevier. Foto: Picture Café

’n Ekstra vertoning van Kamphoer is vir Saterdag om 20:00 geskeduleer weens al die navrae en versoeke daaroor, sê van Zyl.

Gaste by Aardklop se afskopfunksie Maandagaand kon ook smul aan calamari en skyfies. Foto: Picture Café

* Toegangskaartjies vir die feesterrein is R30 per dag of R75 indien jy ’n kaartjie vir die hele duur van die fees wil koop. Die kaartjies is beskikbaar by die hekke na die feesterrein of by die feeskantoor (Molenstraat 69). Pendeldienste na lokale waar vertonings gehou word, is beskikbaar teen R15 per rit.

Gaste by Aardklop se afskopfunksie Maandagaand het steeds kuns geniet al was daar nie ’n formele kunssafari soos die vorige jare nie.Foto: Picture Café
So het mense Dinsdagoggend tougestaan om by die feesterrein op die Bult in te kom.

Meer oor:  Aardkop  |  Aardklop-Kunstefees  |  Kunstefees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.