Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aardklop
Aardklop: Potch skud vere reg, kunstenaars daag op
Die span van die stuk Die dinge van ’n kind, gegrond op Marita van der Vyver se gelyknamige roman, het Sondag in Potchefstroom aangekom vir Aardklop, waar dié debuutproduksie te sien sal wees. Van links is Margit Meyer-Rödenbeck, vervaardiger, Cintaine Schutte, wat die karakter Mart vertolk, en Nicole Holm, regisseur. Foto: Susan Cilliers

Potchefstroom verwag ’n ekonomiese inspuiting van sowat R50 miljoen danksy die Aardklop Nasionale Kunstefees wat Dinsdag in die stad afskop, sê Delmarie van Zyl, Aardklop-woordvoerder.

Op die feesterrein op die Bult was uitstallers en stalletjiehouers Sondag reeds doenig om teen Dinsdagoggend, wanneer die feeshekke open, gereed te wees.

Ronald Goldberg, ’n sakeman in die stad wat spesialiseer in die afskuur van houtvloere, se houtbank van 830 kg pryk ook op die feesterrein. Goldberg sê hy het die bank in 2016 gebou ter herinnering aan sy vrou, Henriëtte, nadat sy aan kanker dood is. Dit is gemaak van ysterhout-dwarslêers. Aan die kante is wawiele wat 150 jaar oud is. Goldberg het die wawiele vroeër in Bela-Bela in Mpumalanga gekoop.

Ronald Goldberg en een van sy werkers, Michael Sedi, eet roomys op die houtbank wat Goldberg gemaak het ter herinnering aan sy vrou, Henriëtte, wat in 2016 aan kanker dood is.Foto: Susan Cilliers
Die span van die stuk Die dinge van ’n kind, gegrond op Marita van der Vyver se gelyknamige roman. Van links is Nicole Holm (regisseur), Cintaine Schutte (die karakter Mart) en Margit Meyer-Rödenbeck (vervaardiger). Foto: Susan Cilliers
Stephan Louw, eienaar van die Slouw Coffee- mobiele stalletjie, en Bronwyn Haasbroek Sondag op die Aardklop-feesterrein in Potchefstroom. Foto: Susan Cilliers

Stephan Louw, eienaar van die mobiele koffiestalletjie Slouw Coffee, sê hul stalletjie doen goeie sake ondanks die hitte. “Ons verkoop ook baie koue kafeïendrankies soos ystee. Mense drink in elk geval soggens koffie, of dit nou warm of koud is.”

Bronwyn Haasbroek, wat in dié stalletjie werk, sê dis vanjaar hul derde jaar by die fees en dit is beslis die moeite werd. “Mense in Potchefstroom ken ons omdat ons rondbeweeg, maar hier bou ons kontakte van oraloor op.”

Nita Cronjé, bestuurder van kunste en feeste van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV), Sondag by die ingang na die gewilde ATKV Boeke-Oase. Foto: Susan Cilliers
Hennie van Vuuren kry Sondag sy swaer, Stephan Fourie, se gewilde Chip’nDip-stalletjie gereed vir Aardklop.Foto: Susan Cilliers
Feesgangers sal ook stoeltjieritte op die Aardklop-feesterrein kan geniet. Foto: Susan Cilliers

Akteurs en regisseurs het ook reeds Sondag in die stad begin aankom. Margit Meyer-Rödenbeck, vervaardiger van die stuk Die dinge van ’n kind, Nicole Holm, die regisseur, en Cintaine Schutte, wat as Mart in dié stuk te sien is, het kort ná hul aankoms Sondagmiddag in Potchefstroom gesê hulle sien uit na ’n besige week. Meyer-Rödenbeck bring ook onder meer haar jongste stuk, Dowwe Dolla – Nou of nooit! na die fees.

Nita Cronjé, bestuurder van kunste en feeste van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV), het Sondag by die gewilde ATKV-Boeke-Oase oorkant die feesterrein gesê ’n propvol program met verskeie bedrywighede wag hier. “Ons is ’n oase weg van die feesgewoel waar feesgangers boek-, sake- en diskoersgesprekke gratis kan bywoon. Dis ’n wenresep. Dis nou al die sewende jaar dat die ATKV die lokaal hiervoor borg.”

Vanjaar is daar weer heelwat gratis vermaak op die Aardklop-feesterrein. Foto: Susan Cilliers
Daar is vanjaar weer iets vir elke smaak te koop op die Aardklop-feesterrein. Foto: Susan Cilliers
Een van die feesterrein se ou gunstelinge, die Lewerkombuis, is vanjaar weer terug. Foto: Susan Cilliers

Mense kan hier ook koffie, wyn of iets lig om te eet geniet en natuurlik is daar weer ’n fees van boeke te koop.

Van Zyl sê heelwat vertonings is al uitverkoop: Boks, Laurika Rauch, Die Aardklop Langtafel, Kulinêre kunsies: Mesvaardigheid en Marokkaanse geregte en Kulinêre Kunsies: Pasta-passie en Italiaanse disse.

Dié vertonings is amper uitverkoop en mense sal dus moet gou spring om kaartjies daarvoor te kry: halfSES vir SESuur, Kamphoer, TBF Kuiertafel, Sê Groete vir Ma en Donkie.

Verskeie strate in en om die Bult waar die feesterrein is, sal vir die duur van die fees afgesper wees.

Toegang na die feesterrein kos R30 per dag of R75 indien jy ’n kaartjie vir die hele duur van die fees wil koop. Die kaartjies is beskikbaar by die hekke na die feesterrein of by die feeskantoor (Molenstraat 69).

Die feesterrein is elke dag van 9:00 tot 21:00 oop en die kroeë tot 24:00. Pendeldienste is beskikbaar teen R15 per rit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.