Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aardklop
Aardklop-program bekend
Jana Cilliers keer terug na die planke na ’n lang afwesigheid vir die nuwe Aardklop-produksie Wilde als.Foto: Leanne Stander

Die aktrise Jana Cilliers is terug na die verhoog gelok. Na ’n lang afwesigheid van die planke is sy op vanjaar se Aardklop-kunstefees te sien. Sy gaan speel teenoor Dawid Minnaar in ’n splinternuwe produksie vir dié fees wat midde die skoolvakansie van 24 tot 29 September aangebied word op Potchefstroom.

Die kunstefeesbestuur het pas hul volgepakte program bekend gemaak. Onder die debute tel ’n verwerking na die verhoog van die bobaasskrywer Marita van der Vyver se Dinge van ’n kind en ’n blinknuwe produksie van Christo Davids – getiteld Queenie-hulle, wat die lewe van bergies in Kaapstad uitlig.

Cilliers gaan teenoor Dawid Minnaar speel in Wilde-als,

’n nuwe produksie van Wessel Pretorius wat ook die regisseur is. Dit handel oor herinneringe en die liefde, ’n kaalkopblik op die aard van menseverhoudinge. Voeg by Cilliers en Minnaar se vertolkings asook dié van veterane soos Marius Weyers, Sandra Prinsloo, Antoinette Kellermann, Anna-Mart van der Merwe en Frank Opperman om ’n paar te noem in ander stukke, wat reeds groot aftrek op

Antoinette Kellermann in die veelbekroonde Koningin Lear wat by Aardklop opgevoer word.Foto: Nardus Engelbrecht

ander feeste ontvang het. Daar is ook nuwe musiekproduksies van ou feesgunstelinge soos Laurika Rauch en Coenie de Villiers – so stoom die lys voort. Dit is seker al meer as genoeg rede om die tasse te pak.

Die aktrise Cintaine Schutte vertolk verskeie karakters in die eenvroustuk Dinge van ’n kind – hoofsaaklik dié van ’n ouer vrou wat vir haar jonger self briewe skryf. Die jare sewentig tot vroeë negentigs in Suid-Afrika word daarin gedek. “Ek is baie opgewonde, dit is uitdagend, maar die stuk is in goeie hande met Nicole Holm as regisseur. Die grensstories was iets waaroor niemand destyds gepraat het nie; dit is goed dat dit na die lig kom, het sy gesê.  In die stuk word temas soos grootword, swangerskap en selfdood uitgelig. Francois Toerien het die verwerking hanteer. Schutte is ook teenoor Albert Pretorius te sien in Tien duisend ton, ’n tragikomedie oor die verloop van ’n verhouding en die toestand van die planeet.

Verlede jaar is die teaterskepper Christo Davids met ses Aardklop-pryse vereer vir sy toneelstuk My seuns. Sy nuwe stuk Queenie-hulle handel oor ’n groep bergies wat op die trappe van die Goeie

Cintaine Schutte is in twee produksies op die fees te sien in Die dinge van ’n kind en in Tienduisend ton.

Hoop-sentrum in Kaapstad woon – totdat Oueenie opdaag en hulle beveel om ’n nuwe blyplek te soek.

Gunsteling arias is op die program van die sopraan Magdalene Minnaar en die pianis José Dias se produksie Portret.

Feestreffers van ander feeste is ook in die vooruitsig soos

Koningin Lear met Kellermann in die rol van ’n matriarg wat haar sakeryk aan haar seuns moet agterlaat – dit is met agt Kannas bekroon insluitend dié vir beste produksie op vanjaar se KKNK. Vir teaterfoendi’s is dit ’n absolute moet-sien. Die regisseur is Marthinus Basson.

Katvoet met Weyers en Tinarie van Wyk Loots in ’n verwerking van Tennessee Williams se Cat on a Hot Tin Roof behoort ook hoog op die teaterlys te wees. Dieselfde geld die langverwagte Kamphoer wat binnekort op die Vrystaat-kunstefees vir die eerste keer opgevoer word. Prinsloo is te sien in die rol van ’n vrou wat gedurende die Anglo-Boereoolog verkrag en vir dood agtergelaat is. Ná jare kruis haar lewenspad met een van haar verkragters.

Christo Davids

Opperman is te sien in Donkie van Dana Snyman. Die ander komiese aanbod is onder meer die sketskomedie, Die intermissie, met onder meer Bennie Fourie en Schalk Bezuidenhout asook Die voordele van eierwit bied ’n lag met ’n traan.

Die ewe volgepakte musiekprogram staan nie ’n tree agteruit nie met Charl du Plessis wat vir die eerste keer ’n soloproduksie aanpak.

Voeg daarby CH2, The Fire Gypsies en die Montoya Spaanse dansers wat verenig vir ’n produksie en ’n nuwe produksie van Joshua na die Reën.

Ander trekpleisters is optredes van Amanda Strydom, Karen Zoid, en Deon Meyer se Karoo-suite.

Daar is ook ’n volgepakte boeke-program en ’n gespreksreeks om na uit te sien.

Vanjaar se feeskunstenaar is Cobus Haupt wie se werk in die hoofgalery van die NWU-kampus uitgestal word.

*Die feesterrein is oop van 24 tot 28 September. Toegang tot die terrein kos R30 per dag of R75 vir ’n weekkaartjie. Kinders onder twaalf het gratis toegang.

Produksiekaartjies kan by Ticketpro te koop wees van 24 Junie of by Aardklop se kantoor te Molenstraat 69.

Meer oor:  Aardklop  |  Kunstefees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.