“Ek gaan vir die eerste keer vir die ANC stem om Cyril Ramaphosa te versterk,” is van die uiteenlopende kommentaar oor die 2019-verkiesing wat Beeld-lesers in hul briewe, SMS’e en in ander deelname aan diskoerse lewer.
“Verkiesing 2019: Moet ek enigsens stem? En vir wie?” Dit is vanjaar die politieke onderwerp in Aardklop en Beeld se aktuele gespreksreeks en vind Saterdag 6 Oktober onder leiding van Tim du Plessis, hoof van nuus en aktualiteit by kykNET, plaas.

Lourensa Eckard
Pieter du Toit, politieke joernalis en adjunkredakteur van News24, is net een van die drie bewese ontleders vir die onderwerp.
Sy mede-paneellede is Alida Kok, dosent aan politieke wetenskap aan Unisa en gereelde Beeld-rubriekskrywer, en prof. Andre Duvenhage, politieke navorser aan die Noordwes-Universiteit.
kykNet Verslag is vanjaar die nuwe vennoot van die gespreksreeks en benewens Du Plessis gaan verskeie van die gewilde aktualiteitsreeks se aanbieders die gesprekke lei.
Heindrich Wyngaard lei Woendag die gesprek met die onderwerp “Afrikaner, Bruin, Afrikaanssprekend, Afrikaan, Kleurling, Boer, Khoisan, Suid-Afrikaner. Wie is ons? En maak dit saak?”

Tim du Plessis
Donderdag is Lourensa Eckard in die stoel wanneer gepraat word oor “Sosiale Media – euwels en deugde. Wat van fopnuus?” Bettie Kemp lei Vrydag die gesprek oor wat mag ‘n mens sê en wat nie? Is daar riglyne vir wit en swart?”
Van die paneelede in die gesprekke is Bouwer Bosch, Theo Venter, Flip Buys en Danny Titus.
Al die gesprekke begin om 10:00 en is by die Netwerk24-feeskafee by die Noordwes-Universiteit se sakeskool. Toegang is gratis. Vir meer besonderhede hieroor en die res van Aardklop se program, gaan gerus na www.aardklop.co.za.