Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aardklop
Aardklop se feesprogram verg ‘fyn dans’

Die saamstel van ’n feesprogram is maar ’n fyn dans wat jy dans, sê Alexa Strachan, bestuurder van die Aardklop Nasionale Kunstefees wat van 2 tot 7 Oktober meer as 30 debuutproduksies aanbied.

Die program is Woensdag in Johannesburg bekendgestel vir die derde Aardklop onder nuwe bestuur. Die fees is vanjaar tydens die Fiësta-teaterpryse as die gewildste kunstefees aangewys.

“Daar is amptelik 27 debute, maar eintlik 30 as ’n mens van die kleiner goed byreken.”

Japie Gouws, direksievoorsitter, Alexa Strachan, feesbestuurder, Bosman Purén, bedryf en finansies, en Delmari van Zyl, borge en bemarking.

Strachan en haar span hou hul oor op die grond na wat gehore verlang.

“Ons praat baie met feesgangers, maar dit is soms moeilik om te peil wat presies in ons gebied sal werk. Die gehore van die verskillende feeste verskil so drasties. Moenie dink omdat iets ’n groot treffer by ’n ander fees was dat dit ook by ons die geval sal wees nie.”

Strachan handhaaf ’n balans tussen waarvan gehore sal hou en produksies wat sy glo by die fees aangebied móét word.

Marina Albertyn, skrywer van die toneelstuk Melk en Vleis, wat in 2017 verskeie pryse by Aardklop ontvang het, is die skrywer van nog ’n debuutteks op vanjaar se fees.

“Ek het dit by die Teksmark raakgeloop en besluit hier is nou ’n jong stem in die toneelbedryf en jy wil so ’n skrywer ’n kans gee.”

Albertyn se toneelstuk Bloed en Bodem is een van die debute en Marthinus Basson is die regisseur.

DEURnis, die een-tot-een-teaterprojek wat ook vanjaar die Blou Fiësta (vir innovering) ontvang het, bied weer splinternuwe kort toneelstukke aan, sowel as ’n nuwe projek 20 voor 2, waar twee spelers voor 20 gehoorlede optree, wat op dieselfde beginsel van DEURnis werk.

’n Mens kan natuurlik nie elke feesganger tevrede hou nie, maar ons probeer om deurgaans in voeling met ons feesgangers se behoeftes en voorkeure te bly.
Alexa Strachan

“Dan is daar maar net goed wat opduik wat dadelik jou aandag trek,” sê Strachan.

“Ek is verskriklik bly dat Nataniël nou vir die eerste keer na ons fees toe kom. Ek probeer al vandat ek by Aardklop begin het. Dan is daar die produksie Huishou (deur Philip Rademeyer) oor twee vroue (vertolk deur Nadia Valvekens en Cintaine Schutte) in ’n verhouding wat ook ’n kind wil aanneem, ek kan my nie herinner wanneer laas ek ’n produksie gesien het oor Afrikaanse lesbiërs nie. ’n Mens sien baie meer toneelstukke oor gay mans.”

Tematies praat seker toneelstukke met Strachan.

“Daar is goed wat net vrek snaaks is. Soos die produksie Lykskou waarin Bouwer Bosch en Je-ani Swiegelaar optree.”

Vanjaar is die verkope van kaartjies – wat Maandag open – na TicketPro verskuif omdat daar soveel meer verkoopspunte – meer as 2 300 – oor die hele land is.

Strachan besef die verantwoordelikheid teenoor die bedryf in die geheel en daarom word slypskole vir teatertegnici weer aangebied.

“Daar is soveel wonderlike teaterkunstenaars, maar die land het regtig ’n behoefte aan mense wat die tegniese aspekte van teater goed ken en verstaan. Dit word weer deur die Noordwes-Universiteit aangebied en die deelnemers ontvang elkeen ’n sertifikaat.”

Weens ’n behoefte aan platforms vir tiener- en studentetoneel in die noorde word die Atterbury Trust Pronkpodium weer aangebied. Die top drie tiener- en studenteproduksies sal aangebied word.

“ ’n Mens kan natuurlik nie elke feesganger tevrede hou nie, maar ons probeer om deurgaans in voeling met ons feesgangers se behoeftes en voorkeure te bly.”

Meer oor:  Aardklop-Kunstefees  |  Kunstefees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.