Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aardklop
Alexa Strachan maak Nataniël ‘bang’
Nataniël tree Dinsdag twee keer by Aardklop op.

Hy probeer om kunstefeeste liefs te vermy, want sy senuwees hou dit nie, sê Nataniël.

Tog gaan die gewilde musikant Dinsdag ’n seldsame opwagting by die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom maak.

“Ek doen dit om twee redes. Eerstens omdat ek ’n bietjie bang is vir Alexa (Strachan, Aardklop-feesbestuurder) en omdat ek nie hoef oor te slaap nie.”

Hy lewer Dinsdag twee vertonings van sy konsert Classic Nataniël in die Beeld-ouditorium.

Charl du Plessis (klavier), Juan Oosthuizen (kitaar), Werner Spies (bas), Peter Auret (tromme), Leon Greyling (viool), Kate Moore (altviool) en Susan Mouton (tjello) deel die verhoog met hom.

“Ek vertel stories, maar minder as gewoonlik,” sê Nataniël.

“Dit is ’n program wat begin by die klassieke komponiste en dan gaan dit dwarsdeur tot by pop, rock en jazz. Dit is die musiek wat die belangrikste was in my hele lewe en die musiek wat ek altyd wou gesing het. Dit dek die hele spektrum van al die musiekgenres. Dit is ’n watermerk vir my as ’n musikant.”

Hy het al voorheen dit in Kaapstad en Johannesburg opgevoer.

Mense het agterna kom sê dat die konsert ’n bewys is dat Nataniël ’n musikant is en nie ’n komediant nie.

“Elkeen kom kyk om ’n ander rede. Party wil kom kyk hoe dik ek is en ander wat ek dra. “Ander wil kom luister na wat ek vertel, hulle wil lag. “Alles is daar, maar die show gaan oor musiek

. Ja, daar ís so ’n paar kostuumveranderinge, maar nie so baie soos gewoonlik nie, maar meer as ander mense.”

Nataniël, ook bekend vir sy Kaalkop-rubriek in Sarie en die televisiereeks Edik van Nantes wat hy saam met sy broer, Erik le Roux, aanbied, het ook sterk menings oor etiket.

“Dit maak my siel dood. Dis beyond irriterend as mense nie goeie teater-etiket het nie.

“Veral by ’n kunstefees. As dit ’n kunstefees is – jy behoort jou te gedra – dis wat my logika vir my sê.”

Pasop as iemand se foon gedurende ’n vertoning raas.

“As jou foon afgaan of ek sien jou SMS in die gehoor, loop jy daar uit met ’n letsel. Dit kan ek jou belowe. Dit is my plig vir al die geslagte wat na my kom.”

Hy het die grootste waardering vir mense wat die moeite doen om sy konserte by te woon.

“Maar vir daardie 90 minute bestaan die res van die wêreld glad nie. As jy ’n dokter is wat spoed, moenie kom kyk nie. As jy bang is jou oppasser gaan jou kind verwurg, bly by die huis. Dis die punt van ’n konsert: dat jy van jou omstandighede vergeet. Dis die hele punt van teater.”

Hy meen goeie teater-etiket is eenvoudig: sit net.

“Jy bad, dan gaan jy teater toe. Dan sit jy. As dit klaar is, klap jy hande en dan gaan jy uit.”

Dit is sy ook sy benadering as hy in die gehoor sit.

“Ek gaan teater toe, want ek is so opgewonde dat ek iets gaan sien. Ek wil nie iets eet of iets vir iemand sê nie. Ek wil net sit en wag dat die gordyn oopgaan dat iemand my lewe verander.”

Vergeet van die res, benadruk hy.

“Kunstefeeste is reeds daar dat kunstenaars kan eksperimenteer, om hul talent of werk tot die uiterste te kan neem wat hulle dalk nie andersins kan doen nie.

’n Kunstefees is juis daar om ’n veilige sambreel te wees waaronder kunstenaars hul grense kan ontdek.”

* Die vertonings is Dinsdag om 17:00 en 20:00 in die Beeld-ouditorium. Dit duur 90 minute met ’n ouderdomsbeperking van 15 jaar. Kaartjies kos R180 tot R200. Bespreek by Ticketpro.

Meer oor:  Nataniël  |  Aardklop  |  Kunstefees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.