Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aardklop
ATKV-Boeke-Oase: Wil jy bly of gly?
Theo Venter lei die gesprek Dinsdag met prof. Philip Spies op die ATKV-Boeke-Oase by Aardklop in Potchefstroom.Foto: Susan Cilliers
Prof. Philip Spies se boek.Foto:

Indien jy oortuig is jy, jou taal en kultuur is onwelkom in Suid-Afrika, moet jy dit oorweeg om te “gly”.

En het jy nie meer respek vir jou volkslied of landsvlag nie, het jy die land eintlik reeds verlaat, het prof. Philip Spies, emeritusprofessor in toekomsstudies, Dinsdag op die ATKV-Boeke-Oase by die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom gesê.

Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se sakeskool, het die gesprek met Spies oor sy boek Afskeid van ’n volk: Op soek na ’n toekoms, gelei. Venter sê Spies kyk met sy boek “diep in die Afrikaner se psige”.

Spies, voormalige direkteur van die Instituut vir Toekomsstudies aan die Universiteit Stellenbosch, het in 2013 die Stalsprys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang vir sy werk op dié vakgebied.

Hy het Dinsdag gesê hy het feite en sy lewenservaringe in die boek gestruktureer uit sy persoonlike oogpunt as Afrikaner. Hy vra die vraag wie die Afrikaner is, waar hy vandaan kom en wat sy rol as ’n minderheid nou is.

Hy meen Suid-Afrika is op ’n naaldpunt weens die ekonomiese krisis en rasseonverdraagsaamheid.

Hy meen Suid-Afrika is op ’n naaldpunt weens die ekonomiese krisis en rasseonverdraagsaamheid. “Indien die situasie nie binne die volgende twee jaar swaai nie, gaan baie mense die land verlaat. Diegene wat oorbly, sal nie die vermoë hê om die situasie te verbeter nie.”

Spies sê diegene wat besluit om nie te “gly” en wêreldburgers te word nie, kán help om die land op te hef deur hul demokratiese reg te gebruik om binne hul plaaslike gemeenskappe saam met ander rasse te werk om mense op te hef en verhoudinge oor kultuurgrense heen te bou.

Theo Venter en prof. Philip Spies Dinsdag in gesprek op die ATKV-Boeke-Oase in Potchefstroom.Foto: Susan Cilliers

“Daar is reeds voorbeelde soos gemeenskappe van verskillende rasse in die Bonnievale-omgewing (in die Wes-Kaap) wat self ’n tegniese skool gebou het. Ons kan net een samelewing word indien ons saamwerk. Wit en swart mense bestee te veel tyd daaraan om met mekaar te baklei.”

Spies sê selfs al slaag ons daarin om korrupsie te verwyder en buitelandse beleggers te lok, gaan dít alleen nie werkloosheid (en ongelykheid) oplos nie. “Ons huidige krisis skep geleenthede om te herbeplan. Die Afrikaners is tradisioneel grondmense wat met die Middeleeuse idee na Afrika gekom het dat grond ons rykdom is. Daarom noem ons onsself ook die Boerenasie en verwys na die Anglo-Boereoorlog.”

Theo Venter en prof. Philip Spies Dinsdag in gesprek op die ATKV-Boeke-Oase in Potchefstroom.Foto: Susan Cilliers

Spies meen egter Suid-Afrikaners se rykdom lê vandag nie meer in grond nie, maar in die vaardighede wat mense in die land het en die samelewing se vermoë om saam te werk. “Albei dié elemente is noodsaaklik om ’n suksesvolle land te hê.”

Die resep vir ’n suksesvolle Suid-Afrika bestaan volgens Spies uit twee hoofbestanddele: interkulturele respek en kultureelgegronde opvoeding.

“Geen goeie onderriginstelling in die wêreld is gesuiwer van enige kultuur nie. Om erkenning te gee aan kulture, word ook in ons Grondwet beskerm. Mense moet reg opgelei en opgevoed word sodat hulle onafhanklik kan wees, vir hulself kan dink en werk kan skep. Dis sulke mense wat ’n land bou, nie mense wat van die staat afhanklik is nie.”

Meer oor:  Theo Venter  |  Philip Spies  |  Atkv-Boeke-Oase  |  Rassisme  |  Apartheid  |  Ekonomie  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.